Gedagte vir Vandag
Donderdag, 3 Oktober 2024
Koos Espach
Paulus se dank, verlange en verpligting (3)
Eenheid in die liggaam van Christus
Rom. 1:11-12 – “Ek sien baie daarna uit om julle te besoek, want ek wil ‘n geestelike gawe aan julle oordra om julle te versterk. 12 Ek bedoel dat, as ek by julle is, ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle s’n en julle deur myne.”
Vergelyk ook 1 Kor. 12:12; 27-28; 31 – “Net soos die liggaam ‘n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus. 27 Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan. 28 En in die kerk is daar mense aan wie God ‘n bepaalde taak gegee het. 31 Lê julle toe op die beste genadegawes.”
Paulus verlang om die gemeente te sien. Hy wil graag ’n geestelike gawe aan hulle oordra om hulle te versterk. Hy wil nie net óór hulle praat nie, maar ook mét hulle. Die geestelike gawe is ’n geskenk of seën van die Heilige Gees wat die gemeente innerlik sal versterk vir hulle lewe en getuienis in die wêreld. Hy is daarvan oortuig dat hy uit die onuitputlike rykdom van die evangelie iets sal hê om aan die gelowiges in Rome, mee te deel.
Omdat Paulus homself nie beskou as ‘n tipe ‘super-gelowige’ nie, voeg hy dadelik by dat hy ook baat sal vind by die besoek aan die gemeente en dat hy en die Romeinse gelowiges mekáár sal bemoedig – wedersydse bemoediging. Al is Paulus ’n apostel wat nie die evangelie van mense af ontvang het nie, maar deur ‘n openbaring van Jesus (Gal. 1:12), staan hy nie bokant die gemeente, trouens, hy het niks om oor homself te roem nie (2 Kor. 12:5). Hy het die behoefte aan die gemeenskap van die gelowiges, en daardeur in die geloof, versterk kan word. Net so het elke gelowige wat aan Christus behoort, ‘n plek in die gemeente. As deel van die liggaam van Christus, het elkeen ‘n funksie om te vervul in die gemeente, al is dit hoe klein.
Talle gelowiges vergelyk hulle geloofslewe met dié van ander gelowiges, veral met dié, wat volgens hulle, ‘n soort dinamiese geloof besit – die super-gelowiges van die gemeente! Die gevolg daarvan is dat hierdie, sogenaamde ‘minder-gelowiges’, in hulle spreekwoordelike dop kruip en besluit dat hulle eintlik geen werklike geestelike krag besit nie. Dit is natuurlik ‘n totale verkeerde veronderstelling. Alle gelowiges speel in die dieselfde ‘span van Christus’ en het as die “gemeenskap van gelowiges”, mekaar nodig om in die geloof te bemoedig.
Wanneer Christene se geloof ontkiem, put ons almal uit dieselfde Bron van Krag: die Gees van God! En dit is die geestelike gawe wat Paulus hier na verwys. Geeneen van ons is hoegenaamd ‘n geloofsreus nie en daarom het elke Christen, ‘n unieke krag ontvang van die Gees om sy spesifieke gegewe gawe(s), aan te wend. Dit is ook verkeerd om die krag van die Heilige Gees in ons eie lewe met ‘n ander te vergelyk. God ken die mens: “Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van ‘n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is” (Joh. 2:25), en daarom is dit nodig om God toe te laat om deur Sy Gees, Sy krag deur mý én jóú lewe te openbaar op ‘n manier wat uniek is aan óns persoonlikheid. Ons is immers nie dieselfde geskep nie.
Paulus sé “julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan. En in die kerk is daar mense aan wie God ‘n bepaalde taak gegee het.” Elkeen van ons het ‘n gawe van die Here ontvang. Ons moet dit dan so gebruik dat ons die Here daarmee sal verheerlik. Ons kan begin om met ander gelowiges mee te leef, om te gee vir mekaar. Begin daar waar dit vir ons gemaklik is – Bybelstudie en huisgodsdiens met ons familie! En wanneer ons begeer om in hierdie nuwe geestelike lewe te wil groei, bid dan tot die Gees en vra dat Hy ons tot hulp sal wees.
Ek en jy vervul ‘n onmisbare funksie in die kerk. Van God, kom geloofsgroei en eer, mag en krag. God maak ons groot en sterk maar laat ons nederig bly, regtig klein voor die Skepper wat soveel in ons insit. Dit laat ons bid om altyd in die regte verhouding met God te leef, om te gee vir ander en nooit moed te verloor nie. Om te bid vir ander in nood, is ‘n wonderlike gawe. Kom ons maak gebruik daarvan. Dit is altyd wonderlik om die vergewende liefde van ons lewende Christus te deel en te ervaar!
“Daar is ‘n bron van krag wat sterker is as enige teleurstelling, bitterheid of ingebore wantroue. Daardie krag is Jesus Christus wat vergifnis en versoening vir die wêreld met Sy bloed gekoop het” (Pous Johannes Paulus II).
Gebed: Heilige Jesus, vernuwe my lewe deur U inwonende Heilige Gees. Dankie dat my geloof U verheug, al is dit so groot soos ‘n mosterdsaadjie. Dankie dat U my gekies het om deel te kan wees van U span. Laat my toe om asseblief my gawes in U span so te gebruik dat ek U altyd sal verheerlik. Amen.
Comments