top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 27 Augustus 2024

Koos Espach


Van Malta af Rome toe (1)

 

Geloof in God se tydsberekening

 

Hand. 28:10-15 – “Hulle het ons met baie geskenke vereer, en toe ons vertrek, het hulle ons van alles voorsien wat ons nodig gehad het. 11 Na drie maande het ons vertrek met die Dioskuri, ‘n Aleksandrynse skip, wat daar oorwinter het. 12 Ons het in Sirakuse gekom en drie dae daar oorgebly. 13 Daarvandaan het ons verder gevaar en in Regium gekom. Die volgende dag het daar ‘n suidewind begin waai, en na twee dae was ons in Puteoli. 14 Daar het ons gelowiges teëgekom wat ons uitgenooi het om sewe dae by hulle te bly. En so is ons na Rome toe. 15 Die gelowiges daar het van ons gehoor, en party van hulle het ons by die Appiusmark kom ontmoet en party by die Drie Herberge. Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed geskep.”

 

Paulus het nie toegelaat dat sy omstandighede sy denke negatief beïnvloed nie. Hy het geweet God is groter as alles: groter as die skipbreuk; die Romeine teenoor hom as gevangene; sy eie volk wat hom dood wou sien, ja, almal wat hom leed wou aandoen. Merkwaardig! Hy kon mense met die genade van God gesond maak, maar self moes hy die doring in die vlees aanvaar. Ons sou baie graag wou weet wat Paulus verder, gedurende die drie maande van hulle verblyf op Malta, gedoen het. Wat ons wel weet, God het sy dienaar Paulus gebruik om ook hier hoop en bevryding vir die Melitiërs te bring. Hy het as’t ware die ‘vlag’ van God se koninkryk op ‘n splinternuwe terrein kom plant en op ‘n tasbare manier hoop en bevryding vir die eilandbewoners gebring.

 

Na drie maande se verblyf op die eiland, vertrek Paulus-hulle per skip om hul reis voort te sit Rome toe. ‘n Reis wat Lukas in detail vir ons beskryf. Elkeen dra ‘n bondeltjie in die hand: ‘n geskenk van die dankbare Melitiërs vir wat Paulus vir hulle gedoen het. Die eiland sou nooit weer dieselfde wees nie. En wat Paulus hulle betref: ellendig het hulle op die eiland aangekom, feitlik alles in die storm verloor, maar in waardigheid daarvandaan vertrek met alles wat hulle nodig gehad het. Waarlik, God voorsien!

 

Die reis van Puteoli na Rome is verder te voet afgelê soos uit die volgende verse blyk, ’n vyf dae reis op die bekende Via Appia, ‘n pad wat van Capua tot in Rome, 312 vC. gebou is. Nege en sestig kilometer van Rome af ontmoet die eerste gemeentelede uit Rome hulle. Hulle weet van Paulus – drie jaar vantevore het hy sy brief aan hulle geskryf. Daarvandaan stap die groter groep tot by die herberg met die naam Drie Herberge wat vir oorslaapreisigers ingerig is, 53 km van Rome af. Hier kry die tweede groep gemeentelede hulle. Toe Paulus die twee groepe gelowiges ontmoet, het hy God gedank wat vir hom as gevangene so ’n warm ontvangs gereël het en hy het moed geskep oor wat vir hom voorlê.

 

Uiteindelik! Wil ons amper van vreugde juig. Na maande se reis is hulle naby Rome. Paulus het lank reeds ‘n begeerte gehad om Rome te besoek om daar ook mense vir Christus te wen (Rom. 1:11-15). Hy het seker nooit kon droom dat hy op staatsonkoste daar sou aankom nie. Dalk het hy al begin moed verloor en gewonder of Christenskap die moeite werd was. Maar dan kry hy hierdie groepe gelowiges wat hom langs die pad inwag en hom toejuig en moed gee om end-uit te volhard.

 

Laat my dink aan ons Comrades-marathon atlete. Daar is tye wat ons sommer wil moed opgee en bail. Maar met die duisende toeskouers langs die pad se toejuiging, skep ons weer moed en kan ons vasbyt tot by die eindpunt! Wees vandag en elke dag ‘n aanmoediger en geniet ander se ondersteuning, waar jy wat hier lees, jou ook al bevind. Wees ‘n baken van hoop vir ander.

 

Tog, weet ons ook dat Paulus die bemoediger was tydens die storm. God is groter as alles. Hy het geweet God se tydsberekening is altyd volmaak. Daarom kan ons aanneem dat hy nie sommer ongeduldig geraak het oor al die ‘vertragings’ wat God in sy lewe toegelaat het nie (vgl. 16:7 byvoorbeeld). En dit geld vir ons ook – “Wanneer die tyd daarvoor kom, doen Ek dit. Ek is die Here” (Jes. 60:22). Ons tyd is nie God se tyd nie.

 

Ons moet nooit in ons ongeduld en haas probeer om die Here by ons rooster in te pas nie. Ek en jy sien ons probleme in die lig van die beperkinge van die tyd, terwyl Hy daarna kyk vanuit ewigheidsperspektief. Hoe meer ons “God toelaat om ons te verander deur ons denke te vernuwe, sal ons dan ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is” (Rom. 12:2). Hoe meer volkome ons oorgawe aan Hom is, hoe duideliker sal die volmaaktheid van sy tydsberekening vir ons deurskemer.

 

God is volmaakte wysheid; Hy weet wat die beste vir ons, sy kinders is. Ons moet leer om ons tyd met dié van God te sinchroniseer. Hoe doen ons dit? Dit is moontlik om met Hom in noue voeling te bly deur sy Woord en ‘n lewende verhouding met Christus op te bou. Dit is nie maklik nie! Maar as God se wil vir ons hoofsaak word, sal ons toelaat dat sy Gees ons denke verander en toelaat dat sy Gees ons lei. Mense wie se lewe in die hande van die Here is, kan ‘n wêreldse verskil aan hulle omgewing maak. Ter wille van een sal die Here die hemele skeur. Ter wille van een sal Hy stormwinde keer. Ter wille van een sal Hy ander se lewens red, soos in Paulus se geval! Dalk is ek en jy daardie einste een! Pluk ander mense rondom ons die vrugte omdat ek en jy geliefdes van die Here is?

 

“Die tyd is altyd te stadig vir dié wat wag; te vinnig vir dié wat vrees; te lank vir dié wat treur; te kort vir dié wat gelukkig is. Maar vir dié wat liefhet, is daar glad geen tyd nie” (Henry van Dyke).

 

Gebed: Here, vertraag my pas en maak my rustiger. Bring my in pas met U. Verander my in ‘n seën vir diegene rondom my. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page