Gedagte vir Vandag
Donderdag, 15 Augustus 2024
Koos Espach
Die skipbreuk (2)
God heers ook oor die natuur
Hand. 27:42:44 – “Die soldate het besluit om die gevangenes dood te maak, sodat niemand van hulle dalk kon uitswem en ontsnap nie. 43 Maar die Romeinse offisier wou Paulus red en het hulle verhinder om dit te doen. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en land toe te swem. 44 Die ander moes dan volg deur aan planke en ander wrakstukke vas te klou. Op hierdie manier het almal veilig aan land gekom.”
Terwyl golwe die gestrande skip se agterstewe uitmekaar slaan, het die Romeinse soldate besluit om al die gevangenes dood te maak sodat hulle nie kon ontsnap nie. Die soldate het die wet geken: as ‘n gevangene ontsnap word jý doodgemaak (Hand. 12:19). Julius, die bevelvoerder, het hulle egter gekeer. Uit dankbaarheid teenoor Paulus het hy besluit om almal se lewe te spaar. Hier kan ons weer sien hoe God deur Julius se hand ter wille van Paulus, al die passasiers red, ook die gevangenes. Hy is dan ook die ‘middel’ in God se hand om te verseker dat Paulus in Rome kan kom.
Verder neem Julius ook die leiding by die reddingswerk. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring, en land toe te swem. Die ander moes dan volg deur aan planke en ander wrakstukke vas te klou. God se pad gaan ook deur die see. Ter wille van sy dienskneg Paulus, het almal veilig aan land gekom.
Die storie word vertel van ‘n huisgesin in Amerika wat ‘n tornado moes trotseer. Terwyl die tornado hulle huis genader het en daar geen kans was om te vlug nie, het die pa voorgestel dat hulle ‘n groot hoeveelheid water op ‘n matras uitgiet en daaronder wegkruip. Sy vrou en kinders maak toe só. Hy het by die oop venster gaan staan en gekyk hoe die tornado nader beweeg. Sy seuntjie het skielik homself uit sy ma se arms losgeruk en aan sy pa se been vasgeklou. Sy ma het na hom geroep, maar, hy het net geantwoord: “Die beste ding om te doen as die storm kom is om aan pa se been vas te klou.”
Daar is bitter min mense, indien enige, wat nog nooit ‘n ‘tornado’ in hul lewens ervaar het nie. Al was dit net ‘n sterk wind wat gedreig het om ons in ‘n ander rigting in te waai, of die nattigheid van die reën gedreig het om ‘n demper op ons geloof te plaas. Ons moet weet hoe om storms te hanteer, hoe om dit spreekwoordelik in die oë te kyk. Die beste ding om in ‘n storm te doen is om aan ons Vader, ons God en Skepper vas te klou. Om nie onder iets te gaan wegkruip nie maar, om soos ons Vader die storm in die oë te kyk. God skrik nie vir ‘n storm nie. God verloor nie sy rigting in ‘n storm nie. God se geloof word nie ongeloof in ‘n storm nie. God se vermoë word nie bedreig in ‘n storm nie.
En dis nie ‘n storie nie! Dis waarheid! In Matteus 8:23-26 lees ons: “Toe Jesus in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg. 24 Skielik het daar ‘n hewige storm op die see losgebars, sodat die golwe oor die skuit geslaan het. Maar Jesus het geslaap ...”. Met respek, toe ek dit lees, dink ek: Here, dit is nie ‘n goeie idee om nóú te wil slaap nie en saam met die dissipels maak ek Hom wakker en roep paniekerig: 25 "Here, red ons! Ons vergaan!” 26 Maar toe antwoord die Here: “Waarom is julle bang, kleingelowiges? Ek hanteer ‘n storm in My slaap, dink net waartoe Ek alles in staat is wanneer Ek wakker is.” Daarna het Hy opgestaan en die wind en die see hard aangespreek, en dit het doodstil geword.
Wanneer storms ons Christene tref, sal ons sekere aspekte en fasette van God se karakter, vermoë en getrouheid agterkom wat ons nooit sou besef het terwyl die son geskyn het nie. Hy is saam met ons op ons ‘stormskip’. Daar is nie ‘n storm wat God se oë van ons swaarkry kan verberg nie. Daar is nie ‘n situasie, ‘n seerkry of ‘n verlies wat ons uit God se sig kan neem nie. God kyk deur elke storm en sien ons swaarkry. Hy bly altyd ons Lig, die Lighuis in enige storm om vir ons aan te dui om veilig aan land te kom. Al moet ons swem, of aan wrakstukke van die lewe vasklou. Ons sal nat en moeg aan die anderkant kom maar, ons sal veilig arriveer want God het klaar gesê: “Ek is sterk genoeg om jou storm te hanteer. Bly net standvastig in jou geloof, met jou héle hart. Ek kry jou veilig aan land!”
“Die keuse tussen vertroue op God of vertroue in jouself en ander mense is ‘n óf-óf keuse. As ons ons nie totaal op Hom verlaat nie, dan is ons glad nie besig om Hom te vertrou nie” (Karl Barth).
Gebed: Dankie Jesus dat U groter is as die wind en see en as al my probleme wat soms soos ‘n woeste tornado op my afstorm. Amen.
Comments