top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 4 September 2024

Koos Espach


Paulus in Rome (5)

 

‘n Beter bedeling vir almal wat in Jesus glo

 

Hand. 28:23-24 – “Hulle het toe ‘n datum met hom afgespreek, en op daardie dag het daar nog meer mense na die plek toe gekom waar hy gebly het. Van vroeg die môre tot laat die aand het Paulus die koninkryk van God vir hulle verduidelik en hulle uit die wet van Moses en uit die profete probeer oortuig van Jesus. 24 Deur sy uiteensetting het daar party oortuig geraak, maar ander wou nie glo nie.”

 

Soos Paulus op sy sendingreise gedoen het, maak hy in Rome ook eerste kontak met die Jode. Die leiers van die Jode wat op besoek by Paulus was, het hulle begeerte hoflik te kenne gegee om by hom te hoor wat sy siening is en verder getuienis te gee oor Jesus Christus. Hulle het toe ’n datum met Paulus afgespreek, en op daardie dag het nie net die leiers nie, maar nog heelparty ander Jode ook gekom na die plek waar hy gebly het.

 

Hier is nou weer ‘n mooi geleentheid vir Paulus om in Rome eers onder sy eie volk te getuig. Omstandighede lyk nou gunstig – nog ‘n wondere beskikking van God om só in Rome te kan optree – ‘n bemoedigende beskikking wat reeds in Jerusalem aan hom deur die Here gegee is: “Soos jy aangaande My in Jerusalem getuig het, so moet jy in Rome ook getuig” (Hand. 23:11). 

 

Vir Paulus is dit geen vermoeienis nie en hy het van vroeg die môre tot laat die aand, getuienis van die koninkryk van God vir hulle verduidelik en hulle uit die wet van Moses en uit die Profete probeer oortuig van Jesus Christus. Dié Jesus, wat hy aan die regterhand van God gesien het, terwyl hy op pad na Damaskus was om die gelowige Jode daar te arresteer (Hand. 9). Hy het toe daarna in Jesus geglo as die goddelike Vervuller van God se woord in die Wet en die Profete, dit wil sê van God se openbaring in die hele Ou Testament.

 

In Rome gebeur egter wat al met Paulus ook tydens sy sendingreise gebeur het: in Ikonium (Hand. 14:4), Tessalonika (17:4),  Berea (17:12), Korinte (18:6), Efese (19:9). ’n Deel van die gehoor het hulle laat oortuig deur wat gesê is, maar ander het nie geglo nie. Dit moes vir Paulus teleurstellend gewees het. Verstaan die Jode dan nie die Profete se voorspelling van die koms van die koninkryk van God nie? Hulle het tog verwag dat die koninkryk moet kom, maar hoe? Trouens, dit is tog wat die profeet Jesaja oor die komende Messias as Regeerder reeds voorspel het: “Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers en Hy sal genoem word ... ; Sy heerskappy sal uitbrei ... : Hy sal oor sy koninkryk regeer ... (Jes. 9:1-6).

 

Paulus het met sy verduideliking probeer om die koms van die koninkryk te verbind met die koms van Jesus Christus op aarde. Toe Jesus gebore is in Betlehem, is die oeroue ‘droom’ vervul van die geboorte van ‘n baie besondere Kind wat sou doen wat geen aardse mens kon doen nie. Hy was nie sommer enigiemand se Seun nie; Hy was God se Seun! Geen mens was in staat om die hoop van die mensdom te vervul nie, God se Seun kon. Maar “deur Paulus se uiteensetting het daar party oortuig geraak, en ander wou nie glo nie.” Hoekom nie?

 

Indien ons vandag dink dat die wêreld in ‘n haglike toestand is, is ons nie verkeerd nie. Dit was egter nog altyd so. Dit is die normaal waaraan ons gewoond geraak het. Die vraag is egter: “Sal dit ooit beter wees?” Ten spyte van die feit dat die Ou-Testamentiese profesieë oor ‘n Messias in Jesus Christus vervul is, ‘n Messias “wat vir altyd vrede en voorspoed sal bring” (Jes. 9:6), word die wêreld steeds geteister deur armoede, ongeregtigheid, verdrukking, peste, hongersnood, oorlog, misdaad, terrorisme, korrupsie, en die lys word elke dag langer.

 

Ek en jy het ’n keuse om as Christene te probeer om die lys van slegte dinge verder slegte dinge by te voeg, of met ‘n lys van goeie dinge te balanseer; of ons kan in wanhoop ons hande in die lug gooi, die stryd gewonne gee en vir God vra om hierdie wêreld te vernietig wat so boos is; of ons kan soos sommige van Paulus se Joodse luisteraars ook nie oortuig word deur sy prediking nie. Nee, ons mag nie. Ons behoort te doen wat die Ou-Testamentiese geloofshelde wie se dade wys dat hulle God op sy woord geneem het (vgl. Heb. 11). Hulle het gehoop en gewaag om te droom van ‘n nuwe wêreld waarin God as Opperheerser sal regeer. Hulle geloof en hoop was nie gevestig in die vaardigheid en deugde van aardse leiers nie, maar in die krag van God se redding en vernuwing. Hulle geloof het gemaak dat hulle groot struikelblokke oorkom het. Ons kan ook!

 

Ja, ons kan ook. Want sien, ‘n nuwe bedeling het aangebreek – die bedeling waaroor Paulus gepreek het – ‘n bedeling deur die toedoen van Jesus Christus. Sedert Jesus Christus sy posisie in die hemel aan God se regterhand ingeneem het waar Paulus Hom gesien het, het alles verander. God het ‘n nuwe verbond wat nie op papier is nie, maar op ons harte deur sy Gees kom oorskryf. Ons oortredinge staan nie meer tussen ons en God nie. Daar het inderdaad ‘n beter bedeling vir ons almal aangebreek wat in Jesus glo. Goddank, my en jou name wat in Jesus glo, se name staan as begunstigtes in hierdie verbond. Ons tel onder diegene wat deur God se genade vrygespreek is. Wat ‘n voorreg!

 

“Ons hemelse Vader sal nooit iets van sy kinders wegneem nie, tensy Hy vir ons iets beters wil gee”

(George Müller).

 

Gebed: Vader van genade, laat U Seun al meer in my lewe gestalte vind. Dankie dat U nuwe verbond deur U Gees in ons hart ingegraveer is. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page