Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 30 Julie 2024
Koos Espach
Paulus gaan na Rome (4)
Eenheid in die liggaam van Christus
Hand. 27:4-7 – “Ons het daarvandaan weggevaar en ons is aan die beskutte kant van Siprus verby, omdat die wind teen ons was. 5 Met Silisië en Pamfilië aan ons regterkant het ons die see oorgesteek en Mira in Lisië bereik. 6 Daar het die offisier ‘n Aleksandrynse skip gekry wat na Italië toe sou vaar, en ons daarop gesit. 7 Ons het dae lank stadig gevaar en met moeite regoor Knidus gekom. Toe die wind ons nie toegelaat het om verder op dié koers voort te gaan nie, het ons aan die beskutte kant van Kreta by Salmone verby gevaar.”
Die verhaal van Paulus se reis na Rome bied ’n interessante prentjie van die wyse waarop seereise aangepak is in daardie tyd. Skepe het gewoonlik van hawe tot hawe gevaar in die Middellandse See, en gedurende die winter is die skeepvaart gestaak. Nadat hulle verby Siprus was, moes die skip oor die oop see vaar, maar hulle het naby die kus gebly en met Silisië en Pamfilië aan die regterhand na Mira gevaar – landstreke wat moontlik Paulus se gedagtes geprikkel het – dit was landstreke waar hy tydens sy drie sendingreise, Christelike gemeentes in die Naam van Jesus Christus gestig het.
In Mira het die Romeinse offisier ’n Aleksandrynse skip aangetref wat op weg was na Italië en hy het sy gevangenes daarop gesit. Die koringskepe het gewoonlik reguit Rome toe gevaar want die koringhandel was in die hande van individuele persone wat die guns van Rome geniet het omdat koring so belangrik was vir dié stad en vir Italië. Ten spyte daarvan dat hierdie vragskip nog behalwe sy koringvrag en 276 mense aan boord gehad het, was dit ‘n beter toegeruste skip met meer ervare seemanne, sodat dit aangeneem is dat Rome binne tien dae bereik sou word.
Die ander gevangenes op die skip het seker gesidder by die gedagte aan Rome – dit sal moontlik hulle eindbestemming wees waar hulle in die arena vir die wilde diere gevoer gaan word. Paulus daarenteen, juig met onuitspreeklike dankbaarheid in sy hart dat hy uiteindelik Rome gaan bereik en die Here se bevel sal kan uitvoer – hy word nog tot diens geroep om ook daar te gaan getuig. Paulus het voortdurend gebid vir ’n geleentheid om na Rome te kan gaan, tog wou hy nie gaan as dit nie God se wil vir hom is nie. Sy hele lewe laat hy deur die wil van God bepaal. In sy brief laat hy duidelik sy behoefte blyk: “God, wat ek met hart en siel dien deur die evangelie van Sy Seun te verkondig, is my getuie dat ek gedurig in my gebede aan julle dink. 10 Elke keer as ek bid, vra ek God of Hy dit nie uiteindelik vir my moontlik wil maak om julle te besoek nie.” (Rom. 1:9-10)
Omdat Paulus homself nie beskou as ‘n tipe “super-gelowige” nie, voeg hy dadelik by dat hy ook baat sal vind by die besoek aan die gemeente en dat hy en die Romeinse gelowiges mekaar sal “bemoedig” – wedersydse bemoediging. 11 “Ek sien baie daarna uit om julle te besoek, want ek wil ‘n geestelike gawe aan julle oordra om julle te versterk. 12 Ek bedoel dat, as ek by julle is, ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle s’n en julle deur myne” (Rom. 1:11-12). Al is Paulus ’n apostel, stel hy homself nie bokant die gemeente nie. Sy behoefte was om gemeenskap van die gelowiges te hê, en daardeur in die geloof versterk kan word. Elke gelowige wat aan Christus behoort het ‘n plek in die gemeente. As deel van die liggaam van Christus, het elkeen ‘n funksie om te vervul in die gemeente.
Talle gelowiges vergelyk hulle geloofslewe met dié van ander gelowiges, veral met dié, wat volgens hulle, ‘n soort dinamiese geloof besit – die ‘super-gelowiges’ van die gemeente! Die gevolg daarvan is dat hierdie, sogenaamde ‘minder-gelowiges’, in hulle spreekwoordelike dop kruip en besluit dat hulle eintlik geen werklike geestelike krag besit nie. Dit is natuurlik ‘n totale verkeerde veronderstelling. Alle gelowiges speel in die dieselfde span van Christus en het as die “gemeenskap van gelowiges”, mekaar nodig om in die geloof te bemoedig.
Wanneer Christene se geloof ontkiem, put ons almal uit dieselfde Bron van Krag: die Gees van God! En dit is die “geestelike gawe” wat Paulus hier na verwys. Geeneen van ons is hoegenaamd ‘n geloofsreus nie en daarom het elke Christen, ‘n unieke krag ontvang van die Gees om sy spesifieke gegewe gawe(s), aan te wend. Dit is ook verkeerd om die krag van die Heilige Gees in ons eie lewe met ‘n ander te vergelyk. God ken ons: “Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van ‘n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is” (Joh. 2:25).
Daarom is dit nodig om God toe te laat om deur Sy Gees, sy krag deur mý en jóú lewe te openbaar op ‘n manier wat uniek is aan elkeen van ons se persoonlikheid. “Uiteindelik sal ons almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus” (Ef. 4:13). Onthou, die kerk is die Here se liggaam. Ek en jy moet met ons gawes ons plekkie in sy liggaam vol staan. Kom ons gebruik ons unieke gawes, al is dit net een gawe, sodat ons die Here sal verheerlik en sy liggaam gesond sal hou.
“Daar is ‘n bron van krag wat sterker is as enige teleurstelling, bitterheid of ingebore wantroue. Daardie krag is Jesus Christus wat vergifnis en versoening vir die wêreld met Sy bloed gekoop het”
(Pous Johannes Paulus II).
Gebed: Heilige Jesus, vernuwe my lewe deur U inwonende Gees en bekragtig dit daagliks sodat ek my gawes kan gebruik om U getroue getuie te kan wees. Dankie dat ek dit kan gebruik om ander gelowiges te kan dien en om U te verheerlik. Amen.
Comments