top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 11 Oktober 2024

Koos Espach


Die sonde en die straf (1)

 

God weet alles


Rom 1:18-20a – “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk. 19 Wat ‘n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring. 20 Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie.”

 

Paulus toon nou aan dat daar ’n diepe nood is waaruit mense verlos moet word. Hy voel gedwonge om sy boodskap van genade in Rome te gaan verkondig, aangesien dit ‘n krag tot saligheid is en die geregtigheid van God daarin geopenbaar word. So min as wat die moderne mens ’n besef van sonde het, so min het die antieke mens in Paulus se tyd dit gehad. Daarby het die mens van alle tye geen besef dat God kwaad is oor die sonde, as dit nie uitdruklik deur die prediking uitgespel word nie. Paulus begin dus deur te verklaar dat die “toorn van God” uit die hemel oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense openbaar word.

 

God se toorn is sy heilige reaksie op die opstand teen en verwerping van sy wil. God is regverdig, maar ook ‘n God van liefde! Dat God oor die sonde kwaad is, is nie in stryd met Sy liefde nie, inteendeel, dit is die teenkant van sy liefde. Mense wat in ongeregtigheid leef, verontagsaam die waarheid aangaande God en sy wil vir die mens, en die waarheid speel geen rol in die mens se lewe nie.

 

Dat die mens goddeloos is, is nie die gevolg van onskuldige onkunde nie, maar van opsetlike oortreding. Dit geld nie net vir die heidene nie, al het hulle niks van die Tien Gebooie geweet of oor die openbaringsboeke van die Ou Testament beskik nie. Álmal is aan God op die een of ander manier ongehoorsaam! En die feite is, mense kan nie sê dat hulle by God verby gelewe het nie. Trouens, wat ’n mens van God kan weet, was binne ons bereik, al kan ons God nie sien nie, ons het die “pragboek” van God van die begin van die wêreld af gehad – sy skepping. “Elke mens behoort vanuit die skepping van God en vanuit sy werke aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is.”

 

Twee duisend jaar gelede het Paulus aangetoon daar is ‘n diepe nood waarin die mense verkeer het waaruit hulle verlos moes word. Die mens van alle tye besef nie dat God kwaad word vir sonde nie. Ons is soms geneig om te praat van ‘groot’ sondes en ‘klein’ sondes – klein sondes wat afgemaak word as, ag-dis-nie-so-erg-nie! Daar is ‘n ou spreekwoord wat lui: “Daar is geen onderskeid tussen groot slange en klein slange nie, almal is slange.” Dit laat my dink aan Adam en Eva en die slang. God het uitdruklik beveel hulle mag nie van die boom in die middel van die tuin eet nie. Hulle maak toe of God nie ernstig was met sy reëls nie en hulle éét! En hulle weier om die skuld te dra – dis die slang se skuld.

 

Is ons nie maar dieselfde nie? Ons leef asof God se reëls nie vir ons bedoel is nie. Neem nou maar verkeersreëls. Ja goed, dis dalk nie God se reëls nie maar die staat s’n. Ek dink verkeersreëls het ‘n stille dood gesterf. Dit moet wees, want niemand is gepla oor ‘n rooi lig of ‘n stopteken nie. Die spoedgrens is net vir mense op fietse. Maar wanneer daar ‘n ongeluk gebeur, is ons verskriklik kwaad – een van die reëls is oortree – en ons bars in woede uit. Nou word dit deel van die Here se reëls. Sy skepsel is beseer of het dalk gesterf! Sy ander skepsel wat in woede uitbars, reageer asof hy of sy nie deel is van die Liggaam van Christus nie. Eintlik is ons maar weer Adam en Eva – dis nie ons skuld nie, dis iemand anders s’n.

 

Dit word vertel van Bill wat van ‘n hoë steier afval by sy werk. Hy oorleef die val en vertel sy familie en vriende wat hom in die hospitaal besoek van sy nare ondervinding wat hy tydens die val beleef het. Een van die vriende wil toe weet of dit waar is dat al sy sondes van die verlede verby sy geestesoë geflits het terwyl hy geval het. Bill antwoord: “Nee, ek het net 30 meter geval, nie 30 kilometer nie.” Bill het nog ‘n kans gekry. Hy kon wegvlug van die oorblywende sondes tussen 30 meter en 30 kilometer. Hy hoef nie meer die “waarheid van sonde deur ongeregtigheid te onderdruk” nie.

 

Net so kan ek en jy dit ook doen. Ons kan nie ons sondige keuses op iemand anders blameer nie, nie eers op die duiwel nie. Dis mos óns verantwoordelikheid om te doen wat reg is en wegvlug van die sonde af. Al struikel ons soms, kan ons steeds die regte pad na Jesus toe vat.

 

“Alle sonde is in wese ‘n versuim om eer aan God te betoon. Dit is om enigiets liewer te hê as vir God”

(Rick Warren).

 

Gebed: Here ek dink so baie daaraan dat wanneer ek verkeerde dinge doen wat ek nie moet doen, dit my nie sal inhaal nie. Niemand weet mos daarvan nie. Baie dankie dat U vir my dan sê om versigtiger te lewe. Amen.

Comentarios


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page