Gedagte vir Vandag
Vrydag, 13 September 2024
Koos Espach
Paulus in Rome (12)
Eind goed, alles goed
Hand. 28:31 – “Hy het die koninkryk van God verkondig en die mense alles oor die Here Jesus Christus geleer. Dit het hy gedoen met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering.” (4)
Ons het die einde bereik van ons studie van die Boek Handelinge. Wanneer Paulus, die groot sendeling van die Here, in Rome aanland, kom Handelinge tot ‘n einde. Die doel met die boek is bereik. Lukas kon aantoon hoedat Christus getrou aan sy belofte van Handelinge 1:8 was tot reg in die hartjie van die Romeinse Ryk.
Wat van Paulus na Handelinge 28:31 geword het, is onseker. Lukas het Handelinge afgesluit sonder om verder te vertel. ’n Ander moontlikheid teenoor wat gister genoem is, is dat Paulus verhoor en om die lewe gebring is teen die einde van Handelinge, maar dat Lukas onwillig was om van sy martelaarskap te vertel. Ferdinand Postma het na veelvuldige raadpleging en navorsing Paulus se verhoor en onskuldigbevinding beskryf. Shermin-White bevestig dat Paulus verhoor is deur Nero en eers vrygelaat is, maar later weer in hegtenis geneem is en saam met Petrus om die lewe gebring, Paulus deur onthoofding en Petrus onderstebo gekruisig.
Die vroegkerklike geskiedskrywer Eusebius vertel dat Paulus ontslaan was na die eerste Romeinse gevangenskap, maar weer in 65 nC gearresteer, en hierdie keer deur Nero gemartel en gedood is. Nero was die eerste keiser wat met ‘n amptelike vervolging teen die vroeë kerk begin het. Nero het van sy vrou Octavia geskei en met sy vriend se mooi, maar beginsellose vrou Popaea getrou met wie hy al ’n tydjie saamgeleef het. Op haar advies het Nero die skuld vir die weeklange brand wat die helfte van die stad Rome in 64 nC verwoes het, op die Christene gelê. Popaea was ’n bekeerling tot die Jodendom, en toe die Jode verdink was van die brandstigting het sy aan Nero voorgestel dat die Christene dit gedoen het om sodoende, die Jode van die blaam te onthef.
Paulus en Petrus het uiteindelik die hoogste prys vir hulle lojaliteit aan Christus betaal. Maar te danke aan hulle het ons vandag die grootste skat tot ons beskikking: die lewende evangelie van Jesus Christus ons Here. God kan ongelooflike dinge deur gewone mense doen! Jesus het juis 'n groep vissermanne geroep en gebruik om die wêreld onderstebo te keer (Hand. 17:6). Hy het die Christenhater en –moordenaar Paulus, geneem en hom in die grootste Christen-evangelis verander, die skrywer van byna die helfte van die Nuwe Testamentiese boeke. God het vervolging gebruik om die vinnigste uitbreiding van 'n "nuwe geloof" in die wêreld se geskiedenis, te laat plaasvind.
Vir meer as ‘n kwarteeu het Paulus van land tot land gereis en ontsaglike ontberings en mishandelinge ondergaan – “Hy dra die littekens van Jesus aan sy liggaam” (Gal. 6:17). Ons kan met reg getuig dat Paulus, ten spyte van sy ontberinge, ‘n ryk lewe in Christus geleef het! Boeke oor hom en sy geskrifte vul vandag die biblioteke van die wêreld en verskyn steeds. Geen van die ander apostels het by benadering gelewer wat die “geringste van die apostels” (1 Kor. 15:9), vroeër “’n lasteraar en geweldenaar” (1 Tim. 1:13), nagelaat het nie. Wat sou die Nuwe Testament gewees het as die dertien Pauliniese briewe ontbreek het?
Handelinge vertel nie bloot die verhaal van die stryd van ‘n klompie Christene in die eerste eeu nie. Nee, dit is ‘n verhaal van die Here se betrokkenheid in ons wêreld in en deur mense wat aan sy wil gehoorsaam geword het. Die handelinge van die opgestane Here Jesus Christus is nog nie klaar nie. Sy Woord en die Gees kan nie gebind word nie! Hy is nog steeds met die evangelie op pad na mense toe en Hy gebruik elke gelowige daarvoor. Ek en jy moet dus fyn luister om só agter te kom hoe en waar die Here ons wil gebruik in die uitvoering van sy ‘handelinge’. Ek en jy word geroep om só ons werk te doen in die reddingshandelinge van die Here.
Ons vertrou dat u deur die “Handelinge van die Apostels” verryk is; u hart aan die brand gesteek is om die Here net so toegewyd te dien soos Stéfanus, Filippus, Petrus, Bárnabas, Paulus en al die vele ander. Lukas se ‘oop’ einde van die Boek Handelinge wat nie met die dood nie, maar met die lewe eindig, laat ons net weer besef: God se pad met mense, God se pad met ons, God se pad met my en jou, is sonder einde ...!
“Mense van God is hulle wat deur die donker wêreld stap – en in hulleself ‘n Lig dra” (Felix Adler).
Gebed: Dankie Heer vir ‘n Paulus en al die manne en vroue wat U enduit gebruik het om die Goeie Nuus oor U allesdeurdringende genade bekend te maak. Dankie Jesus Christus dat U deur u Gees die evangelie tot by my en al die gelowiges gebring het. Aan U die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.
Comments