top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 9 Oktober 2024

Koos Espach


Paulus se dank, verlange en verpligting (7)


Vrygespreek omdat ons glo

 

Rom 1:17 – “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: ‘Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” (1)

 

Om gered te word, moet ’n mens in die gerig van God vrygespreek word. Dit het die Jode goed geweet. Hulle het egter gemeen dat ’n mens deur die wet en al die voorskrifte daarvan te onderhou, ’n graad van geregtigheid kan bereik wat jou voor die gerig van God as regverdig kan laat kwalifiseer, sodat jy dan op grond daarvan vrygespreek kan word. Dit sou dan ’n vryspraak op grond van jou eie verdienste of van jou eie inherente kwaliteite wees. Paulus sê egter dat dit totaal onmoontlik is.

 

Die evangelie wat hy preek, is juis dat dit in Christus geopenbaar is dat ’n mens sonder verdienste gered word, enkel en alleen omdat God jou in sy gerig ter wille van die verdienste van Christus vryspreek en regverdig verklaar. Maar dan moet ’n mens dit glo. Geloof is die enigste wyse waarop ’n mens deel kan ontvang aan die vryspraak in God se gerig, omdat jy daardeur jou plek in Christus inneem en deur sy geregtigheid en heiligheid toegedek word. Dit gaan in die vryspraak op grond van die versoeningswerk van Christus dus nie om die verdienste van die mens nie, maar enkel en alleen, uitsluitend om die geloof.

 

Die Middeleeuse Katolieke Kerk was op een punt reg. Die enigste manier waarop ons as sondaars ooit ewige gemeenskap met God kan beleef, is as ons voor God vrygespreek kan staan. Die Katolieke leer het voorgestel dat ons goeie dade ons pad na geestelike volmaaktheid sal lei. Terwyl God sy deel deur die heiligmakende genade van die sewe sakramente van die Katolieke Kerk doen, (wat nie nou vir ons doeleindes belangrik is nie), werk die mens deur goeie dade saam aan hierdie toenemende regverdigheid. Martin Luther was diep ontsteld oor hierdie leerstelling!

 

Vra vir Martin Luther wat gebeur as weerlig ‘n mens twee maal tref! Hy het as regstudent in Julie 1505 buite rondgeloop. ‘n Weerligstraal het die grond naby hom getref wat hom teen die grond geslinger het. Uit vrees belowe hy om ‘n monnik te word. Hy staak sy studies as regstudent en sluit by ‘n klooster aan. Maar hy was rusteloos. Hoe meer hy van God geleer het, hoe onwaardiger het hy gevoel. Hy het dae lank gevas en gebid, ure lank sy skuld bely, maar gevoel dat hy nooit deur die Here aanvaar sal word nie. Na jare se worstel met hierdie onsekerheid, is hy weer deur weerlig tot sy sinne gebring. Hierdie keer het die weerlig hom getref, die weerlig van God se Woord, die Woord van die Waarheid!

 

Martin Luther skryf die volgende: “Ek het geen liefde gehad vir daardie heilige en regverdige God wat sondaars straf nie. Ek het Hom gehaat omdat Hy nie daarmee tevrede was om ons arme sondaars met die wet en die ellendes van die lewe die skrik op die lyf te jaag nie, en ... ons pynigings nog meer vererger met die evangelie ... Maar toe ek deur die Heilige Gees die boodskap werklik begin verstaan het – toe ek ingesien het hoe die regverdigmaking van sondaars voortvloei uit die genade van God deur die geloof ... het ek soos ‘n nuwe, weergebore mens gevoel ... Waarlik, Paulus se woorde in Romeine 1:17 was vir my soos die poort na die Paradys.” Hierdie skokkend-blye boodskap dat God elke mens wat glo, uit genade vryspreek en nie uit goeie werke nie, het die wekroep van die Hervorming, vyf honderd jaar gelede, geword.

 

Wat het gebeur? Luther het ontdek dat daar niks is wat ‘n mens kan doen wat jou vir die Here aanvaarbaar sal maak nie. Ons moet nie eers goed word en dan na die Here toe gaan nie. Ons kan maar na Hom toe gaan as ons sleg is, net soos ons is, dan maak die Here ons goed. Geloof in Jesus Christus ons Here maak my en jou waardig om ‘n kind van God te wees sê Johannes: “Aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12). Dis geloof wat maak dat ons vrygespreek word en die hemel ingaan. Ons moet glo dat Jesus is wie Hy gesê het Hy is, naamlik die Seun van God. Ons moet glo dat dit Hy is wat vir ons sondes gesterf het en op Paassondag uit die dood opgestaan het.

 

Ek en jy glo die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat ons glo. Ons bou nie ons geloof op gevoelens nie, maar op God se beloftes: “As (ek en jy) met ons mond bely dat Jesus die Here is, en met ons hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal ons gered word” (Rom. 10:9). Let daarop dat hierdie vers nie sê ons ‘kan’ gered word nie, maar ons ‘sál’ gered word. Is dit nie wonderlike nuus nie? Ons kan in hierdie oomblik met sekerheid weet dat Jesus die Here van ons lewe is. Ons kan met sekerheid weet indien ons nóú sterf, gaan ons hemel toe! Daar is nie so ‘n ding dat ons te stukkend vir die Timmerman van Nasaret is nie. Hy het ons klaar reg ‘getimmer’. Hy wil ons red. Ons is klaar gered! Kom ons bely dit sommer nou met ons mond, en glo dit met ons hart!

 

“’n Gelowige is iemand wat deur geloof reg gedokter is” (Ds. Jacie van Rensburg).

 

Gebed: Here, ek bely met my mond en ek glo met my hele hart, dat daar niks is wat ek kan doen om my meer aanvaarbaar vir U te maak nie. U het uit genade álles klaar vir my gedoen. Dankie dat U die Here van my lewe is. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page