top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 3 September 2024

Koos Espach


Paulus in Rome (4)

 

Hardkoppigheid kan jou kos

 

Hand. 28:21-22 – “Toe sê hulle vir hom: ‘Ons het geen briewe oor u van Judea af gekry nie, en nie een van ons broers het berig oor u gebring of iets kwaads van u gesê nie. 22 Ons wil graag hoor wat u dink, want al wat ons weet, is dat daar oral teenstand teen hierdie rigting is.”

 

Die Joodse afvaardiging reageer baie diplomaties op Paulus se verduideliking waarom hy in Rome is. Hulle het geen offisiële brief uit Judea, waarskynlik van die Sanhedrin in Jerusalem, oor hom ontvang nie; ook nie van private gesprekke van enige Joodse broers wat na Rome gekom het nie. Dit mag vreemd klink en hulle opmerking was waarskynlik hoflik bedoel. ’n Mens kan nie aanvaar dat dit waar was nie. Hulle sou moes geweet het wat in Jerusalem plaasgevind het aangesien daar ’n druk verkeer tussen Rome en die Ooste was. Ons het ook in Hand. 18:1-2 al gesien hoedat die vorige keiser, Claudius, reeds teen die jaar 49-50 nC die Jode verban het vanweë ‘n sekere Chrestos (Christus) se optrede. In 55 nC het Paulus ook al sy Romeinebrief aan die gelowiges in Rome geskryf om hulle in te lig oor die evangelie met die klem op die verlossing deur- en nuwe lewe in Jesus Christus.

 

Daar was dus ’n gemeente van Jode en nie-Jode wat Christene geword het, waarvan die Jode in Rome bewus was. Nietemin het Paulus se poging om hom teen sy landgenote in Rome te verdedig, geslaag. Hy het hulle belangstelling gewek en ‘n deur is vir hom geopen om verder getuienis te gee oor hierdie sogenaamde ‘sekte’ wat oral teenstand ondervind. Hierdie Joodse afvaardiging erken maar net wat nog altyd waar is – Satan en die wêreld verset hulle teen die verkondiging van die evangelie. Paulus het dit al vir hulle uitgewys in sy brief, Romeine 10:21, wat God deur Jesaja eeue gelede gesê het.

 

God het alles van sy kant af probeer om Israel van die evangelie te oortuig: “Maar, dag vir dag het Ek my hande uitgesteek na ‘n ongehoorsame en weerspannige volk, ‘n opstandige volk wat ‘n pad geloop het wat nie goed is nie, wat hulle eie kop gevolg het” (Jes. 65:2). Dat Israel dus die vryspraak verloor het, is nie God se skuld nie. Israel wóú nie na die evangelie luister nie, maar het hulle eie kop gevolg en nie die geloofsweg waarop God hulle wou lei, volg nie. Israel kan nie onskuldig pleit nie. Hulle was te trots vir God se genade.

 

Paulus het sy uiterste bes probeer om te verduidelik wat hier aan die gang is, en net soos die Jode van sy tyd, bevind só baie mense vandag nog hulleself in dieselfde gevaarlike posisie waar Godsdiens nie meer ‘n hoë prioriteit geniet nie. Dit beteken miskien nie dat hulle gekant is teen die Christendom nie, en dit gaan ook nie juis te sleg met hulle nie, maar hardkoppigheid en eiewilligheid lei hulle dalk aan ‘n “laat-maar-gaan” sindroom, ons sal eendag ...! Die evangelie van Jesus Christus is nie iets waarteen ons gekant moet wees nie, dis inderdaad ‘n skat wat naby ons is, só naby dat selfs ‘n klein kindjie dit kan ontdek en aanneem, en nie eers eendag nie.

 

Die evangelie van Jesus Christus vra van ons om ons hardkoppigheid prys te gee, dat ek en jy onsself sal onttroon en God op ons troon sal plaas. Dit is tog waarvoor ons bid: Laat U koninkryk kom. Deur die geloof in Jesus Christus word ons mede-erfgename van die heerlikheid van hierdie Koninkryk. Natuurlik besit ons nog nie die koninkryk in sy volmaaktheid nie, maar daarom bid ons: “Laat U koninkryk kom;” Dit is: “Regeer ons so deur U Woord en Gees dat ons ons hoe langer, hoe meer aan U onderwerp. Bewaar U kerk en laat dit groei. Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen U heilige Woord bedink word, totdat die volkomenheid van u ryk kom, waarin U alles in almal sal wees” (Antw. 123 van Heidelbergse Kategismus).

 

Dit help nie ons vra ons Vader om Sy koninkryk te laat kom terwyl ons oë na die hemel gerig is, en ons diep gewortelde drang van ons sondige natuur nog self wil regeer nie. “Die Here se koninkryk is daar waar Hy as Koning erken en gehoorsaam word. Daar waar die Grondwet van die Koning die grondslag van ons lewe word” (Ds. Johan Smit). Daarom leer Jesus ons bid vir die ondergang en vernietiging van ons selfgemaakte koninkrykies want ons hoef nie allerhande beskrywings by die term Christen te voeg nie. Die Here weet mos goed wie sy kinders is en wie nie. Hy ken eintlik net Christene en ongelowiges. By Hom is die ander kategorieë mense dié wat “oral teenstand teen hierdie rigting (van Christus Jesus) is.”

 

Dit is belangrik dat ek en jy wel elke dag soos Christene leef, die Here dien en ander mense wat teenstand bied teen “hierdie rigting”, die Goeie Nuus mee te deel. Deur prediking en oorvertel is die enigste manier hoe hulle van Jesus gaan weet. Deur oorvertel van die goeie nuus word God se genade, tree vir tree, en ook van mens tot mens, in ons wêreld ingedra sodat hulle ook moontlik hulself wil bekeer, en deel wil word van God se koninkryk. Jesus Christus ontmoet en konfronteer ons as sy boeties en sussies daagliks in die gewone omgang van die lewe met die oproep: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God ...” Die bedoeling daarvan is dat ons inderdaad daagliks dít gaan doen!    

 

“God se koninkryk is so onbegryplik groot dat ons sintuie Sy majesteit nie ten volle kan waarneem nie” (Johannes Calvyn).

 

Gebed: Here, ek skiet so ver tekort in my pogings om ‘n behoorlike dissipel van U te kan wees. Stuur my uit om deur U genade, nie iets deur my werke of dade te gaan verdien nie, stuur my om my redding te gaan wys, sodat ander ook deel van U koninkryk wil word. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page