Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 8 Oktober 2024
Koos Espach
Paulus se dank, verlange en verpligting (6)
Leef vir My, leef nét vir My
Rom 1:16 – “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood.” (2)
Vergelyk ook 2 Tim. 1:8 – “Moenie skaam wees om oor die Here te praat nie, net so min as wat jy skaam hoef te wees dat ek, as jou vriend, ter wille van Hom hier in die tronk sit. God sal vir jou die krag gee wat jy nodig het om die swaarkry wat Christenskap mag bring, saam met my te kan verdra. God het ons mos weer sy vriende gemaak en gevra om net vir Hom te leef” (Die Boodskap).
Ons kon al tydens ons studie van Handelinge, vanaf hoofstuk 13 waar hy op sy eerste sendingreis sy eerste preek lewer oor Jesus as die Verlosser, waarneem dat Paulus hom nie skaam oor die evangelie nie. In Handelinge preek hy hoofsaaklik vir mense wat nog nie in Jesus glo nie, maar in sy Briewe skryf hy vir gemeentes, gelowiges, oor die vrug van sy sendingwerk in Handelinge. Ons het dan ook ervaar hoe Paulus die stampe en stote van veral die Jode, sy eie volksgenote, moes verduur na aanleiding van sy preke waar Jesus Christus en God die groot ‘onderwerpe’ was. Hy het veral geweldige reaksie gekry van die Jode én heidene (nie-Jode), oor sy verkondiging van Jesus as die Messias wat opgestaan het uit die dood – dié evangelie!
In ons vergelykende teksvers praat Paulus soos ‘n pa met ‘n jong Timoteus wat hom so nou en dan oor sy geloof geskaam het. Timoteus het besef dat dit glad nie ‘n goeie ding is om ‘n Christen te wees nie. Dit was nie ‘n maklike saak nie, want om Christen te wees, het beteken jy moet jou familie se geloof die rug toekeer, en al die gode van die Romeinse Ryk, vanaf die magtige Zeus tot by die keiser, wat dikwels ook as ‘n god vereer is, afskryf.
Nou mag jy dalk vra: Wat het dit met ons te doen? Alles! Net soos Paulus en Timoteus, weet ons mos dit is nie altyd maklik om Christen te wees nie en daarom bly ons eerder stil wanneer daar oor geloof gepraat word. Ons kry eintlik skaam om oor Jesus te praat. Geld dit vir jou ook wat hier lees? Kry jy swaar omdat jy ’n Christen is? Gaan jy ’n heelwat ligter lewe leef as iemand jou nou sê jy kan jou Christen-lidmaatskap bedank? Ervaar jy ook die aanvalle van die duiwel by die werk, in jou besigheid, in jou huwelik, by die skool, omdat ander weet dat jy ’n lewende verhouding met Jesus Christus het? Ja, daar is baie plekke waar die duiwel ons kan slaan om ons spoed te breek. Nie een van God se kinders gaan swaarkry en moeilikheid misloop nie, Jesus het ons mos gewaarsku (Matt. 10:16 ev).
Trouens, dit het al in die tuin van Eden begin (Gen. 3). Die impak wat die sonde in die tuin van Eden gehad het, was die grootste ramp wat die mens nog ooit getref het. Ja, daar was al groot rampe in die wêreld – oorloë, al die groot natuurrampe en nog baie meer. Die rampe het net die mense geraak wat daarby betrokke was. Die ramp van die sondeval raak egter elke liewe mens op aarde, ’n baie groot invloed wat die mensdom vir die res van ons bestaan baie negatief beïnvloed. Dus is die sondeval die grootste ramp wat die mens kon tref. Die keuse wat die mens, man en vrou, gemaak het om teen God op te staan en sy eie wil te volg, het ’n groot hindernis tussen die mens en God gebring. Die mens was verlore en die dood was elke keer sy voorland. God en die mens was vyande.
Maar gelukkig is hier ook ’n groot stuk troos: “God sal ons krag gee om deur die swaarkry” staande te bly. Die belofte is nie dat Hy die swaarkry sal wegneem nie. Nee, Hy sal ons eerder help om daardeur te kom. God, die Almagtige, sal my en jou, kleine mensies, help om deur ons swaar te kom! Wat ‘n kragtige belofte! Ek en jy kan moed skep. Behalwe die feit dat God bewus is van elke ding in ons lewe, weet ook dat God saam met ons is in die stryd, “God het ons mos weer sy vriende gemaak en gevra om net vir Hom te leef.”
So ’n eenvoudige sinnetjie, maar tog die beste, grootste, verlossende nuus waarop ons ooit kon hoop. Die vyandskap wat daar tussen ons en God was, het Jesus met die kruis kom uitvee. Die groot ramp wat op ons elkeen gewag het, het God en Jesus kom verander. Die hel met die ewige vuur is nie meer in die prentjie vir ons wat nie skaam is om oor die Here, oor die evangelie te praat nie. Timoteus moes opnuut leer dat daar nie ‘n maklike pad hemel toe is nie. Ek en jy moet dit ook besef. Ons moet egter toegewyd aan Christus bly, ten spyte van al die stampe en stote wat ons soms ervaar.
Ons Godsdiens behoort nie ‘n gespreksonderwerp te wees wat taboe is nie. Ek en jy mág nie skaam wees om die wonders van ons Verlosser te verkondig en te erken dat Hy die Here van ons lewe is nie. Hy vra vir ons: “Leef vir My! Leef nét vir My!” Dis wat ons moet doen. Elke dag. Elke oggend as ons opstaan moet ons een doel voor oë hê en dit is om met alles in ons net vir die Here te leef. Eintlik is dit maar min gevra vir Hom wat ons kom red het en die vyandskap tussen ons en God verander het. Kom ons laat toe dat ons dankbaarheid die stuur oorneem sodat ons met alles in ons net vir God sal leef – ons eindbestemming is immers gewaarborg.
“Wanneer Christus in ons leef deur sy Gees, sal ons geseënde merke laat op die lewe van ons medemens, nie vanweë die skoonheid van ons karakter nie, maar vanweë Syne” (Anoniem).
Gebed: Jesus, ek wil graag só leef dat U kan sien hoe dankbaar ek is vir wat U vir my gedoen het. Ek wil in gehoorsaamheid leef en U deel maak van my hele lewe. Praat deur my sodat mense die eggo’s van u stem sal hoor. Doen dit deur die genadige werking van U Gees. Amen.
Comments