Gedagte vir Vandag
Vrydag, 20 September 2024
Koos Espach
A. Die Genade wat Paulus ontvang het (4)
Kersfees in Rome
Rom. 1:4 – “Op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here.”
Ons vertoef vandag nog ‘n rukkie by vers 4. Paulus se eerste woorde aan die gelowiges van Rome is op ‘n besondere wyse verrassend. Hy kondig hier eintlik die koms van dié nuwe ‘keiser’ aan wat volgens al die destydse vereistes geloofwaardig was en met mag bekleed is, gereed om te regeer. Die verskil egter is dat hy nie Nero se naam noem nie, maar Jesus Christus ons Here. Só kom die kersboodskap in Rome. God se geskenk van genade strek nou ook tot in die wêreldhoofstad van daardie tyd. Vir my en jou is dit ook nie anders nie. God se Woord plaas vandag die feit van ‘n nuwe en ewige Regeerder in ons midde.
Jesus Christus ons Here, voldoen aan al die verwagtinge wat ons kan hê – en selfs meer! Ons kan Hom waarlik erken as ons Koning. Wat is dit van Jesus wat soveel mense tot Hom aangetrokke laat voel? Ja, daar is miljoene wat nie eers van sy bestaan weet nie, maar dan is daar ook miljoene mense wat hierdie Jesus, ‘n Galilese ‘skrynwerker’ van twee duisend jaar gelede, steeds bewonder en aanbid. Die rede dalk – Hy verander lewens deur die impak van sy leerstellings op ons.
Jesus was veel meer as ‘n gewone mens. Hy was nie net volmaak mens nie, maar Hy was ook volmaak God. Hy was veel meer as ‘n mens wat deur God geroep is en bemagtig is. Baie profete is voor Hom op hierdie wyse deur God geroep. Toe Hy uit die graf opgestaan het, was dit die finale bevestiging dat Hy God gebly het wat aarde toe gekom het (Joh. 1:14). Hy was immers die “Christus wat moes ly en die eerste wees wat uit die dood opstaan” (Hand. 26:23). Sy opstanding uit die dood was die begin van die eindopstanding – ook van my en jou as ons in Hom glo!
Daar is dinge wat so ongelooflik klink dat dit moeilik is om te aanvaar. Elke keer wanneer Paulus gepraat het oor die opstanding van Jesus is sy boodskap met ongeloof en twyfel begroet: “Toe hulle van die opstanding hoor, het party hom uitgelag ...” (Hand. 17:32a). Maar, “’n Paar mense het egter gelowig geword en by Paulus aangesluit”(Hand. 17:34).
Christus se liggaam is in ‘n graf neergelê en die ingang is met ‘n swaar klip verseël en deur Romeinse soldate beskerm. Geen mens kon ongesiens daardie klip beweeg nie. Maar, só groot is die almag van God dat Jesus triomfantelik uit die dood opgestaan het en selfs die grafklere agtergelaat het waarin sy liggaam toegedraai was. Die Bybel vertel ons ook van oorvloedige bewyse dat Jesus aan sy dissipels en ander verskyn het voor sy hemelvaart.
Al Jesus se dissipels behalwe Johannes, het wreedaardig gesterf omdat hulle volgelinge van Jesus was. Paulus as die gestuurde apostel, kan hierby ingesluit word. Hulle het egter almal daadwerklik getuig dat hulle Jesus Christus gesien het nadat Hy opgestaan het uit die dood. Hulle was ook getuies van sy hemelvaart (Hand. 1:9-13). Paulus se Damaskuservaring getuig dat hy Jesus gesien het (Hand. 26:16). ‘n Getuie is iemand wat sê ek weet dit is die waarheid en nie dink dit is die waarheid nie. Dit is werklik the most powerful argument in existence. Daaroor kan ons Christene ons verbly in ons kennis dat Christus opgestaan het en vir ewig leef – en ons daarom ook leef! Hoe hard hulle ook al probeer, skeptici sal nooit daarin slaag om te bewys dat Christus nié uit die dood opgestaan het nie.
Die evangelie van die Bybel is altyd die goeie nuus van die opstanding. Jesus se opstanding beteken dat daar hoop vir ons is. Jesus self waarborg dat ons nie deur die dood ingesluk sal word wanneer ons die dag daar kom nie. Jesus sal dit nie toelaat nie. Hy sal ons wat in Hom glo deur die donker van die dood dra tot binne-in die hemel! Deur Jesus se opstanding kan ons ook triomfeer, triomfeer oor versoekings; triomferende hoop in ons harte het dat die lewe sterker is as die dood; vreugde in plaas van droefheid; vrede ervaar in plaas van verwarring. Bowenal, hierdie seëninge ontvang ek en jy as God se geskenk deur sy triomferende Seun Jesus Christus – én dis gratis! Dankie tog opgestane Here, baie dankie vir die heerlike versekering dat dié wat in U glo, nooit sal sterwe nie. (Joh. 11:25-26).
“Met Jesus se opstanding vier ons die toekoms van die wêreld. Dit is die belofte dat ook ons liggame, soos sy opstandingsliggaam, herstel en verheerlik sal word. Alle stoflike dinge kry ewigheidswaarde omdat ons Here vir altyd opgestaan het” (David Martyn Lloyd-Jones).
Gebed: Gees van God, lei my tot ‘n praktiese geloof wat my onlosmaaklik aan Jesus Christus sal bind. Jesus, opgestane Leidsman, vul my hele lewe met U opstandingskrag. Amen.
Comments