Gedagte vir Vandag
Woensdag, 7 Augustus 2024
Koos Espach
Die storm op see (5)
Geloof in wanhoop
Hand. 27:30-32 – “Die matrose wou wegkom van die skip af en het die bootjie in die see neergelaat onder die voorwendsel dat hulle ankers by die boeg van die skip wou laat sak. 31 Paulus sê toe vir die offisier en sy soldate: ‘As hierdie matrose nie aan boord bly nie, kan julle nie gered word nie.’ 32 Toe het die soldate die toue van die bootjie afgekap en hom in die see laat val.”
Die matrose besit nie die geloofsanker wat Paulus het nie. Hulle geloof in Paulus se woorde het ook gewyk want hulle kon sien die stormgeweld slaan geen ag op hulle wense nie. Hulle dink nou net aan hulle eie veiligheid. Hulle wou ongemerk van die skip af wegvlug omdat hulle bang was die skip en almal aan boord gaan teen die rotse verpletter word. Selfsug is nie ongewoon wanneer mense in nood is nie – ongeloof is selfsugtig en ken geen kameraadskap nie. Die hantering van die skip in sulke ruwe omstandighede, hang juis van hulle af; die lewe van al die reisgenote is in hulle hande. Die matrose is die kundiges wat sal weet hoe om tydens die skipbreuk op te tree. Hieraan word nie meer gedink nie. Dis nou elkeen vir homself!
Ongeloof is ook kortsigtig. Daardie sleepbootjie sou onmoontlik al die matrose bevat; wie bly en wie ry? Gelukkig sien Paulus deur hulle plan en waarsku die Romeinse offisier Julius, en sy soldate. Die voorwaarde waarop almal op die skip gered sal word, is dat almal op die skip by Paulus sal bly. God se guns het hulle almal aan die redding van Paulus se lewe verbind. Die matrose moet nie deur eie insig nie, maar deur God se genade gered word. Die soldate se lewe is ook in gevaar as die matrose vlug. Daarom kap hulle die toue, waarmee die matrose die bootjie sou laat sak, met hulle swaarde af. Die matrose se hoop op redding op die bootjie verdwyn in die see. Hulle is nou ook net op die Here se belofte en genade van redding aangewys, soos die res aan boord.
Redding beteken hier nie om van die land afgesny te wees nie, maar om nie meer van God afgesny te wees nie. Wat twee honderd drie en sewentig mense aan boord nie geweet het nie, net Paulus, Lukas en Aristargos die Masedoniër (27:2), is dat God ook aan boord was. God het reeds vooraf bepaal dat die skip êrens op ‘n eiland moet strand (27:26). Hy sal alles op die ou end laat uitwerk! Paulus het kalm en wakker gebly. Hy het die konkelwerk van die matrose in die donker waargeneem en die moed gehad om teen hulle op te tree en só, spreekwoordelik almal se lewe gered.
Ek wonder hoe sou ek, en jy wat hier lees, opgetree het as ons op daardie skip was. Ek meen, ons word tog ook male sonder tal deur ‘n “noordoostewind” vasgevang en hulpeloos voortgedryf deur die aanslae van die lewe. Ons het seker ook al dikwels in die versoeking gekom om gedurende ons “Eurakilon storms”, oorboord in ‘n reddingsboot te spring. Maar dan gebeur daar iets wat verhoed dat ons die daad by die gedagte voeg. Ons weet wat Paulus, Lukas en Aristargos geweet het: God is saam met ons op pad. Hy is altyd saam met ons – “Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” (17:27-28) – al kies ons watter pad ook al.
Wanneer ons ou wêreldjie soos ‘n kaartehuis inmekaar tuimel en ons niemand het om na toe te draai nie, raak dit soms ondraaglik en is dit maklik om in wanhoop te verval. Wanneer dit gebeur kan ons in diepe afhanklikheid ook soos Paulus stil word by God en vas glo dat Hy Hom aan ons wil bekend maak; oor sy liefde vir ons wat daarna verlang om ons volkome te besit – Ek en jy kan ook dan sê: “Ons vertrou op God dat alles net so sal gebeur soos Hy vir ons gesê het!” (27:25). Dink maar aan die donker skaduwees wat Christus omring het toe Hy aan die kruis uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Matt. 27:46). God het nooit Christus verlaat nie. Inteendeel, Hy was juis op daardie oomblik by Hom om Hom krag te gee om die magte van die Bose te oorwin.
Is dit dan nie genoeg getuienis om in plaas daarvan om te wanhoop, ons toevlug tot God te neem nie? Hy verstaan ons krisisse beter as enigiemand anders. Hy sal ons nooit verlaat nie. Hy is altyd daar; Hy is nóú daar om ons las te verlig: “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!” (Ps. 27:14). Bring tyd saam met Hom deur in gebed: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Pet. 5:7). Wanneer ons die beheer van ons lewe aan God oorgee, sal ons ontdek dat ons deur sy krag, tot alles in staat is.
Ons hoef nie in ‘n hoekie te gaan wegkruip oor ons geloof nie. God is by ons en sal ons help om die regte woord op die regte tyd te sê. Paulus is ‘n sprekende bewys daarvan. Paulus het verskeie kere in die dieptes van wanhoop verkeer, tog het hy deur sy geloof uitgestyg waar hy God kon loof vir hulp en oorwinning. Ons kan daarom saam met Paulus uitroep: “Maar in al hierdie dinge (al ons curveball lewensomstandighede) is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet” (Rom. 8:37).
“Ons moenie so maklik hoop verloor nie. Selfs die son beleef aan die einde van die dag ‘n insinking, maar elke môre skyn hy weer met nuwe prag” (Miguel de Cervantes).
Gebed: Jesus, Verlosser en Saligmaker, dankie dat U die magte van die Bose, die sonde, die dood en die hel oorwin het. U opstanding gee nuwe sin aan my lewe. Ek het nou ‘n geloof wat verder strek as die dood; ‘n hoop wat my wanhoop in stralende blydskap omskep. Ek is meer as ‘n oorwinnaar deur U wat my liefhet! Amen.
Comments