top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 12 Augustus 2024

Koos Espach


Die storm op see (7)

 

Die wêreld sien ons deur God se lig

 

Hand. 27:37-38 – “Ons was altesaam twee honderd ses en sewentig mense aan boord. 38 Nadat hulle genoeg geëet het, het hulle die vrag koring in die see gegooi en so die skip nog ligter gemaak.”

 

Waar God is en waar God se mense is, daar skep mense moed! Hier gebeur dit met iets so eenvoudig soos die breek en eet van brood. Sommige verklaarders is van mening dat Paulus hier besig was met die viering van die nagmaal, maar dit is onwaarskynlik dat hy dit omring van heidene sou doen. Of dit wel so was en of almal aan boord die volle impak van die breek van brood en dank aan God verstaan het, weet ons nie.

 

Wat ons wel weet is dat twee honderd vyf en sewentig mense aan boord, nie eens meer daaraan gedink het dat dieselfde Paulus wat nou vir hulle vertel het almal sal oorleef, op ‘n stadium gesê het daar sal lewensverlies wees indien hulle sou verder vaar (27:10). Selfs die twyfelaars wat wou wegkom van die rampskip af, was seker dankbaar hulle is gekeer. Hulle kon ook nou waarneem hoe Paulus, die apostel van Jesus Christus, deur broodbreek en dankgebed die majesteit erken van sy God wat besig is om te werk aan hulle redding. Ek wonder of hierdie klomp heidene ooit die gebruik aan hulle familie en kinders oorvertel het, of selfs voor etes die God wat hulle gered het, met gebed bedank het vir die voedsel wat hulle kon geniet?

 

Wel, hoeveel van ons gelowiges doen ‘n dankgebed voor etes? Hou byvoorbeeld mense dop in ‘n restourant. Paulus skryf in sy brief aan die Korintiërs: “As ek vir God dankie sê vir die kos en lekker eet ... erken ek mos dat dit van God af kom. 31 Alles wat julle doen, of julle nou iets eet of drink, moet julle doen sodat mense kan raaksien hoe belangrik God is.” 1 "Volg my voorbeeld soos ek die voorbeeld van Christus volg” (1 Kor. 10:30-31 en 11:1 – Die Boodskap). Sjoe, diep woorde! Miskien wil Paulus vir ons sê ons moet maak soos hy maak of soos Jesus gemaak het deur God te dank vir die kos wat Hy voorsien. Dit is nie maklik om vir iemand te sê om te maak soos ons maak nie. Ek sluit myself hierby in want ek kry skaam oor al die mislukte pogings in my eie lewe om voluit Christus se voorbeeld te volg.

 

Miskien is Paulus bietjie verwaand om vir ons te sê ons moet leef soos hy leef. Ons moet egter mooi kyk wat Paulus regtig sê. Hy nooi ons uit om die pad van selfverloëning te stap. Indien ons bereid is om saam met Paulus hierdie opdraande pad van selfverloëning te loop, sal ons agterkom dat Jesus Christus ook hier stap. Want dit was toe al die tyd die pad wat Christus, Paulus laat loop het. Op hierdie pad kan ons dan God verheerlik in alles wat ons sê, dink en doen. As Christene is ek en jy eintlik ‘advertensieborde’ van Christus, net soos Paulus was. Dan kan ons, net soos Christus en Paulus, God dank voor elke ete vir die kos wat Hy voorsien. En dit geld ook vir wat ons sê en dink. Ander mense moet deur ons kan raaksien hoe belangrik God is!

 

Ds. Gerjo Ben stuur hierdie mooi verhaal van ‘n klein kersie wat deur ‘n man gedra is terwyl hy die trappe na die vuurtoring uitklim. Op pad na bo vra die kersie vir die man: “Waarheen gaan ons?” “Ons is op pad na die vuurtoring om seine te gee vir die groot bote op die oseaan” antwoord die man. “Wat?! “Hoe is dit vir my, ’n klein vlammetjie, moontlik om seine te gee aan die groot bote op die oseaan? Dis verregaande! Hulle sal nooit my liggie kan sien nie,” antwoord die kersie. “As jy dink jou liggie is klein, is dit jou persepsie. Bly jy net skyn tot ons bo kom, en los die res vir my” sê die man. Toe hulle bo kom, sien die kersie daar staan ’n vreeslike groot lamp, met ’n lang kerspit wat agter afhang. Die man neem toe die lamp se pit en steek dit aan die brand met die kersie en onmiddellik was die hele plek helder verlig. Die lamplig was so sterk dat die skepe op die oseaan dit duidelik kan sien. 

 

Ons is geneig om te dink dat ons nie eintlik ’n verskil kan maak nie. Maar dalk is ons klein vlammetjie juis dié een wat ’n groot lig aan die brand steek en ’n klomp mense help om hulle nie te pletter te loop op die ruwe rotse van die lewe nie. Ons sien almal ons eie beperkings raak, ons voel nie asof ons enigiets van waarde vir iemand kan beteken of doen nie. Terwyl ons onsself sien as klein, nietig en onbeduidend, sal ons dit bly, maar tog is daar een ding wat ons in gedagte moet hou. Al is ons die klein kersie, in die hande van ons Almagtige Vader maak Hy hierdie klein kersie ‘n seën vir almal om te sien. ’n Klein aanmoedigende woordjie of gebed of ’n klein daad van liefde kan ’n groot liefdesvuur aan die brand steek. 

 

Ons moet ook onthou dat Jesus gesê het ons hoef dit nie op eie stoom te doen nie, want “ons sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom” (Hand. 1:8). God sal deur sy Gees vir ons krag gee om te doen wat ons moet doen en sê wat ons moet sê. En wanneer ons dit regkry, dan moet ons soos die ligtoring die lig weerkaats. Dan moet ons die eer terug weerkaats na God toe. Dis wat die Woord van God sê ons moet doen. “As iemand ’n ander persoon help wat hulp nodig het, moet hy dit doen uit die krag wat God hom sal gee. Op dié manier sal almal God se grootheid kan sien en sal Hy die eer vir alles kry” (1 Pet. 4:11 – Die Boodskap). Kom ons prop in by God en maak ’n verskil, sodat die wêreld vir God kan sien.

 

“Daar is maar een oortuigende argument vir die evangelie van God se liefde: die krag van sy kinders se voorbeeld” (William Barclay).

 

Gebed: Here, skenk my die krag om ‘n nederige voorbeeld te wees sodat U Gees wat in my leef, toegelaat sal word om Homself aan ander mense te vertoon. Amen. 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page