top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 23 Augustus 2024

Koos Espach


Paulus op die eiland Malta (2)

 

God buk laag om ons op te tel

 

Hand. 28:5-6 – “Paulus het egter die slang in die vuur afgeskud en niks oorgekom nie. 6 Hulle het gewag dat hy moet opswel of skielik dood neerslaan, maar nadat hulle ‘n lang ruk gewag het en gesien het dat daar niks ongewoons met hom gebeur nie, het hulle van mening verander en gesê hy is ‘n god.”

 

Die inwoners van die eiland ken blykbaar die uitwerking van slanggif en dat dit dodelik kan wees. Hulle verwag dat Paulus gaan opswel en enige oomblik dood neerslaan, maar al wat hulle sien is Paulus wat die gedierte in die vuur afskud en dat geen onheil hom tref nie. Hulle was só beïndruk daarmee dat hulle opinie van Paulus dramaties verander het van besliste moordenaar tot ‘n goddelike figuur. Paulus ken daardie verering. In Listra het die Likaoniërs homself en Barnabas verhef tot die gode, Zeus en Hermes (14:11-12). Daar is egter nie nou tyd om die eilandbewoners te onderrig in die evangelie nie en bowendien is hy met hulle taal onbekend, daarom swyg hy en gaan doodgewoon met sy werk voort.

 

Paulus was nie ‘n god nie, maar hy het geweet God sou hom help. Dan was dit ‘n wonderwerk, sou die eilandbewoners dalk dink. Eers oorleef almal die geweldige storm, en dan oorleef Paulus die giftige slangbyt. ‘n Wonderwerk is wanneer iets gebeur wat nie verklaar kan word nie. Hierdie ‘wonderwerk’ kan egter verklaar word. Volgens Lukas 10:19 het Jesus gesê: “Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap, en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.” En in Markus 16:17-18 staan daar geskrywe: “Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: ... met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie ...”

 

Paulus en almal aan boord het alles verloor, maar met hulle lewe daarvan afgekom. Wat nog? Sou ons met reg kon vra! Wel, die ou bygeloof van “slegte dinge kom altyd in drievoud” dra hier nie water nie. Die Here gebruik al die negatiewe gebeure tot ‘n getuienis vir die eilandbewoners en vir ons, om weereens te bevestig dat “Hy die koers van die mens bepaal met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom (of haar). As so iemand val, bly hy (sy) nie lê nie, want die Here help hom (haar) op” (Ps. 37:23-24).

 

Ons mag vir geen enkele oomblik dink dat ons op eie stoom moet aansukkel deur die lewe nie. Nee, God is deurentyd by ons. Selfs nie as ‘n sonde my en jou die dag pootjie, of as een of ander groot krisis ons lewe kom deurmekaar krap en dit voel of die donkerte op ons toesak nie. Die Here los ons nie alleen nie. Ons val ook nie uit sy hande uit as ons die slag struikel nie. Inteendeel, as ek en jy elke dag ons lewe aan God se sorg toevertrou, verseker bogenoemde Bybelverse dat die Here ons nie in die steek sal laat nie.

 

En tog sê ons dat ons ons vertroue in God plaas. Maar as ons so deur die dinge wat in die wêreld met ons gebeur, geslaan word, kom ons wiele af. Hoekom dan so? Ons word só erg geraak deur dinge wat met ons gebeur, miskien omdat ons vertroue nie regtig in God se hande rus nie, maar in die dinge wat ons self bymekaarmaak. Ons vertrou ons beursies en bankrekeninge en dinge van die wêreld. As hulle dik en vol is en die son skyn, glimlag ons al die pad, maar wanneer dit dun en leeg en donker is, tap die sweet ons af. Ons plaas ons vertroue in wêreldse dinge, in plaas daarvan dat ons dit in die hand plaas van die Een wat in beheer is van die hele wêreld. Daarom die voorstel: “Plaas julle hele lewe in die hand van God, in totale afhanklikheid van Hom. Wanneer die tyd daar is, sal Hy julle ’n ereplek by Hom gee” (1 Pet. 5:6 – Die Boodskap). 

 

God belowe trouens dat Hy dan nie sal aanstap en ons sal los om op ons eie uit die gemors te probeer opstaan nie. Nee, Hy sal daar en dan omdraai en langs my en jou kom hurk. Hy sê Hy sal ons dan met sy Vaderhande ophelp. Daarna kan ons weer saam met Hom op die pad van die lewe voortstap! Ai, watter wonderlike voorreg om ‘n God te dien wat ons nie verder in die modder intrap as ons op die grond lê nie; maar ‘n God wat ons diepste seerkry raaksien en wat ook met ons swakhede medelye kan hê. Sy ondersteuning in ons ‘neerslaandae’ is meer werd as al die goud in die wêreld.  

 

Wanneer ek en jy dan ons hande in God se hand plaas, kan die wêreld se winde maar kom en die storms maar woes woed, dit sal ons nie onderkry nie. Dit sal ons emosies nie op ’n hoop waai nie, want ons ken Iemand wat seker maak dat ons vas bly staan. Hy hou ons stewig in sy hande vas. Hy sal sorg, al is die beursie dun en die bankrekening leeg. Al breek die verhoudings uitmekaar of al duik ons gesondheid in die hek, niks sal ons uit die hand van die Almagtige Vader kan ruk nie. Dalk moet ons weer ’n klip gaan soek om op te gaan sit en net so ’n voëlvlug oor ons lewe weer neem. Ons moet seker maak waar ons vertroue lê. Ons moet weer opnuut albei ons hande in God se hand plaas. Wanneer die lewe dan met sy uitdagings kom en die mat onder ons uitruk, sal ons nie pens-en-pootjies neerstort nie, maar sag rus in ons Vader se arms. 

 

“Struikelblokke is daardie skrikwekkende voorwerpe wat ons in ons pad sien as ons ons oë van God af wegneem” (Hannah Moore).

 

Gebed: Vader, ek besef maar net weer dat ek te veel op wêreldse dinge vertrou. Ek plaas opnuut weer my hele lewe in U hande en vertrou met alles in my op U, my Vader. Amen.

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page