Gedagte vir Vandag
Maandag, 26 Augustus 2024
Koos Espach
Paulus op die eiland Malta (3)
Om Jesus se hand op ons skouer te voel
Hand. 28:7-9 – “Daar was ‘n plaas in daardie omgewing wat aan die hoof van die eiland, ‘n man met die naam Publius, behoort het. Hy het ons vriendelik ontvang en ons drie dae lank as sy gaste gehuisves. 8 Publius se pa was in die bed, siek aan maagkoors. Paulus het na hom toe gegaan, en nadat hy gebid het, het hy hom die hande opgelê en hom gesond gemaak. 9 Na hierdie voorval het ook die ander siekes op die eiland na Paulus toe gekom, en hy het hulle gesond gemaak.”
Die tweede toneel wat op die eiland afgespeel het, geskied op ’n plaas of landgoed in daardie omgewing wat aan die hoof van die eiland, ’n man met die naam Publius, behoort het. Hy was die bestuurder van Malta en ondergeskik aan die Romeinse goewerneur van Sisilië. Hy was baie vriendelik teenoor Paulus-hulle en het hulle drie dae lank as sy gaste ontvang. (Dit is egter nie seker of al twee honderd ses en sewentig skipbreukelinge in hierdie gasvryheid gedeel het nie).
Publius se pa het in die bed gelê met maagkoors, in daardie tyd ‘n baie gevaarlike siekte wat die dood tot gevolg gehad het. Paulus het na hom toe gegaan. Hy gaan die stryd aanpak teen die dood, en hier die vyand in die Naam van Jesus Christus oorwin! Daarom bid Paulus eers. Dit was seker vir die omstanders iets onverklaarbaars dat die man kniel en spreek tot die Onsienlike. Maar gebed is om die aangesig van God te soek en Paulus ken die krag van ‘n gelowige se gebed. Hy vind die hande van ons Almagtige Vader, lê sy hande op Publius se pa en maak hom gesond.
Die nuus oor die genesing van Publius se pa het gou deur die eiland versprei. Deur God se genade word die geredde Paulus nou die redder op die eiland. Op dieselfde manier genees Paulus ook die ander siekes op die eiland wat na hom toe gekom het. Paulus werk nie meer soos ’n gevangene nie, maar soos ’n magtige geneser wat rondom hom die seën van God uitbrei. Deur Paulus het die eilandbewoners in aanraking met die Onsienlike Here gekom en is in ‘n sekere sin, ook ingelyf in die koninkryk van God. (Dis my opinie dat Lukas wat ‘n geneesheer was, hom gehelp het met die siekes).
Jesus word nie deur die mag van siekte en dood beperk nie. Sy mag breek deur die grense van siekte en dood, daarom is die dood vir Hom geen laaste finale realiteit nie. Omdat Hy bewus is van Sý opstandingsmag, noem Jesus die dood ‘n slaap. God is ál Een wat die finale sê het en die finale grense trek, nie die dood of siekte nie!
Ons ken die lewe ook so. Ons huil maklik oor die lewe en ons te midde van ons trane, min verligting verwag. Maar … “Is iets te buitengewoon vir die Here?” (Gen. 18:14). Jesus het met verskeie mense wat Hy gesond gemaak het, gewys dat vir God niks buitengewoons is nie. Hy is voorheen geteken as Een wat mag het oor die liggaam, oor die natuurkragte, oor die wêreld van die bosegeeste, en ook oor die dood. Hy is die Redder uit elke denkbare menslike nood, om selfs vir ons wat vandag droewig huil, stom van verwondering te maak!
Daar is min dinge wat mens so mismoedig maak as wanneer ons ernstig siek word. Elke dokter word geraadpleeg en elke krieseltjie mediese advies word aangegryp. As Jesus se volgelinge is ons nie gevrywaar teen die aanslae van die lewe nie. Ons het egter ‘n verbintenis met Hom wat oneindig groter is as onsself na wie ons vir hulp kan gaan. Hy kan die onmoontlike doen! Jesus is by magte om die kloue van die dood of siekte, permanent oop te buig vir almal wat in Hom glo, ook vir jou en my, en ons kinders!
Die grootste geskenk wat ons vir ons kinders kan gee, eindig nie by dit wat ons vir hulle nalaat as erfporsie of sorg vir ‘n behoorlike akademiese geleerdheid nie. Die héél belangrikste wat ons vir hulle kan doen, is om vir hulle die weg na Jesus toe aan te toon. Deel van daardie daad, is om vir hulle te bid, só te bid want ons weet dat Jesus omgee vir kinders.
Van twee dinge kan ons absoluut seker van wees: ek en jy sal eendag sterf en dat ons, as ons in Jesus Christus glo, vir altyd sal lewe. Elke dag wat verbygaan, is ‘n treë nader aan die dag waarop ons hierdie wêreld gaan verlaat, daarom moet ek en jy só leef dat die dood maar kan kom. Intussen moet ons seker maak dat ons genoeg tyd afstaan aan ons en ons kinders en selfs ons kleinkinders, se ewigheidswaardes! Ons kan ook waag om nou al te leer om sy hulp te vra met al ons probleme. Ons aanbid ‘n lewende God. Hy is in staat om wonders te doen!
“Jesus ruk nie alleen die fondamente van die doderyk oop nie, Hy skud ook mense se ongeloof stukkend deur die onmoontlike te laat gebeur” (Prof. Stephan Joubert).
Gebed: Here, dankie dat U dit moontlik gemaak het dat ek uit die dood van die sonde kon opstaan tot ‘n nuwe lewe. Ten tye van siekte is dit nie die duisternis waarheen ek gaan nie, want U is Lig. Dit is ook nie eensaamheid nie, want U is met my. Dit is ook nie êrens onbekend nie, want U, my opgestane Here is daar. Dankie Jesus. Amen.
Comments