Gedagte vir Vandag
Maandag, 30 September 2024
Koos Espach
A. Die Genade wat Paulus ontvang het (8)
Geloof in genade en vrede
Rom. 1:7 – “Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!” (2)
Vergelyk ook Num. 6:24-26 – “Die Here sal julle seën en julle beskerm; 25 die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; 26 die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.”
Die gelowiges in Rome mag weet dat God hulle liefhet en dat hulle geroep is om aan Hom te behoort. Deur God se liefde is hulle uitverkies en tot God se eiendom gemaak. Na hierdie bekendmaking aan die gemeente laat Paulus die apostoliese seëngroet volg: “Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus.” By Paulus is dit veel meer as ’n goeie of vroom wens. Dit is ’n toesegging wat hy doen op grond van die feit dat aan hom as apostel die gesag verleen is om amptelik namens die Here die gemeente te seën.
Dit is opmerklik dat Paulus in elkeen van sy dertien sendbriewe skryf: “Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus.” Hy was so diep bewus van die onskeibare eenheid van die Vader en Seun in die werking van genade dat hy in alle seënwense na beide verwys. Daarin is vir ons ‘n uiters belangrike les. Daar is soms tye in ons lewe wanneer ons hoofsaaklik aan God die Vader dink en dan tot Hom alleen bid. Ons behoort egter te onthou dat ons nie die wese van God kan skei nie. In wese is Hy God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees – Hulle is ‘n onskeibare eenheid – die heilige drie-Eenheid. Ons het juis die Gees ontvang vir die uitsluitlike doel om met sy hulp deur die Seun toegang te kry tot die Vader (vgl. Ef. 2:18).
Paulus groet die gemeentes en ons met ‘n bevoorregte groet: “Genade en vrede ...” Genade en vrede is ‘gawes’ waarvan ek en jy en alle gelowiges nie genoeg kan kry nie. Ons moet dit as’t ware elke dag opnuut ontvang en daarvan leef soos ons daaglikse brood. Paulus se groetwoorde van genade en vrede is nie sommer maar net ‘n gewone “Hi daar, hoe gaan dit met jou nie? ‘Genade’ hier is God se ‘nogtans.’ Dit is God se vergewende goedheid wat Hy in ruil gee vir wat ons eintlik verdien – sy straf en oordeel. Dit is God se ‘toemaar’ wanneer Hy ons spreekwoordelik teen sy bors vasdruk.
Die ‘vrede’ van God waarmee Paulus ons groet is baie meer as innerlike kalmte. Ja, ons het daardie soort vrede ontsettend nodig. In ‘n wêreld wat wankel op die rand van ‘n afgrond, lyk dit onrealisties om te praat of selfs te dink aan vrede. Dalk het vrede net ‘n ydele droom geraak. Nee, te midde van al die gemors is die vrede wat Christus skenk ‘n onbetwisbare werklikheid. Hy het immers ons gemoedsrus gegee: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin” (Joh. 16:33). Ons is inderdaad bevoorreg! Dit laat my dink aan die Hallelujalied se woorde: “Tel jou seëninge, tel hul een vir een ...” Ons kan regtig maar rustig raak.
Die wêreld is die terrein wat beheers word deur die mag wat God vyandig gesind is. Dit is egter nie die eindpunt van die saak dat ons moeilikheid, lyding en probleme moet ondervind nie, die eindpunt is dat ons moet “moed hou: Jesus het die wêreld klaar oorwin.” Jesus het al die bose magte, selfs die dood, gebreek, sodat ons op ‘n ander punt as oorwinnaars gaan uitstap. Ons is so geneig om maklik handdoek in te gooi en moedeloos te raak. Ons word só maklik oorweldig deur die donker wolke van beproewing en verwarrende omstandighede dat ons vergeet dat die “Lig van die lewe” gesê het: “Hou moed, Ek het die wêreld klaar oorwin.” Jesus is groter as die ellende en lyding wat ons moet verduur. Hy wil vir ons sê dat sy lig steeds skyn, selfs in die donkerste plekke of tye.
Ons moet nie moed verloor nie! Die pad na vrede lê nie in die verandering van ons omstandighede nie, maar die herskepping van ons negatiewe gedagtes na die positiewe. As daar nie iets in die toekoms is om na uit te sien nie, waarvoor lewe ’n mens dan? As die donker wolke op die horison lê, waarvoor wil ons dan selfs uit ons bed wil klim? Ons het iets nodig om op te staan. Ons het God se beloftes nodig. Wanneer ons by ’n uitdaging in ons daaglikse pad kom, moet ons weet dat God belowe dat Hy by ons sal wees tot aan die einde van die wêreld (Matt. 28:20). Wanneer selfs ons vervaldatum opgedaag het, kan ons vashou aan die belofte dat Jesus klaar die deure van die hemel vir ons oopgestoot het en dat daar ’n lewe van geluk en vrede vir altyd vir ons voorlê.
Dankie tog, God se beloftes maak dit vir ons moontlik om die onbekende van elke dag aan te vat. God se beloftes sit ’n dik silwer rand wat skitter om die donker wolke. Met ons toekoms kan niks anders gebeur as wat God vir ons beplan het nie: “Elkeen wat die oorwinning behaal, sal wit klere dra omdat jy dit waardig is. Ek sal nooit jou naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat jy aan My behoort” (Op. 3:5). Hou net moed! Ons hoef nie Jesus se vermoë om dit te doen, te betwyfel nie. Hy het reeds bewys dat Hy die dood oorwin het en oor die lewe heers.
“Ek gee krag aan dié wat moeg is, Ek maak die moedelose weer vol moed” (Jer. 31:25).
Gebed: Dankie Jesus dat ek kan bely: My enigste troos is dat ek met liggaam en siel, in lewe en sterwe, aan U behoort. Amen.
Comments