Gedagte vir Vandag
Woensdag, 28 Augustus 2024
Koos Espach
Van Malta af Rome toe (2)
God se kinders het mekaar nodig
Hand. 28:15 – “Die gelowiges daar het van ons gehoor, en party van hulle het ons by die Appiusmark kom ontmoet en party by die Drie Herberge. Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed geskep.”
Met die lees van hierdie kort Skrifgedeelte, kon ek nie anders as om te dink hoe dankbaar Paulus werklik was nie. Na maande se swaarkry a.g.v. hofsake, vervolging, skipbreukeling ... , is hy uiteindelik naby Rome, die hoofstad van die wêreld van sy dag. Daar sou hy voor die Romeinse keiser verskyn om sy onskuld te bewys en ook van Jesus Christus te getuig. Maar sy grootste vreugde was op daardie oomblik oor die twee groepe gelowiges wat die moeite gedoen het om hom, na al sy ontberinge, kort duskant Rome kom ontmoet het. Hierdie ontmoeting spreek boekdele: Selfs met God by jou, het gelowiges mekaar nodig.
Hulle was eintlik vreemdelinge teenoor mekaar. Hulle het Paulus immers net ‘geken’ deur sy brief (Romeine), wat hy vroeër aan hulle geskryf het. Maar nou is dit ‘n klomp windverwaaide, natgeswete en glimlaggende gelowiges wat ver geloop het om mekaar in lewende lywe te ontmoet, en Paulus weer laat moed skep. Ek glo dit was ‘n toneel van liefdevolle gesigte en ontydige trane wat hom God laat dank het. ‘n Toneel wat by my en jou as Christene hoort – Christene wat vir mekaar “Oorgee – Omgee – Uitgee”, soos wat ons gemeente se jaartema lui.
Paulus sê vir ons in een van sy briewe: “Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus” (Gal. 6:2). Dis wat Christene doen, kortom, dissipels van Jesus is mense wat oorgee, omgee en uitgee. Paulus sê in die kerk moet dinge anders as in die wêreld wees. Daarbuite wil almal die beste, die sterkste, die rykste, die gewildste, en die magtigste wees. Met die gevolg dat mense eenvoudig net bo-oor mekaar loop. As Geesvervulde Christene leef ons nie mekaar uit die pad uit nie, maar sal gaan stilstaan by hulle wat swaarkry of wat êrens deur die lewe gepooitjie is en ‘hulle wonde verbind.’
In die kerk is daar nie plek vir sterre of helde nie. Daar is ons almal wenners wat vir mekaar omgee, oorgee en uitgee. Omgee is om liefde ‘n werkwoord te maak – ons dra mekaar se laste – ons gee om vir mekaar se geestelike, fisiese en emosionele nood. Hoekom? Omdat oorgee, omgee en uitgee die lewe van Jesus kenmerk. Jesus het nie net omgegee vir mense se geestelike nood nie. Wanneer hulle honger was, het Hy hulle gevoed. Wanneer hulle siek was, het Hy hulle genees. Wanneer hulle gebind was, het Hy hulle bevry. Wanneer hulle onkundig was, het Hy hulle geleer. Wanneer hulle hartseer was, het Hy hulle getroos. Wanneer hulle in ’n praktiese verleentheid was, het Hy voorsien (vgl. Johannes 2:1-12 – Die bruilof in Kana).
Jesus het ook sy dissipels geleer om by die praktiese nood en behoeftes van mense uit te kom (vgl. Matt. 25:31-46 – oorgee, omgee en uitgee aan die geringstes). Jesus was dié oorgee-, omgee- en uitgee Mens. Daarom verwag Hy van my en jou as sy dissipels om ook oorgee-, omgee- en uitgee mense te wees. Dit moet ‘n brandende begeerte by ons kweek om sy voorbeeld te volg, want ons is mos ‘tempels’ van Jesus. Hy leef deur sy Gees in ons. Hy het aan my en jou, om dit by wyse van beeldspraak in sy (Nuwe) Testament, sý oorgee, omgee en uitgee DNA bemaak! Ja, goed, dit gaan nie maklik wees nie. Maar net soos Paulus in Filippense 3:12, wil ons nie beweer dat ons dit alles al volkome bereik het, of dat ons volmaak is nie. Solank ons steeds aanhou om uit dankbaarheid daarna te strewe, want Christus het ons Syne gemaak.
Ongelukkig is daar in hierdie wisselvallige tye waarin ons leef, baie mense wat nog agter die verskoning skuil dat hulle nog nie kan omgee en uitgee nie, aangesien hulle steeds sukkel om ten volle oor te gee. Hulle wil éérs meer leer, éérs nog dít doen en nog dát uitsorteer. Hulle sal as hulle eendag oud is daaraan aandag gee. Só mislei die Satan hulle tot blatante ongehoorsaamheid. Die ironie is dit: As ons nie omgee en uitgee nie, sal ons nié groei in ons oorgee nie. Hierdie waarheid is so belangrik dat ek dit met die volgende verhaal wil versterk:
Toe die Samaritaanse vrou by die put ’n ontmoeting met Jesus gehad het (Joh. 4:1-42 – veral verse 28-30, asook 39-42), het sy, selfs al het sy nog getwyfel, dadelik ’n boodskap en ’n getuienis gehad wat sy kon gaan uitgee aan mense vir wie sy omgegee het. Sy het nie gedink sy behoort eers haar eie lewe heeltemal uit te sorteer, of dat sy eers die pad drie jaar saam met Jesus moet stap, voordat sy die reg het om uit te gee nie. Nee, sy het dadelik gaan vertel en deurdat sy gaan uitgee het, het sy nie net gewys dat sy omgee vir ander mense nie, maar dit was ook ’n bewys van haar gehoorsaamheid, haar oorgee aan God.
Toe die ander Samaritane ook tot geloof kom, is háár geloof versterk en het sy in haar oorgawe aan God gegroei. Jesus sê sy dissipels is almal mense wat oorgee, omgee en uitgee want God se kinders het mekaar nodig om te groei in Hom. Is ek en jy reeds oorgee, omgee en uitgee dissipels van Jesus, of is ons net maar nog lidmate van ’n kerk?
“Christus soek nie halfpad-dissipels wat hulle voorneem om een aand per week, of ‘n naweek af en toe, of hulle aftreejare vir Hom te gee nie. Hy soek dissipels wat genoeg omgee om Hom die eerste plek in hulle lewe te gee” (William Macdonald).
Gebed: Vader, in die Naam van Jesus, help asseblief deur u Gees, dat elkeen wat net ’n lidmaat van die een of ander kerk is, ook ’n oorgee – omgee – uitgee dissipel van Jesus sal word. Amen.
Comentários