top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 1 Oktober 2024

Koos Espach


Paulus se dank, verlange en verpligting (1)

 

Wag op God se antwoord

 

Rom. 1:8-10 – “Allereers dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal, want in die hele wêreld praat die mense oor julle geloof. 9 God, wat ek met hart en siel dien deur die evangelie van Sy Seun te verkondig, is my getuie dat ek gedurig in my gebede aan julle dink. 10 Elke keer as ek bid, vra ek God of Hy dit nie uiteindelik vir my moontlik wil maak om julle te besoek nie.”

 

Vergelyk ook Matt. 6:10b – “Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”

 

Paulus se hart klop warm vir die jong gemeente in Rome wat hy nog nooit gesien het nie. Dit het behoorlik gegons onder die gelowiges en daar was groot blydskap oor hulle “broers en susters in die geloof.” Vir die gelowiges was dit ‘n wonderwerk dat die voortgang van God se koninkryk, selfs in hierdie strategiese hoofstad, plaasgevind het. Die bestaan van ’n gemeente in Rome, as die hoofstad van die Ryk, was ongetwyfeld vir die Christene dwarsdeur die destydse “bewoonde wêreld” ’n rede van groot vreugde. As die evangelie Rome verower, sou dit geweldige betekenis vir die Christendom hê.

 

Daarom is die behoefte by Paulus wakker gemaak om hierdie jong Christene te besoek. Paulus roep God as getuie dat hy gedurig in sy gebede aan hulle dink – hy neem sy lesers as’t ware na sy binnekamer. Hy bid voortdurend vir ’n geleentheid om na Rome te kan gaan. Tog wil hy nie gaan as dit nie God se wil vir hom is nie. Sy hele lewe laat hy deur die wil van God bepaal. Vir hom speel voorbidding ‘n baie belangrike rol.

 

Dit bring ons by die vraag: Watter plek neem voorbidding in ons gebedslewe in? Kan byvoorbeeld my en jou familie, vriende en selfs medegelowiges daarop reken dat ons vir hulle intree by God? In teenstelling met Paulus, is daar ongelukkig vandag gelowiges wat met hulle gebede te koop loop. Hulle sien nie graag af van hulle eie wil nie en dus bots die sondige wil van die mens met God se onveranderlike en volmaakte wil. Wanneer hulle dus bid dat God se wil moet geskied, moet hulle hulself verloën. Dit stel hulle voor ‘n keuse: óf te buig voor God en sý wil te gehoorsaam, óf in verset teen God hulle eie wil te doen. Dit is dan dat die gebed nie is dat ons Vader se wil moet geskied nie, maar eintlik eis ons dat Hy ons gebed moet goedkeur.

 

Hoe kom die mens dan sover dat sy eie wil vervang word met die wil van God? Om Jesus te volg in gehoorsaamheid aan die wil van ons Vader, deur die genade van God alleen. Om by God te pleit dat ons ons eie wil prysgee om aan Sy wil wat goed is, sonder enige teëpratery, gehoorsaam te wees. Geen maars nie!

 

Om ‘n gelowige volgeling van Christus te wees, is ‘n liefdesverhouding. Op grond van die soenverdienste van Jesus Christus, kom ons voortdurend soos Paulus, in gebed na die Vader toe vir genade en barmhartigheid. Gebed bring ons in ‘n liefdesverhouding met God. Hy is die Bruidegom en ons, sy kerk, is sy bruid (Op. 19). ‘n Liefdesverhouding kwyn egter as die paartjie versuim om afsprake met mekaar te maak en nie gereeld met mekaar te praat nie. Waaraan meet God dan ons liefde? Onder andere aan ons gretigheid om met Hom alleen te wees, met Hom te wil praat. As Hy dus vergeefs op my en jou wag om ons afspraak met Hom na te kom, gaan dit vanselfsprekend ‘n nadelige uitwerking hê. Ons liefdesverhouding gaan kwyn en ons gaan nie weet wat sy wil vir ons is nie!

 

Daarom is gebed nie ‘n formaliteit nie, maar ‘n liefdeshandeling tussen ons en God. Dit gaan nie om die mense wat na ons gebed luister wanneer ons hardop bid nie, maar om God. Ons is en het m.a.w. nie toeskouers van ons ‘gebeds-opvoering’ nie. Ons bid nie meer dikwels en vurig wanneer ons in ‘n gehoor is nie. Ons neem ons gebed na God toe. En ons behoort nie ons gebede te beperk tot ‘n sekere tyd op Sondae (Hand. 3:1) asof die God van hemel en aarde, net dáár is en ook net op dáárdie tyd nie. Nee, Paulus maan ons om gedurig te bid (1 Tess. 5:17). Gebed is om ingestel te wees op God deur die Heilige Gees – op alle vlakke, te alle tye en op alle plekke, nie net in ons binnekamer nie! Kom ons neem ons gedagtes, ons angs, ons versugtinge in gebed na ons Vader waar ons ook al is en wat ons ook al doen!

 

“Gebed is nie ‘n manier om van God gebruik te maak nie; dit is ‘n manier om onsself aan God te gee sodat Hy óns kan gebruik; minder te praat en beter te luister” (William Barclay).

 

Gebed: Help my Gees van God, om my gebedslewe vas te anker in U. Laat my nooit ophou bid nie. Vader, U wag om van my te hoor en ek het soms so baie om te sê, veral wanneer dit by vraetyd kom. Ek konsentreer so op my eie behoeftes sodat ek soms nie tyd maak om na U te luister nie. Laat my dan soos Paulus, geduldig wag op U antwoord. Amen.

留言


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page