Gedagte vir Vandag
Donderdag, 29 Augustus 2024
Koos Espach
Paulus in Rome (1)
I’m no longer a slave to fear, I am a child of God
Hand. 28:16 – “Na ons aankoms in Rome het Paulus die vergunning gekry om op sy eie te woon met ‘n soldaat om hom te bewaak.”
Die gevangene Paulus se reis na Rome is uiteindelik afgehandel, op rekening van die keiser. Na sy ondervinding van die Here se redding uit die stormsee het hy met vertroue op die Here, die groot hoofstad van die Romeinse ryk betree, met as skoene aan sy voete die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig (Ef. 6:15). Die Romeinse bevelvoerder Julius, het sy gevangene by die betrokke plek besorg, waarskynlik by die militêre kaserne en aan Afranius Burrus, die hoof van die lyfwag van die keiser oorgelewer.
Volgens gebruik moes in die loop van vyf dae ondersoek ingestel word of die beroep op die keiser gewettig was. Burrus het geweet dat dit lank kon duur voordat Paulus voor die keiser sou verskyn en beslis daarna om Paulus onder huisarres te plaas. Paulus kon sy eie woning huur, wat waarskynlik deur die gelowiges in Rome betaal is, en met geld waarmee hy sy beroep as tentmaker verdien het. Die woning was naby die kaserne sodat soldate Paulus met elke wagbeurt kon bewaak. Deur die dag was hy toegelaat om vry rond te beweeg maar soos die gebruik was, saans aan ‘n soldaat vasgeketting word. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike lyfwag wagbeurte gekry het om Paulus op te pas – ’n geleentheid om die evangelie aan hulle te verkondig (vgl. Fil 1:13).
Paulus wou Rome toe. En nou is hy in Rome. Rome, die hoofstad van die destydse wêreld wat volgens oorlewering, in daardie tyd gewemel het van vreemdsoortige godsdienste. Die bekendste vorm van godsdiens, soos deur die staat geproklameer, was die keiserverering. Behalwe vir die verskeie gode wat die Romeine aanbid het, het hulle ook gegryp (vergryp), na sterrewiggelary, droomuitlegging, waarsêery en allerlei Oosterse godsdienste. (Alles, wat natuurlik geen godsdienste was nie). En hoe het hierdie ‘gode’ geleef? Paulus sou in die twee jaar van sy gevangenisskap veel daarvan gehoor het. By Paulus was altyd ‘n soldaat, en die soldate het alles geweet, vanaf die keiserlike verering tot by die sedeloosheid en bandeloosheid van hulle geloofsvergrype.
Te midde van hierdie vergrype bevind Paulus hom nou. Hy is na Rome gestuur om as gevangene te arbei en te getuig. Ja, te getuig. Deur die genade van God moes die ‘Geestelike oorlogvoering’ ook voortgesit word. Paulus sê inderdaad in Efesiërs 6 dat ons gewikkel is in ‘n oorlog teen ‘n gedugte vyand – in hierdie geval nie die keiser nie, maar Satan en sy trawante! Ons moet hulle teenstaan, en die regte manier om dit te doen het Paulus ook vir ons nagelaat. Hy sê ons moet nie elke dag van die oggend tot die aand aan Satan dink nie, maar eerder ons aandag en energie aan die Here wy. Hoe doen ons dit?
Kom ons probeer Paulus se raad in Efesiërs 6 om die volle wapenrusting van God aan te trek sodat ons standvastig kan bly in ons geloof:
· Wapen no 1: “Die waarheid as gordel om ons heupe” (6:14a) – Aanvaar dat Jesus die weg en die waarheid is en lééf dit! So word Satan teengestaan.
· Wapen no 2: “God se vryspraak as borsharnas” (6:14b) – Glo dat God ons vrygespreek het van al ons oortredings. Satan kan ons daarom nie aankla by God nie.
· Wapen no 3: “Die evangelieverkondiging as skoene aan ons voete” (6:15) – Vertel vir ander van God se verlossingsdaad in Christus. Dit verklein Satan se grondgebied!
· Wapen no 4: “Geloof as skild” (6:16) – Keer Satan se brandende pyle van twyfel af deur God op sy woord te neem en sy beloftes te vertrou.
· Wapen no 5: “Verlossing as helm” (6:17a) – Glo elke dag dat Jesus Christus ons verlos het en nuutgemaak is. Dit keer dat ons nie in versoeking kom om weer te sondig nie.
· Wapen no 6: “Die Bybel as swaard van die Gees” (6:17b) – Bestudeer die Woord van God sodat ons kennis daarvan, Satan in trurat plaas wanneer hy ons konfronteer.
· Wapen no 7: “Gebed” (6:18) – Deur gereeld en volhardend te bid hou ons Satan op ‘n afstand sodat hy nie vashouplek aan ons kan kry nie.
Geestelike oorlogvoering beteken om met die Here besig te wees. Om gedurig met Hom in gebed te praat. Dit geld vir elkeen van ons wat kinders van God genoem word. Ons moet so gereeld in God se Woord woel, dat dit ons gedagtes en selfs ons manier van stap deur die lewe verander. Ons sal dan al hoe nader aan Sy wil vir ons lewe kom. Ander sal dit raaksien en ook so wil wees. Ons kan mos nie stilbly oor Jesus se verlossing nie. Nee, as ‘n goeie ‘soldaat’ moet ons elke kans gebruik om die ware feite oor God aan ander oor te dra. Daar waar ons werk, op skool, tussen ons vriende en familie is, moet ons nooit ’n kans laat verbygaan om God aan hulle bekend te stel nie. Dan sal ek en jy op ons pos bly tot die einde toe (Ef. 6:13).
“Hulle wat nie met Satan wil handel dryf nie, moet wegbly van sy winkel af” (Robert South).
Gebed: Here, dankie dat U my deur Paulus tot die tande toe bewapen het sodat ek kan staande bly teen die magte van die bose. Amen.
Commentaires