top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 4 Oktober 2024

Koos Espach


Paulus se dank, verlange en verpligting (4)

 

Elke Christen is ‘n posbode van God

 

Rom. 1:13-15 – “Broers, ek wil hê julle moet weet dat, hoewel ek tot nog toe verhinder is, ek my dikwels voorgeneem het om julle te besoek om ook by julle, net soos by die ander heidennasies, mense vir Christus te wen. 14 Ek staan onder ‘n verpligting teenoor Grieke en nie-Grieke, teenoor ontwikkeldes en ongeleerdes, 15 en vandaar my begeerte om ook aan julle in Rome die evangelie te verkondig.”

 

Vergelyk ook 1 Kor. 9:17 – “As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my ‘n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie!”

 

Paulus het nie net gebid om na Rome te mag gaan nie, hy het hom dit dikwels voorgeneem om na hulle te gaan om die evangelie te gaan verkondig. Naas die twee redes wat hy reeds genoem het vir sy begeerte om na Rome te gaan (om aan hulle ’n geestelike gawe mee te deel en deur hulle versterk te word), noem hy nou ’n derde: ‘om ook by hulle (in Rome), net soos by die ander heidennasies, mense vir Christus te wen.’ Die Grieks lui letterlik, een of ander vrug daar in te samel, d.w.s om mense na Christus te lei. Hy het self God se genade ontvang en hy beleef die wonder daarvan, daarom kan hy nie anders as om hierdie genade met ander te deel nie, aan álle mense die evangelie móét verkondig!

 

Die feit dat Paulus begin deur hulle as ‘broers’ aan te spreek, moet ons natuurlik verstaan teen die agtergrond van die destydse siening dat die vrou ingesluit word by die sosiale eenheid waarvan die man slegs die hoofverteenwoordiger was. Hy waardeer die werk wat Christensusters doen vir Christus net soveel as wat die Christenbroers dit doen.

 

Paulus beklemtoon dat hy teenoor álle mense, hoe en wat hulle ook mag wees, ‘n verpligting het. ‘Grieke en nie-Grieke’ is ’n samevattende uitdrukking vir die twee groepe waaruit die mense destyds vanuit Griekse oogpunt bestaan het. Vir die Grieke en Romeine, het verskille in status, kultuur, beskawing en geleerdheid, geweldig saak gemaak. Die Grieke het hulself as die ‘ontwikkeldes’ of beskaafdes beskou en álle nie-Grieke, as ‘ongeleerdes’ of barbare geminag. Vir God maak status of kultuur of enige ander verskille, geen saak nie, alle mense is sondaars wat die evangelie nodig het. Dit geld ook vir die hedendaagse ‘broers en susters’ wat nie kerk toe gaan nie omdat daar te veel skynheiliges is. Wel, daar is plek in die kerk vir elkeen van hulle ook!

 

Paulus het ‘n verantwoordelikheid gehad wat hy end-uit moes uitvoer: ‘Om die evangelie te verkondig omdat hy móét! En wee hom as hy dit nie doen nie!’ Geen verpligting is op hom afgedwing nie. Hy wóú dit nie anders gehad het nie, want hy was oortuig dat die Heilige Gees dit in sy hart gelê het! Daar is niks wat Paulus meer verheug het as om te sien hoe die evangelie by die regte adres aankom nie; hoe mense hulle rykdom in Christus besef en daaruit lewe; hoe mense in geloof onwrikbaar daaraan vashou; hoe hulle vrugdraende dienaars van God word. Hy het onder ‘n Goddelike móét gestaan, hy kón nie anders nie want hy wóú nie anders nie!

 

Arbeiders in diens van die Here verskil van mekaar in oorleg en opdrag, maar saam werk ons vir dieselfde groot saak, naamlik die koninkryk van God. Ons beoordeel mekaar dikwels op die uiterlike en menslike vlak; ons kyk na geografiese afkoms of bloedlyn. Ons plaas mense in groepe op grond van uiterlike of ander gewoontes en volgens óns keuse en óns keurlysie, en dit bring dan ook skeiding. Dit veroorsaak konflik, dit maak dat mense soortgenote opsoek – dié wat soos ek en jy is en lyk.

 

Ons moet leer om met heeltemal ander oë na mekaar te kyk, met Jesus-oë kyk en sy gesindheid openbaar. Nie uit watter volk iemand afkomstig is nie, maar uit watter Bron drink hy of sy? Nie watter familiebloed stroom deur hulle are nie, maar watter Water stroom deur hulle lewe. Nie hoe lyk hulle uiterlike nie, maar is hulle ‘n kanaal van die Heilige Gees. En dan kom daar ware herkenning, dán vind ons mekaar by die gesamentlike Bron waar geen onderskeid is nie: Jesus Christus – daar waar elkeen van ons die sondaars is waarvoor Jesus sy lewe kom aflê het. Daar word ons saamgebind deur gemeenskaplike blydskap en aangespoor om elkeen op sy eie terrein en manier, getrou die evangelie verder te dra. In die proses saai sommige en ander oes, tog bly dit dieselfde oes van die Here. Stuur net die Goeie Nuus aan!

 

"Om die Goeie Nuus van die evangelie te hoor is slegs die begin. Die res van my en jou lewe is ons reaksie daarop” (William Countryman).

 

Gebed: Jesus Christus, hier is ek, sondaarmens, gebruik my. Vul my uit genade met U Gees. Maak my betrokke in U saailand. Ek wil graag ander vertel van die Goeie Nuus oor die ewige lewe. Amen.

コメント


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page