top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 16 September 2024

Koos Espach


Uitnodiging

 

Liewe E-Kerk lesersvriende,

 

Ons het Vrydag, 13 September 2024 afgesluit met die Boek “Die Handelinge van die Apostels” en gaan DV vir die volgende paar maande op “Die Brief aan die Romeine” konsentreer. Paulus, wat as die eerste Christelike teoloog beskou kan word, het deur die eeue heen 'n groot invloed op die gang van die kerkgeskiedenis uitgeoefen. Veral sy brief aan die Romeine het in verskillende tye 'n diep indruk op bekende teoloë gemaak. Augustinus (354-430) het sy bekering aan ʼn gedeelte uit die Brief toegeskryf; Martin Luther het ook die sleutel tot die uitleg van die Evangelie in die eerste hoofstuk van die brief gevind; terwyl Karl Barth in 1919 'n nuwe teologie ontwerp het in sy Römerbrief, ʼn kommentaar op die brief van Paulus aan die Romeine.

 

Baie dankie dat julle sedert Maart 2022 saam met Lukas en ons, die genade van God beleef het in “Die Handelinge van die Apostels.” Ons glo julle het ryke vertroosting, bemoediging en vrede met God gevind deur die Boek. Ons bid dat die Heilige Gees die boodskap van die “Die Handelinge van die Apostels” iets besonders by elkeen van julle gelaat het en aanleiding gee tot egte belydenis, en nie net lippetaal nie. 

 

Die Brief aan die Romeine

 

Ons wil julle uitnooi om saam met Paulus en ons die volgende paar maande op ‘n ontdekkingsreis na die wêreld van die vroeë kerk te vertrek. Naas Jesus het niemand so ‘n geweldige invloed op die geskiedenis van die Christendom as Paulus gehad nie. Sy optrede was selfs vóór sy bekering op ‘n negatiewe wyse betekenisvol. Die fanatieke wyse waarop hy die Christene vervolg het, het bygedra tot die vinnige verspreiding van die evangelieboodskap in die vroeë kerk. Maar Paulus se lewe het drasties verander nadat hy die verheerlikte Jesus Christus op die Damaskuspad self ontmoet het. Daarom is Bybelkenners dit eens dat daar geen ander brief as die Romeinebrief is wat God se genade heerliker uitspel nie. Hierdie vryspraak deur God beteken dat ons sondeskuld van die verlede, die hede en die toekoms, ten volle betaal is.

 

Sonder enige verdere aankondiging of melding daarvan, is die Bronne wat ons vir hierdie studie gebruik:

 

·         Verskeie Bybels wat ons as Christen-gelowiges bely, as ons basiese verwysingsbron;

·         “Romeine: Hartklop van die Evangelie” deur Prof. Andrie du Toit;

·         “Die Brief aan die Romeine” deur Dr. W.D. Jonker (Swartband Reeks);

·         “The letter to the Romans” deur William Barclay;

·         “Twaalf Sleutels tot Geestelike Groei” deur verskeie skrywers;

·         “Doelgerigte Lewe” deur Rick Warren;

·         “In Christus Alleen – Die 5 Solas” deur Victor Kuligin en Robert Yarbrough.

·         “Paulus” deur Prof. Adrio König.

·         “Unlocking the Bible” deur David Pawson.

·         “Die Groot Geloofskommentaar” deur Adrio König.

·         “Die Bybel A-Z” deur verskeie skrywers.

·         “Die Bybellennium” deur verskeie skrywers.

·         “In Navolging van Christus” deur Prof. Stephan Joubert.

·         “En sê nou God bestaan?” deur Helmut Thielicke.

·         “Finding God in unexpected places” deur Philip Yancey.

·         “Paulus – ‘n geroepe apostel van Jesus Christus” deur F. Postma.

·         “Paulus – Die indringer apostel wat die evangelie gered het” deur Adrio König.

·         “Paul” – His journeys through Greece, Cyprus, Asia Minor and Rome.

·         “Paul” – The apostle of the gentiles.

·         Handboek Bybelse Geskiedenis die Nuwe Testament – Prof. Dr. E.P. Groenewald

 

Bybel-Media het ook toestemming verleen dat ons van hulle materiaal vir die Dagstukkies mag gebruik. Besoek gerus hulle webtuiste by www.bybelmedia.org.za

 

Bid asseblief saam met ons dat alles wat ons skryf en per e-pos of WhatsApp aanstuur, daarop gemik is om God te verheerlik en gedurig aan Hom die eer te gee. Dit gaan nie oor ons nie, maar oor die Here wat ons stuur. Ons is net die gehoorsame kanaal waardeur Sy lig straal en ons dank die Here vir Sy genade, dat ons dit wel mag doen. Ons kan dit egter net bereik deur die leiding van die Heilige Gees. Hy staan elke dag gereed om ons te omgord met Sy krag en insig sodat ons Sy kragtige getuies kan wees soos Jesus verseker het: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees …” (Hand. 1:8). Ons kan maar net in gehoorsaamheid en aanbidding reageer.

 

“Ons taak as leke is om ons verhouding met Christus met soveel intensiteit uit te leef dat dit aansteeklik sal wees” (Paul Tournier).

 

Gebed: Hemel Vader, skep die beeld van U Seun in my sodat ek U metodes en doelstellings kan uitleef. Jesus, ons gebed is dat ons saam met Paulus vir die volgende paar maande sal stap en U deur ons geestesoë sal sien en belééf, sodat ons saam met hom by U hart kan uitkom, U hart wat vol liefde is vir sondaarmense soos ons. Heilige Gees, help ons om, terwyl ons saam met Paulus sy verhaal beleef, die eggo’s van U stem sal hoor sodat ons nie net Jesus, Sondae by die kerkgebou sal raakloop nie, maar elke oomblik by ons in vreugde sal ervaar – Immanuel, God by ons. Maak ons harte en denke oop vir U geestelike invloed en wysheid. Laat ons getuienis strek tot eer en verheerliking van God en deur U, o Gees, besiel sal word. Amen. 

 

NB. As jy van iemand weet wat ook baat kan vind by hierdie dagstukkies, stuur asseblief hulle name en e-pos adresse of selnommers na espachk@absamail.co.za of sel 071 682 7485 en ons plaas hulle met liefde op ons poslys.

 

Jesusvreugde,

 

“Oorgee – Omgee – Uitgee” 


Shalom - Mooi loop - Koos en Renette Espach namens NG Fochville-Noord Gemeente

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page