Gedagte vir Vandag
Donderdag, 22 Augustus 2024
Koos Espach
ONS HET SEDERT DONDERDAG, 15 AUGUSTUS PROBLEME ONDERVIND OM DIE DAGSTUKKIES UIT TE STUUR. ALMAL HET DUS NIE DIE ONDERSKEIE STUKKE ONTVANG NIE. INDIEN U VANDAG SE STUK REEDS ONTVANG HET, VRA ONS DERHALWE VERSKONING.
Paulus op die eiland Malta (1)
Dien God deur ander te dien
Hand. 28:1-4 – “Nadat ons veilig aan wal gekom het, het ons gehoor dat dit die eiland Malta is. 2 Die mense daar was baie vriendelik teenoor ons. Omdat dit begin reën het en koud was, het hulle ‘n vuur aangesteek en ons almal daarby verwelkom. 3 Paulus het ‘n klomp hout bymekaargemaak en op die vuur gegooi. Van die hitte het daar ‘n slang uitgekom, en dit het aan sy hand vasgebyt. 4 Toe die mense die slang aan Paulus se hand sien hang, sê hulle vir mekaar: ‘Hierdie man moet beslis ‘n moordenaar wees. Al is hy uit die see gered, wil die goddelike wraak hom nie laat lewe nie.”
Druipnat staan al twee honderd ses en sewentig skipbreukelinge op ‘n eiland. Eers nadat hulle die eiland veilig bereik het, het hulle ontdek dat dit die eiland Melita, die moderne Malta, was wat vandag ook Sint Paulusbaai genoem word. Dis winter, dit reën, dis koud. Lukas is veral beïndruk deur die eilandbewoners se mensliewendheid. Die inboorlinge het hulle almal vriendelik verwelkom met ’n vuur wat hulle aangesteek het. Vir die moeë deurdrenkte groep wat bibber van die koue, was die warm vuur die grootste weldaad van hulle vriendelike ontvangs.
Paulus beweeg soos ’n vry man en is dadelik weer in aksie. Hy help om die vuur te stook, duidelik nie met ’n ketting geboei nie. Hy was ewe uitgeput en deurnat as al die ander, maar het gedoen wat vir almal goed was. Met ‘n dienaarshart is geen taak benede hom nie. Maar ’n slang het tussen die hout uitgekom en Paulus gebyt, en ook vasgebyt. Toe die inboorlinge die gedierte sien klou aan sy hand het hulle vir mekaar gesê hy is beslis ’n moordenaar. Hierdie man is uit die see gered, maar Diké, die Griekse naam vir die godin wat mense straf vir onreg, gaan hom nie laat lewe nie.
Ai, wil ons sug, moet Paulus dan altyd en oral vervolg word? Veral wanneer ons in gedagte hou wátter trauma Paulus alreeds deurgegaan het voordat hy aanboord gegaan het: Ontberings, lyfstraf, tronkstraf, hongerte, hofsake, moordkomplotte, ens. Paulus was onskuldig, en tog was hy ‘n gevangene saam met ‘n klomp ander. Vir veertien dae was dit eintlik nag op die skip, boonop word hy deur ‘n nakomeling van die vervloekte in die Paradys (Gen. 3:14), óók nog gekeer om in Rome te gaan getuig. Dan wil ons menslike tendens, die vraag vra: Waarom het die Here die skipbreuk toegelaat, en nou ook die slang? Hy kon dit mos verhoed het?
Die Christelike Geloof is inderdaad 'n bonatuurlike godsdiens. Dit is die manier waarop die Here aan Sy kinders vermoëns gee. Paulus het dit geweet, selfs toe die skip uitmekaar geslaan is, het hy nooit sy oë van sy roeping, wat Christus was, afgehaal nie. Paulus het nooit moed opgegee nie. Al het hy as die leiersfiguur op die skip ‘oorgeneem’, wys hy op land sy dienaarshart. Om soos Jesus te wees, is om dienaar te wees. Dis wat Jesus Homself immers genoem het. Daarom kon Paulus selfs help hout bymekaarmaak. Dit maak nie saak hoe groot of klein die taak is nie. Die vraag om te vra is: Moet dit gedoen word? Met ‘n dienaarshart is geen taak benede ons nie.
Ware dienaars doen elke taak met ewe veel toewyding want hulle doen dit van harte soos vir die Here, en nie vir mense nie (Kol. 3:23). Ons Christene is of gaan nooit in die lewe só belangrik word dat ons nie met nietige takies kan uithelp nie. Paulus sê “as iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself” (Gal. 6:3). Ons word in die klein dingetjies meer soos Christus. Jesus het nie geskroom om takies te doen waarvoor ander mense hulle neuse gewoonlik optrek: voete was, hand gee met kinders, ontbyt maak, melaatses versorg, kos voorsien, en nog vele meer. Niks was benede Hom nie, hy het dié dinge nie ondanks sy grootsheid gedoen nie, maar danksy sy grootsheid, en Hy verwag dat ons sy voorbeeld volg: “Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen” (Joh. 13:15).
As ons Here bereid was om voete te was, en Paulus om hout bymekaar te maak, wat moet ons as gelowiges nie vir mekaar doen nie? Al voel dit soms of dit wat ons doen, ongesiens verbygaan, asof niemand dit raaksien of waardeer nie, kan ons weet God het ons daar met ‘n doel geplaas. Dit gaan buitendien nie oor ons nie, maar oor Hom wat ons stuur! Alle eer aan Hom! Dan ook, Hy het elke haar op ons kop getel, en Hy weet waar ons woon. Ons moet daar bly totdat Hy besluit ons moet verhuis om op ‘n ander plek iets anders te gaan doen. Maar intussen is ons daar waar ons werk en woon, waar Hy ons geplaas het. Dis dáár waar ons sy hande en voete moet wees. Dis dáár wat Hy vra dat ons dinge vir mekaar moet doen. Dis dáár wat Hy wil hê ons moet op ons knieë bly om ander se voete skoon te hou. Met ons tyd, ons geld en ons gawes dien ons God deur ander te dien!
“Christus gebruik ons soos ‘n pen om mee te skryf – of nog beter: Hy maak ons een van Sy vingers”
(Charles G. Trumbull).
Gebed: Here Jesus, rus my toe met eienskappe wat iets in my sal laat deurskemer van Ú lewe in my: die nederigheid wat my sal weerhou van verwaandheid en misplaaste trots; die grasie en sagtheid wat dit vir mense maklik sal maak om met my saam te leef; die toewyding en betroubaarheid wat van my ‘n goeie kollega en werknemer sal maak; die deernis en hulpvaardigheid wat mense vinnig sal raaksien waar en hoe ek ander kan help; die voortdurende bewussyn van U teenwoordigheid, sodat ek regtig sal poog om alles te doen soos U. Amen. (‘n Gebed deur William Barclay.)
Comments