top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 2 Oktober 2024

Koos Espach


Paulus se dank, verlange en verpligting (2)

 

Bid, God kan waar ons nie kan nie

 

Rom. 1:10 – “Elke keer as ek bid, vra ek God of Hy dit nie uiteindelik vir my moontlik wil maak om julle te besoek nie.”

 

Ons het gister genoem dat Paulus voortdurend vir ’n geleentheid gebid het om na Rome te kan gaan. Tog wil hy nie gaan as dit nie God se wil vir hom is nie. Hy het sy hele lewe deur God se wil laat bepaal, al neem dit hóé lank om ‘n antwoord te kry. Wel, God het Paulus se gebed om na Rome te gaan ‘n hele paar jaar later verhoor! Hy is uiteindelik Rome toe, maar op heeltemal ‘n ander manier as wat hy gehoop het. In Handelinge 27 en 28 lees ons dat hy as gevangene per skip na Rome is omdat hy hom op die keiser beroep het. Die skip het na twee weke deur ‘n geweldige storm naby die eiland Malta gestrand. Na drie maande op die eiland is hulle met ‘n ander skip verder. Naby Rome is hy per voet tot in Rome.

 

God hoor altyd ons gebede, maar verhoor dit soms op ‘n totaal ander manier as wat ons gereken of gehoop het. Ook maar goed so want ons kortstondige begeertes kan soms selfsugtig wees en ons dalk êrens in die skande steek. Ons moet een ding besef: ons moet bereid wees om te wag vir God se antwoord. Ons kry die antwoord nie altyd onmiddellik nie, God verhoor gebede op sý tyd en op sý manier. Én, baie keer is God se antwoord nie dié antwoord wat ons graag wou hê nie, máár, en daarvan kan ons seker wees, dit is altyd die regte antwoord vir my en jou!

 

Daar is honderde boeke geskryf oor gebed, en nie een bevat ‘n kitskursus in hóé om te bid nie. Sover ek weet, sukkel almal die een of ander tyd met gebed. Om te bid is nooit maklik nie. C.S. Lewis bely dat gebed lastig is en ons maklik ‘n verskoning uitdink om nie te wil bid nie – dit help tog nie; niks gebeur nie; dis teen die plafon vas; God luister nie; ek weet nie hoe om te bid en wat om te sê nie; en die lys van verskonings om nie te bid nie, word langer elke dag. F.B. Meyer sê die grootste tragedie in die lewe, is nie die gebede wat verhoor word nie, maar dié wat nooit gebid word nie!

 

As ons vandag vir Jesus sou vra om ons te leer bid soos sy dissipels gevra het in Lukas 11:1, sou Hy moontlik gesê het: “Bid! Ek het julle geleer in Matteus 6 en Lukas 11.” Jesus se dissipels van destyds het besef dat hulle ‘n tekort in hulle geestelike mondering het, toe gaan skryf hulle in by Jesus se gebedskool. Natuurlik, Jesus is die beste Leermeester en gee toe aan hulle die Onse Vader as modelgebed. Maar dis nie ‘n gebed wat elke dag oor en oor opgesê moet word nie, want dit kon spoedig in ‘n ritueel verander wat eintlik niks beteken nie – ons bid maar omdat ons van kleins af geleer is om te bid. Nee, Hy het hulle laat verstaan, gebed is ‘n tweegesprek met die lewende God self!

 

Jesus het hulle geleer dat God graag na gebede luister. En die goeie nuus is dat ons nie eers ‘n afspraak hoef te maak nie. Ons val sommer net daar in. Sy deur staan altyd oop. Ek meen, dis mos nie nodig om lank voor die tyd ‘n afspraak te maak nie, dis dan ons Pa! Ons hoef nie eers op te dress, of te gaan stort nie. Dis nie nodig om hoë woorde te gebruik of in ‘n ander taal te probeer praat nie, Hy verstaan Afrikaans. Is dit nie aangrypend nie? Die God van hemel en aarde stel daarin belang dat ek en jy met Hom moet praat, op ‘n intieme manier. Natuurlik nooit familiêr nie. God bly steeds die Almagtige God. Hy word nie skielik die ‘ou toppie’ daarbo of die ‘ou’ waarmee ons kan skouers skuur nie.

 

Toegegee, God weet wat in ons harte aangaan, maar Hy wil nogtans hoor dat ons Hom genoeg vertrou om ons harte voor Hom uit te stort. Eintlik wag ons Vader angstig op ons kuiertjies. Hy hou daarvan om ons stem te hoor. Hy glimlag as Hy van ons liefde hoor wat ons vir Hom het. Hy kan nie wag om van ons probleme en struggles te hoor nie. Hy wil hoor dat ons Hom nodig het en Hom vertrou om aan ons behoeftes, volgens sy wil te voorsien. Hy wil hoor wanneer ek en jy gestruikel het sodat Hy dit kan regmaak. Hy is altyd op die uitkyk vir ons. Hoekom besoek ek en jy Hom nie sommer nou nie?

 

“Dit is die allerbeste teken wanneer as antwoord op ons gebede skynbaar die teenoorgestelde gebeur. Net soos dit ook geen goeie teken is as antwoorde op ons gebede alles na wense verloop nie” (Martin Luther).

 

Gebed: Here, my God, dit is vir my wonderlik om te weet dat U elke oomblik van die dag of nag daar is om te luister wanneer ek U mag nodig kry. Dankie dat U presies weet wat ek nodig het, en tog nog geduldig wag om na my te luister. Baie dankie vir die geleentheid om nou met U te kan praat. Maak dit baie stil in my, sodat ek U stem helder sal hoor. Tot U eer. Amen.

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page