top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 18 September 2024

Koos Espach


Die Genade wat Paulus ontvang het (2)

 

Sien ek en jy ons roeping?


Rom. 1:1-4 – “Van Paulus, ‘n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God. 2 Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig, 3 en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; 4 op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here.”

 

Aangesien Paulus nog nooit in Rome was nie, is ‘n bekendstelling van homself aan die gemeente gepas. Dit is dan ook die enigste van sy dertien briewe waarin hy homself so uitvoerig bekendstel. Die gelowiges in Rome moes ook nie raai wat sy roeping en taak is nie. Inteendeel, die eerste indruk wat hy van homself by die gemeente in Rome en ons wil tuisbring, is dat hy ‘n dienaar, ‘n slaaf is – “’n dienaar van Christus Jesus.” 

 

Slawe het in die destydse Romeinse Ryk min regte gehad, maar hulle sosiale posisie en status kon bepaal word deur hulle eienaar. Paulus se ‘besigheidskaartjie’ het die regte verwysing gehad – “’n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God.” Hiermee verwyder hy alle onduidelikheid oor sy motiewe, persoon en roeping. Hy is volledig in diens van Christus Jesus. Christus Jesus wie se Name in hierdie volgorde gebruik word as ‘n feit dat Hy oorwinnaar oor lewe en dood is! Hulle moes weet, die wêreld van alle eeue moes weet: Paulus verkondig Hom – die lewende opgestane Christus! 

 

Vir Paulus was daar geen groter status of belangriker posisie, as om “dienaar” van die oorwinnende Christus te wees nie – “Om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde” (Fil. 3:8). Paulus se Christenskap is altyd voorop geplaas, maak nie saak in watter hoë of ander kringe hy hom bevind het nie. Om apostel van Christus te wees was nie vir hom net ‘n titel nie, hy was dienaar van Christus met ‘n opgelegde taak!

 

Terwyl ek en jy grootgeword het, het ons miskien gedink dat ‘n ‘beroep’ van God net vir sendelinge, dominees, pastore, daardie mans en vrouens met die lang swart rokke en kappies van die klooster, en ander ‘voltydse’ kerklikes bedoel was. Maar die Bybel sê elke Christen word tot diens geroep. Ons redding sluit diens in, maak nie saak wat ons taak of loopbaan is nie – ons is vir voltydse Christelike diens opgeroep. “Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het” (2 Tim. 1:9).

 

Paulus sê verder dat hy as “apostel geroep” is. ’n Apostel is letterlik ’n gestuurde aan wie die gesag verleen is om die een wat hom stuur, te verteenwoordig – “Dit verseker Ek julle: Wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het” (Joh. 13:20). Paulus het met ander woorde ‘n mandaat, en daardeur gee hy ‘n kort opsomming wat hy verkondig: “Die evangelie van die Seun van God, Jesus Christus ons Here.” Hy het dus die regte ‘papiere’ gehad vir sy werk!

 

Die evangelie is die blye tyding van die verlossing uit genade. Dit heet die evangelie van God, omdat dit van God uitgaan wat die wêreld so liefgehad het, dat Hy sy enigste Seun daarvoor gegee het (Joh. 3:16). Die evangelie wat Paulus verkondig, is geen nuwe saak nie, maar is dieselfde “wat Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig het.” Die gemeente in Rome en ons gelowiges in die wêreld, hoef daarom nie te vrees dat Paulus iets vreemds verkondig nie, want hy verkondig maar net die vervulling van wat die Ou Testament deur die Profete in vooruitsig gestel het.

 

Die Bybel sê ek en jy, “julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan” (1 Kor. 12:27). Ek en jy is geroep om deel van die kerkfamilie te wees. Ons opdrag is om ander gelowiges te dien. Ons diens is desperaat in Christus se liggaam nodig. Elkeen van ons is Jesus se nuwe paar oë om mee te sien, nuwe ore om mee te luister, nuwe hande om te help en ‘n nuwe hart om ander mee lief te hê – daar waar Hy ons geplaas het om te werk en te leef. Ons het elkeen ‘n rol om te speel, en elke rol is belangrik. Daar is nie so iets soos klein diens aan die Here nie; alles maak saak. Ons kan nie op die kantlyn sit as toeskouers nie – die Liggaam gaan ly!

 

“Dink daaraan dat elke klein reëndruppel help om die oseaan vol te hou – en hou dan op sê dat jou bydrae te klein of onbelangrik is. Doen jóú ding om die wêreld te verander! God sal jou sê wat dit is” (Hannah More).

 

Gebed: Dankie Here, vir Paulus as U werktuig vir wie U oor baie jare gevorm het, en in wie se hart en verstand U hierdie brief onder leiding van die Heilige Gees gestalte laat aanneem het. Vul my lewe met U opstandingskrag en laat in my vrugte groei wat U daar wil sien. Laat my die beste plek vind waar ek pas en U in vreugde dien. Amen.

Kommentarer


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page