top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 2 Augustus 2024

Koos Espach


Die storm op see (2)

 

Geloof in die storm

 

Hand. 27:17-20 – “Nadat die matrose die bootjie opgehaal het, het hulle as noodmaatreël ‘n paar toue styf onder om die skip vasgemaak. Omdat hulle bang was dat die skip op die sandbanke van die Sirtis verpletter sou word, het hulle die dryfanker laat sak en die skip sommerso laat drywe. 18 Omdat ons baie swaar gekry het in die storm, het hulle die volgende dag die skip se vrag oorboord begin gooi. 19 Die dag daarna het hulle eiehandig ook die skip se toerusting in die see gegooi. 20 Dae lank was die son en die sterre nie te sien nie en het die geweldige wind voortgewoed. Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word.”

 

Die skip is van koers af gedwing en kon nie in die gesig van die wind kyk nie. Ons het ons aan die wind oorgegee en is deur die krag van die wind meegevoer, vertel Lukas. Selfs sy hoop op redding het verdwyn. Ai, as hulle maar net na Paulus, die gesant van die Here wou luister en in Mooi Hawens oorwinter het!

 

Die matrose was bang dat die skip ten spyte van al hulle pogings op die sandbanke van die Sirtis verpletter sou word. Die Sirtis is ’n gedeelte van die Middellandse See wat vlak is, met sandbanke, geleë in die Golf van Sidra aan die kus van Noord-Afrika. Hierdie gebied was berug vir die skepe wat reeds daarop gestrand het of verpletter is. Hulle het daarom begin om die kosbare vrag koring uit Egipte vir Rome wat die doel van die vaart is, oorboord te gooi, so asof die hoop om Rome te bereik vervaag het. Van die toerusting van die skip word later ook oorboord gegooi – nog noodmaatreëls om die skip ligter te maak en hoër in die water te lê om makliker oor die sandbanke te vaar.

 

Al hierdie maatreëls was egter nutteloos. Die wind het sake onmoontlik gemaak en die toestand het gevaarliker geword. Dae lank was die son en die sterre nie te sien nie. Hulle kon nie hulle rigting daarvolgens bepaal nie en het dit gevolglik kwytgeraak. Hulle het nie geweet waar hulle was nie. Die wind het nie opgehou waai nie, maar voortdurend die skip voortgedryf. Hulle het alle hoop laat vaar om gered te word. Die mens was sonder hoop en gans verlore. Dis verby! Geen hoop, geen redding meer. So lyk dit!

 

Ons kan maar vir enige seeman vra. As ons op die see is, gaan ons een of ander tyd in ’n woeste storm invaar. Ons moet gereed wees daarvoor. Ons moet weet wat om te doen, anders gaan die storm ons vermink. En ek vermoed dis hier waar ek en jy soms in die hek duik met ons geloof. Miskien is ons bote te ver van moeder aarde om aan vas te klou. Miskien weet ons nie eers van ankers uitgooi nie en daarom dobber ons van die een kant na die ander. As die winde kom en die branders hoog oor ons begin breek, is dit krisis op krisis en dit voel asof ons wil sink. Dan vergeet ons Jesus wat vra: “Waar is julle geloof dan?” (Luk. 8:25).  

 

Net so kan ons in ons daaglikse bestaan net mooiweer en platwater gewaarborg word nie. Die storms sal daar wees. Ons moet voorbereid wees en weet wat om te doen. Die eerste is dat ek en jy ons lewensbootjie se anker aan Jesus vasmaak. Ons kan dan ons vrese oorboord gooi. Ons geloof moet ons bou op die oorborrelende liefde wat God vir ons elkeen het. God is vir ons elkeen so lief dat Hy bereid was om Sy Seun op te offer. Deur genade vat Jesus ons pak. Ja, die pak wat ons moet vat vir al ons sondes, die dood, het Jesus in ons plek kom vat. As ons dus eendag hierdie aarde verlaat, kan ons die ewigheid instap en saam met Jesus aan die feestafels sit. Dit is waarin ons immers glo.

 

Iemand het die volgende geskryf: “Alle dinge sal regkom!’ sê Hoop. Vrees daarenteen sê: ‘Nooit, dis onmoontlik!’ Hoop hou egter vol dit sal. Vrees bring die aanbreek van die nag; Hoop bring die dagbreek; Vrees is verlammend en dodelik; Hoop is soos ‘n opkikker – dit is ‘n kenmerk; dit staan direk oor angs, vrees, pessimisme, terneergedruktheid en depressie” – en ons gelowiges glo Hoop is nie ‘n iets nie, dis ‘n Iemand, dit is Jesus Christus!

 

Hieraan moet ons vashou soos daardie dik toue wat die skip aan die kaai vasanker. Die winde en storms kan maar kom. Sy gaan nêrens heen nie. Hoe dik is my en jou geloofstou? Mag ons geloofstoue sterker en sterker word. Mag ons kans sien vir die lewe en sy storms, nie omdat ons dink ons is sterk genoeg nie (want ons is beslis nie), maar omdat ons weet en glo dat ons vasgeanker is aan ons Almagtige Vader en dat Sy Seun Jesus, ons Broer is. Sy Gees is hier binne ons en sal ons al die pad bystaan en help om deur enige storm te beur. Ons hoef nie magteloos in die lewensstorms rond te dryf nie. God, ons Bron van hoop, vul ons geloof met vreugde en vrede, sodat ons hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees (Rom 15:13).

 

“Daar is geen hopelose situasie nie. Net mense wat hoop verloor het met ‘n situasie. Baie verwag ‘n hopelose einde. Maar dié wat in Jesus Christus glo, het eindelose hoop” (William Barclay).

 

Gebed: Vader van genade, ek pleit by U vir moed in die krisistye van my lewe. Maak my moedig wanneer ek swak is. Maak my geloofstoue sterker en sterker. Dankie vir die belofte dat dié wat op U vertrou, nooit bevrees hoef te wees nie. Ek bid dit in u heerlike Naam. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page