Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 6 Augustus 2024
Koos Espach
Die storm op see (4)
God sal sorg
Hand. 27:24-29 – “Die engel het vir my gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En ter wille van jou spaar God in sy goedheid die lewe van almal wat hier saam met jou op die skip is.’ 25 Daarom, hou moed, manne! Ek vertrou op God dat alles net so sal gebeur soos Hy vir my gesê het. 26 'Dit is so bestem dat ons êrens op ‘n eiland moet strand.’ 27 Die veertiende nag dat ons so op die Adriatiese See rondgeslinger is, teen middernag, het die matrose vermoed dat ons naby land kom. 28 Hulle het ‘n dieplood uitgegooi en ‘n diepte van ses en dertig meter gekry. ‘n Bietjie verder het hulle weer die dieplood uitgegooi, en toe was dit sewe en twintig meter. 29 Hulle was bang die skip loop op die rotse en het toe vier ankers by die agterstewe van die skip uitgegooi en gewens dit moet dag word.”
Paulus se bemoedigende woorde het getref. Almal aan boord luister aandagtig na wat die hemelboodskapper vir God se dienskneg gesê het. Wat? Hierdie man moet nog voor die keiser gaan staan, en kyk, ter wille van hierdie medegevangene, word hulle almal op die skip se lewe gespaar. Presies! Hulle moet verstaan dat dié God aan wie hy behoort en wie hy dien, nie ‘n skim of ‘n droom, of selfs ‘n gedagte is nie, maar ‘n werklike God wat selfs van die keiser weet. Almal aan boord moet weet: Sy God is in beheer, Hy sal sorg!
Skielik word dit ‘n wonderlike nag. Ja, reënbuie stort steeds neer; vir veertien dae in die donkerte is daar geen koers of rigting nie; onstuimige stormbranders slinger hulle heen en weer. Maar hulle het Paulus geglo. Hulle glo nou omdat Paulus glo. “Hou moed, manne! Ek vertrou op God!” – hulle sal moed hou! (Ek wonder of hulle geweet het wie dié God is wat Paulus van praat?) Teen middernag is daar tekens dat land naby is. Dit word bevestig met die dieptepeiling. Maar vir eers oorheers die vrees dat hulle op rotse afstuur, wat die skip kan beskadig en hulle lewens op die rotse verpletter. Hulle laat sak vier ankers tot op die vlakkerwordende seebodem om die spoed van die skip te probeer verminder wat deur die wind van agter af aangedryf word.
En hulle wens dit moet dag word. Paulus word saam met hulle heen en weer gegooi, maar sy hoop berus nie op vier ankers en ‘n wens nie. Hy besit die geloofsanker wat onbeweeglik standvastig is in God se beloftes! Hulle is nou in God se hande en Hy sal niemand deur sy vingers laat glip nie. God is dalk besig om almal aan boord se geloof op die proef te stel terwyl die skip soos ‘n vuurhoutjiedosie op die magtige Adriatiese See rondgeslinger word. “Hulle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor hulle kom, want ... as hulle geloof die toets deurstaan het, stel dit hulle in staat om te volhard” (Jak. 1:2-3).
Jakobus, die groot leiersfiguur in die vroeë kerk en aardse broer van Jesus skryf dat swaarkry ‘n goeie ding in ‘n mens se lewe is. Hoe nou Jakobus? En dan sal baie Jobstroosters vandag ook nog wil byvoeg dat daar ‘n doel met alles is. Of dat ons later sal verstaan hoekom swaarkry en lyding deel van ons lewe is en slegte dinge met ons gebeur. Hoekom is dit dat mense, veral kerkmense, so graag Goddelike lesse uit swaarkry en beproewings wil leer? Wel, God praat nie met ons deur swaarkry nie. Die Nuwe Testament of Jakobus sê dit nie. God stuur nie swaarkry en lyding oor ons pad om ons te toets nie. Nee, Jakobus sê as swaarkry oor ons pad kom, moet ons dit as ‘n toets gebruik om ons geloof nog verder te suiwer. Wanneer swaarkry oor ons pad kom, en dit gaan, moet ons daaruit leer om nog nader aan die Here te leef.
God het nie nodig om ons allerlei lesse te leer om naby Hom te leef nie. God het vir ons klaar ‘n groot les by Golgota geleer. Ons kan nie ons swaarkry op God se rekening plaas nie. Inteendeel, Jesus sê in Matteus 6:25-34 drie keer ons moet ons nie bekommer nie ...! Hoekom? Want Hy weet dat ons bekommerd is oor so baie dinge wat ons glo ons beheer oor het en oor dinge wat ons dink, buite ons beheer is. Daar is selfs diegene wat bekommerd is omdat hulle oor niks bekommerd is nie!
Tydens die seereis van die lewe bevind ek en jy onsself soms op onstuimige waters terwyl die golwe van satan en sy bose trawante, onophoudelik poog om ons lewensbootjie stukkend te slaan en ons met vrees te vul. Jesus erken juis ons bekommernisse as ‘n lewensnoodsaaklikheid, daarom wil Hy hoop en raad gee. Hy wil God se versorgende liefde oordra, God wat steeds omgee ten spyte van elke dag se kommer. God het te groot prys betaal om nou Sy versorging te staak. Hy bly steeds in beheer. Ons God van liefde gee aan ons hoop in die moeilikste omstandighede – dit is ‘n manier van lewe. Ek en jy moet net leer om naby Hom te loop wanneer ons swaarkry! Ons besit mos die geloofsanker wat onbeweeglik standvastig is in God se beloftes. Daarom kan ons ons vertroue in God vasknoop, Hy sal sorg!
“Dat God voorsien, beteken dat daar ‘n kreatiewe en reddende oplossing in elke situasie moontlik is. God se voorsiening beteken dat die bose magte wat ons wil oorweldig, nie ‘n permanente greep op ons kan behou nie en die band waarmee Sy liefde aan ons bind, nie verbreek kan word nie” (Paul Tillich).
Gebed: Here, swaarkry louter my geloof en leer my om bewus te wees van U teenwoordigheid. Dankie dat ek my bekommernis by U kan laat en weet U sal daaraan aandag gee. Dankie dat U na my omsien en my red van die skadu’s, om en binne my. U is my geloofsanker. Amen.
Comentários