top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 19 September 2024

Koos Espach


Die Genade wat Paulus ontvang het (3)

 

Deur Jesus se opstanding kan ons triomfeer


Rom. 1:3b-4 – “As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; 4 op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here.”

 

In teenstelling tot Christus se bestaan in menslike swakheid uit die geslag van Dawid, beklemtoon Paulus dat Christus deur sy opstanding uit die dood openbaar geword het as die Seun van God wat met mag beklee is. Dit is Christus se werklike identiteit, ondanks die swakheid van sy menslike bestaan terwyl Hy tussen ons op aarde kom woon het (Joh. 1:14). Jesus het dit immers self aan sy dissipels openbaar ná sy opstanding: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde” (Matt. 28:18).

 

Paulus gaan verder en sê dat Jesus deur die Heilige Gees aangewys is as die Een wat hierdie posisie beklee. Hoewel Hy van ewigheid af die Seun van God was, was sy goddelike heerlikheid gedurende sy aardse lewe verberg agter die swakheid van die vlees. Ons moet onthou, Jesus het aarde toe gekom en kom word wat Hy nooit was nie, maar Hy het  gebly wat Hy is – Hy het volkome mens kom word wat Hy nooit was nie, maar volkome God gebly wat Hy is, nie half-God en half-mens nie! Deur sy geboorte as mens “uit die geslag van Dawid”, het Christus deel gekry aan die swak, verganklike en sterflike bestaan van die mens. Maar deur Sy opstanding uit die dood openbaar Christus dat Hy die Seun van God is wat met mag beklee is, die mag wat oor die dood, sonde en duisternis triomfeer.

 

Die Heilige Gees, wat die waarheid van God by mense, ook by my en jou tuisbring, het dit bo alle twyfel geopenbaar dat Jesus die Christus en die Here is wat op grond van sy opstanding, met alle mag beklee is. Jesus het dwarsdeur die dood gestap en na drie dae lewend anderkant uitgekom. Die dood was nie sterk genoeg om Hom vas te hou nie. Stephan Joubert stel dit mooi: “Jesus het die kake van die dood eiehandig oopgebuig en op die Sondagoggend na sy kruisiging, van die anderkant van die graf teruggekeer. Hy het die dood gedood!”

 

Johannes skryf “daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: ‘Vrede vir julle!’ Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien” (Joh. 20:19-20). ‘n Koue graf en ‘n swaar kliprol kon Jesus nie binnehou nie, nog minder ‘n geslote deur wat Hom buite kan hou. Dit beklemtoon die wonderbare aard van Jesus, dié Jesus wat hulle gerusstellend groet: “Vrede vir julle!” 

 

Hy neem hulle vrees weg - en Hy oortuig hulle in hierdie proses dat Hy regtig die dood gewen het. Dit is dieselfde Jesus wat hulle geken het; die Jesus met Wie hulle saamgeleef het; die Jesus wat hulle gesien sterf het; die Jesus wat begrawe was; die Jesus met wonde …! Die wonde in sy hande en sy, het hulle oortuig en dit het hulle harte met blydskap gevul. Vir God se genade in Jesus Christus, bestaan daar nie geslote deure nie! Met Sy kruisdood het Jesus die muur van skeiding tussen ons en God oorbrug en ons met God versoen: “Deur die bloed van Sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen” (Kol. 1:20).

 

Jesus bring vir my en jou tuis in God se arms in, ons hoef nie vreesbevange agter geslote deure van ons smart, teleurstellings, verbittering of lyding, weg te kruip nie. Ons aardse roete het ‘n eindbestemming. Ons is op pad na ‘n nuwe huis waar die deure permanent oopstaan – ons Vader s’n, daar waar baie wonings is. Dis dáár waar Jesus vir my en jou ook plek gemaak het (Joh. 14:2-4). Maar, Hy wil juis hê dat ons reeds hier op aarde, iets van Sy vrede ervaar! Dit alles ontvang ons as God se geskenk, Sy genadegawe deur Sy triomferende Seun, Christus Jesus! “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle” (Joh. 14:27). Dít is Jesus se nalatenskap wat Hy aan ons as gelowiges in sy Testament gegee het, niemand kan hierdie vrede van ons af wegneem nie want Sy testament is vir ewig bindend!

 

“God het Sy liefde aan die kruis bewys. Toe Christus daar gehang, gebloei en gesterf het, was dit God wat aan die wêreld gesê het: 'Ek het julle lief, Ek verander nooit, Ek vervul jul diep verlange na vrede en dit is genoeg” (Teresa van Avila).

 

Gebed: Dankie Jesus dat geen deur, geen hartedeur, U kan uitsluit nie. Dankie dat U my lewe vul met U teenwoordigheid en vrede. Dankie Vader dat ek nie hoef te vrees nie, maar dat ek nou vrygespreek is van sonde omdat ek in U Seun, Jesus Christus ons Here, glo.

Yorumlar


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page