top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 27 September 2024

Koos Espach


A. Die Genade wat Paulus ontvang het (7)

 

Genade en vrede vir ons


Rom. 1:7 – “Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!” (1)

 

Die gelowiges in Rome is ook uit die heidendom geroep om aan Jesus Christus te behoort, daarom is hulle ook ingesluit by diegene tot wie Paulus gestuur is. Hierdie uitspraak bevestig dat die gemeente in Rome hoofsaaklik uit bekeerlinge uit die heidene bestaan het. Paulus sluit sy groet aan die gemeente in Rome af met die apostoliese seëngroet: “Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus.” In plaas van die gewone Griekse groet chairete wat ‘vreugde’ beteken, gebruik Paulus die woord charis wat ‘genade’ beteken – genade, wat die hart van die evangelie is.

 

Rome was as die hoofstad van die destydse bekende wêreld gesien. Dit was erken as die politieke, kulturele en intellektuele sentrum van die wêreld. Ongelukkig was dit terselfdertyd ook die ‘hoofstad’ van afgodery en sedelike verval. Tog was daar mense “in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.” Dit was nie noodwendig van die rykes nie. Meeste van hulle was gewone mense wat nie in die gegoede buurtes in en om Rome gewoon het nie, maar hulle was mense wat “aan God behoort het”, God se eiendomsmense!

 

Paulus rig juis sy brief aan hulle wat moontlik ook, “volgens die opvatting van die mense, daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense met aansien onder hulle is nie” (1 Kor. 1:26), mense soos ons! Hoe moeilik hulle en ons omstandighede ook al is, skei ons omstandighede ons nie van die “genade en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus,” nie. Stephan Joubert sê: “God se grootste vreugde is om genade aan mense uit te deel wat in die donker van die sonde en die dood vasgevang is.” Sy liefde en vrede is juis gerig aan die ‘verkeerde mense’ en Hy bewys dit aan ons wat dit hoegenaamd nie verdien nie.

 

Vir genade kon destydse Romeinse burgers, hulle op die keiser beroep. Hy het dan besluit of hy die oortreding gaan oorsien al dan nie. By God is dit anders, omdat God ‘n God is van liefde. Hy het ‘n volmaakte verhouding met ons; Hy sien nie net alles wat skeef en stukkend is van ons oor nie, Hy maak dit reg. Hy herstel dit ten volle met Jesus se bloed sodat ons vrede ondervind, vrede wat innerlike kalmte meebring! As God ons God is, bring Hy vrede te midde van swaarkry. Die vrede wat die wêreld gee is ‘n tydelike vrede van ontvlugting, God skenk die vrede wat oorwinning gee in Jesus Christus, ons Here. Daarom groet God elke gelowige kerkganger elke Sondag met dieselfde woorde as Paulus: “Genade en vrede vir julle ...”

 

God wil graag genade en vrede aan my en jou skenk. Hy wil onverdiende guns aan ons skenk – onverdiend, omdat ons dit nie kan verdien of koop of selfs steel nie. Hoe ingrypend hierdie geskenk sonder verdienste is, sal ons eers verstaan wanneer ons weet hoe groot ons sonde en ellende is. Ons is mense wat teen God in opstand gekom het, soms steeds in opstand kom en wat aan Hom ongehoorsaam is.  Enigiemand wat beweer dat hy of sy nie sonde doen nie, dwaal en vertel nie die waarheid nie. Daar is ook geen wyse waarop ons onsself hiervan kan verlos nie. Ons ontvang hierdie verlossing wanneer ons in Jesus Christus as ons Verlosser glo. Juis hierdie waarheid maak die boodskap van genade en verlossing so ‘n wonderlike troos. Wanneer ons ontdek het hoe groot ons sonde en ellende is en hoe ons daarvan verlos kan word, kan ons nie anders as om in dankbaarheid ons hele lewe as ‘n dankoffer aan God te gee nie.

 

“God het my aangeraak met Sy genade en sedertdien brand ek van verlange na sy vrede”

(Augustinus van Hippo).

 

Gebed: Here, skenk asseblief vir my daardie genade en vrede wat van Uself kom, die innerlike genade en sielevrede wat nie van my omstandighede afhang nie, maar wat oor my lewe heers omdat U ‘n volmaakte verhouding met my het. Ja Here, ek weet ek verdien dit nie, maar dankie dat U steeds ‘n God van liefde is en ook aan my, ‘n sondaarmens, ‘n skuldenaar, genade en vrede wil skenk. Amen.

Comentários


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page