Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 15 Oktober 2024
Koos Espach
Die sonde en die straf (3)
Laat die onverganklike God se lig in ons lewe skyn
Rom 1:22-23 – “Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas. 23 In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos ‘n verganklike mens of soos voëls of diere of slange.” (1)
Die tragiese geskiedenis van die mensdom is die hartseer verhaal van mense wat God nie werklik as God eer en dank nie (v 21b). “Om God te eer en te dank,” is die wese van die ware verhouding met Hom. Die mens hou homself egter besig om homself die middelpunt van sy bestaan te maak en raak verstrik aan die leuen. Alles draai rondom die ‘self’ en hierdie eiegeregtigheid het selfs so ver gegaan om “in die plek van die heerlikheid van die onverganklike God, beelde wat lyk soos ‘n verganklike mens of soos voëls of diere of slange,” te skep – die mens-godjie op sy eie troontjie! Maar, "die Here ken die gedagtes van die mens en weet dit beteken niks” (Ps. 94:11). Ek en jy moet dus versigtig wees om selftevrede agteroor te sit en vinger wys na die heidene met die gedagte dat ons darem nie soos hulle is nie.
Dit is die oer-domheid van die mens dat hy vanuit sy hart, sy lewenskern, hom nie aan God wil onderwerp nie. Daarom bly hy dwaas en in die duister. Wie die lig van God se openbaring onderdruk deur onwil en dwaasheid, bly in die donker – dan word hulle sonde, ons sonde ook! Dit is die radikale keuse wat elkeen moet maak: Wil ons God toelaat om waarlik God in ons lewe te wees? En wanneer ons met Jesus gekonfronteer word, besef ons dat Jesus se aansprake geen ruimte vir neutraliteit laat nie – ís Hy die lig van (ons) wêreld, of nie?
Jesus van Nasaret ís die Lig wat die duisternis van die mens se bestaan op aarde verlig! Dis onbeskryflik! Daar kan nie baie twyfel wees dat die wêreld waarin ons leef nag-donker is nie as gevolg van die duisternis wat om die gees van die mensdom saampak – ‘n geestelike duisternis, die nagevolge van die sondeval, waarin elke mens op aarde onwillekeurig vasgevang is. Daar heers by sommige om ‘n lewenstyl van sonde te handhaaf en hulleself sodoende meer en meer van God te vervreem. Gedurigdeur dryf hulle innerlike luste hul meer en meer in dieper duisternis in. Sonder om dit ooit te vind, soek die mens die “goeie lewe” dáár waar dit nie te vinde is nie.
Satan en sy bose magte se hoofdoel is om die mens buite die ligkring van God se genade te kry en as hy eers sy voet in die deur gekry het, hou hy nie op met sy pogings totdat die mens hom in die donkerte van sonde bevind nie. Johannes bevestig dit: “En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie” (Joh. 3:19-20). Die vraag wat elkeen van ons egter self moet vra: “Is ek ’n volgeling van Jesus Christus?” Want om die Here se ligglans in my en jou lewe te ervaar moet ons Jesus ken en liefhê.
As ons deur die Gees gelei word om te sê: “Ja Here, ek het U waarlik lief met alles wat in my is,” dan het Hy die Lig wat lewe gee! Wat beteken dit as ons die Lig het wat lewe gee? Dit beteken ek en jy is kinders van die Lig. Iets van God se Lig moet nou deurbreek in ons lewe, in ons gedagtes, ons beplanning, ons besluite en ons dade. Ek en jy moet God kans gee om werklik God te wees en nie ‘n God wees wat óns van Hom wil maak nie, ‘n God wat ons heel gerieflik tot ons voordeel kan manipuleer nie.
Hoe skyn my en jou ligte om die donkerte van die mense wat die Here oor ons pad stuur, te verlig? Hoekom vra ek hierdie vraag? Wel, die rede is omdat dit in God se Woord staan (Matt. 5:14 en 16). Ons kan nie selektief daaroor lees nie. Alles is nie net goeie nuus nie. Petrus skryf: “Gelowiges wat hierdie dinge nie hulle eie maak nie en wat nie voluit vir die Here leef nie, is soos mense met ’n oogprobleem. Hulle kan nie goed sien nie. Nog erger, hulle is heeltemal blind. Hulle het klaar vergeet hoe Christus hulle van al hulle sondes skoongewas het toe hulle tot bekering gekom het” (2 Pet. 1:9 – Die Boodskap).
Ons moet dus seker maak dat ons sig nie ook stadig maar seker deur die wêreld gesteel word en blind raak vir God se genade nie. Ons moet ’n lewe daar buite gaan leef wat vir almal wat in die donker wêreld lewe, die lig só sal laat skyn, dat hulle ook in die lig wil wees.
“Wie een keer in Jesus Christus die spieëlbeeld van God se Vaderhart gesien het, kyk vir die res van sy lewe met nuwe oë na die wêreld” (Martin Luther).
Gebed: Here, hoe kan ek U weerkaats as my gesig nie na U gedraai is nie? Hoe laai ek my geestelike batterye sodat ek as ligdraer vir U kan skyn? Help my asseblief om ‘n lig vir ander te wees sonder om self in die lig te staan. Help my om ‘n verskil te maak in die wêreld Here, ek wil graag U hoop en lewe en lig uitdra na ander sodat hulle ook deel daarvan kan wees. Amen.
Comments