top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 16 Oktober 2024

Koos Espach


Die sonde en die straf (4)

 

Wie is Jesus?


Rom 1:22-23 – “Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas. 23 In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos ‘n verganklike mens of soos voëls of diere of slange.” (2)

 

Paulus maak nie ‘n moordkuil van sy hart nie. Inteendeel, vanaf vers 18 laat hy die mensdom duidelik verstaan dat God kwaad is, en nie sonder rede nie. Hy is kwaad omdat die mense hulle eie gode geprakseer het in die plek van Hom as die ware God. Die ergste is dat mense daarby voorgee dat hulle verstandig is, maar in werklikheid dwaas is. Dié dwaasheid kom daarin uit dat mense in afgodsdiens verval en dan in die plek van die onverganklike God, allerlei afgodsbeelde vereer. Die beelde wat in die plek van God aanbid word, is die mens se idee van hóé God is. Die duister hart van die sondige mens skep vir homself ’n voorstelling van God wat hy of sy in hulle kop vorm.

 

Ja goed, ons sal moontlik redeneer dat niemand ooit God gesien het nie. Selfs Johannes skryf in sy evangelie dat “niemand God ooit gesien het nie.” Maar dan voeg hy onmiddellik by: “Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak” (Joh. 1:18). Johannes wil ons laat verstaan met wie ons te doen het. Ons moet geen onduidelikheid oor God en Jesus se identiteit hê nie. Dit is noodsaaklik dat ons weet Jesus is die God van hemel en aarde wat daar was nog voor die aarde geskep is (vgl. Joh. 1:1). Dit is hierdie Jesus wat na ons wêreld toe gekom het (Joh. 1:14).

 

“Hy het na Sy eiendom toe gekom, en tog het Sy eie mense Hom nie aangeneem nie” (Joh. 1:11). Aan Israel  is die belofte gegee dat die Messias sou kom. Hulle was Sy “eie mense” omdat Hy met Sy aardse lewe, uit die Jode gebore is. Maar juis die Jode het Hom verwerp – “hulle het Hom nie aangeneem nie”. Deur die koms van die Woord besoek God die mense van die wêreld om aan hulle die kennis van saligheid en verlossing van sondes te bring, maar hulle weier om die Woord te ontvang. Hulle besluit anders. En baie van vandag se mense is deel van die “hulle.”

 

Daar is ongelukkig vandag steeds mense wat vir Jesus vra: “Wie is jy?” (Joh. 8:25). Mense wat hopelik eendag sal besef dat Hy Jesus Christus, ons Verlosser is. Solank hierdie ongelowiges, en baie van ons, net weet dat in God se kalender nie ‘n ‘eendag’ is nie. Ons leef tans in God se genadetyd, net Maandag tot Sondag en Hy is beslis nie ‘n “’n beeld wat lyk soos ‘n verganklike mens of soos voëls of diere of slange”, of selfs ‘n standbeeld of mooi skildery êrens in die wêreld nie. Hy is die lewende, opgestane Jesus. 

 

Op die Corcovado-berg in Rio de Janeiro, Brasilië, is ‘n massiewe Christus standbeeld opgerig sodat al die inwoners in Rio dit gelyktydig kan sien. Daar is egter twee dinge wat vreemd is aan hierdie standbeeld – die oë het nie pupille nie, daar is net twee niksseggende gaatjies. Die tweede vreemde ding is die beeld se hart. Op die buitekant van die beeld se mantel is daar ‘n duidelike hart uitgekerf, ‘n hart van klip. Hierdie twee vreemde verskynsels laat mens onwillekeurig vra: “Watter soort verlosser is dit dié?” Blind en met ‘n hart van klip, sonder liefde, ‘n stuk beton; ‘n blinde en hartelose verlosser – niemand kan tog so ‘n Verlosser wil hê nie!

 

Daar is egter mense wat juis só ‘n Verlosser het, ‘n Jesus wat gerieflik byderhand is wanneer jy Hom nodig het. Maak nie saak of jy Hom regtig ken nie en jy hoef ook nie ‘n verhouding met Hom te hê nie. Al wat nodig is, is dalk om ‘n transaksie met Hom aan te gaan. Vir 52 Sondae ‘n jaar sal jy na iemand luister wat oor Hom preek en in ruil daarvoor soek jy genoeg genade vir ingang tot die hemel. Jy soek ‘n Jesus met wie jy kan onderhandel, die Gewer van alles wat jy vra, Iemand wat iets vir jou kan doen en verkieslik ook net wanneer jy dit so wil hê. ‘n Verlosser wat nie ‘n hart hoef te hê nie en ook nie kan sien nie, want jy sal vir Hom sê wat jy nodig het en vra om nie alles te sien wat jy doen nie. Jy stel nie belang in Sy liefdevolle hart nie en ook nie in oë wat jou lewe kan rig in die regte weë nie. Gelukkig is ons nie so nie, of hoe?

 

“Christus het Sy eie hart gegee: gebroke, verwond, bloeiend; die offerande van Sy liefde, en dit na ons toe gebring as ‘n geskenk. Uit Sy eie lyding, vernedering, smart en worsteling het Hy ons verhef tot ewigdurende oorvloed en voordeel” (Henry Ward Beecher).

 

Gebed: Dankie tog Here, U as ons Verlosser is totaal en volkome ánders as die verlosser-beeld in Rio, of van voëls, of diere of slange. My Verlosser het op Golgota, die plek van verskrikking, met uitgestrekte arms die bordjies vir altyd verhang. U is deur God verhoog om my te red. U deurboorde hande is die bewys van God se liefde en genade vir my as sondaarmens; U oë en gesig was pap geslaan vir my; U was verlaat deur U vriende vir my; U hart ken elke worsteling en hartseer van my; U uitgestrekte arms is gerig na my en U nooi my uit met ‘n belofte: “Kom na My toe – Ek is by jou al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” By die kruis van Verskrikking, het U my bevry en my oë geopen vir God se genade. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page