top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 23 Julie 2024

Koos Espach


Festus en Agrippa se reaksie (2)

 

Bly getrou aan God

 

Hand. 26:27-29 – “Koning Agrippa, glo u die profete? Ek weet u glo.’ 28 Agrippa sê toe vir Paulus: ‘Jy dink seker jy kan my sommer gou-gou ‘n Christen maak.’ 29 ‘Of dit nou gou-gou gebeur of langer duur,’ antwoord Paulus, ‘ek bid God dat nie net u nie, maar almal wat vandag na my luister, sal word wat ek is, natuurlik net sonder hierdie boeie. “

 

Dit kos leeuemoed om te doen wat Paulus hier doen. Om koning Agrippa in die openbaar direk oor sy geloof te konfronteer, is meer as wat meeste mense sou voor kans sien. In ons eie krag sal ons beslis dit nie regkry nie, maar met die hulp van die Heilige Gees kan die onmoontlike gebeur. Vir Agrippa is Paulus se vraag nie ‘n moeilike vraag nie, maar lastig. Hy moet sy Joodse geloof en tradisie hier ten aanhore van die heidenwêreld bely. Agrippa het besef dat hy groot moeilikheid vir homself sou skep as hy bevestigend sou antwoord op Paulus se vraag. As hy sou antwoord dat hy die profete glo, sou Paulus aan hom kon sê dat hy Jesus dan as die Messias moet aanvaar. As hy egter sê dat hy nie in die profete glo nie, sou hy ontrou wees aan sy godsdiens en sy volk. Om nie in die profete te glo nie, was net ondenkbaar vir ’n lojale Jood.

 

Paulus weet hoe groot die verleentheid van die Herodusnatuur nou is en red Agrippa deur self die antwoord te gee. Ek wonder wat het deur Agrippa se gedagtes gegaan? Miskien om ‘n Christen soos Paulus te kan wees, maar dan moet hy Agrippa kan bly – koning in purper geklee. Hy kan nie so ‘n hoë prys verruil vir geloof en dalk ook ‘n gevangene in boeie word soos Paulus nie. Nee, nooit! Wat van Bernice. Sy lewe met haar van sinlike genot kan nie prysgegee word nie. Hy is immers geboei in die kettings van vleeslike hartstogte. Nee wat! Hy sal te veel moet prysgee om ‘n Christen soos Paulus te word! Hy kies die maklike uitweg deur sarkasties te antwoord: ‘Jy dink seker jy kan my sommer gou-gou ‘n Christen maak.’

 

Paulus antwoord Agrippa se spot sonder verwyt of minagting met ‘n hemelse wens: Hy bid tot God dat hulle, en ons wat saam met hulle na Paulus luister, deel moet hê aan die volheid van Christus. Of dit ’n klein tydjie of ’n lang tyd mag neem om tot geloof in Jesus te kom, maak nie saak nie, solank mense deur geloof in Jesus in die lig begin lewe en die vergewing van sondes en ‘n ewige erfdeel van God ontvang. Paulus se begeerte sluit in dat alle mense in Jesus sal glo sonder die kettings waarmee hy, wat in Christus vrygemaak is van sonde, onskuldig geboei is. 

 

Dit word vertel van ‘n ongelowige soldaat wat na nog ‘n fel aanval deur die vyand, hardop geskree het dat hy nie deel van die oorlog wil wees nie. Honger, koud, bang en moedeloos het hy uitgesnik dat al waarna hy verlang, is om vrede te hê en tuis by sy familie te wees. Een van die ander soldate het geantwoord: “Vriend, die enigste vrede wat jy op aarde ooit sal hê is om vrede met God te beleef, om te besef dat jy ‘n oorwinnaar is in Christus. Dit beteken nie dat jy nooit sal swaarkry nie, maar in jou swaarkry kan jy verseker wees dat die Heilige Gees en Jesus Christus vir jou by God pleit.” Daarna het hy Romeine 8:35-39 vir die ongelowige gelees.

 

Later het die ongelowige erken dat indien dit waar is, daar selfs vir hom ook hoop is. Daar het vir hierdie ongelowige soldaat ‘n nuwe dag aangebreek – die lamp van die Woord het in sy donker hart en lewe ingeskyn. Nuuskierigheid het hom gedwing om meer te wil weet en onwetend het hy uit Daniël aangehaal: “Ek het dit al gehoor maar nie verstaan nie, waarop gaan dit alles uitloop?” (Dan. 12:8).

 

Dikwels kla mense dat hulle dit moeilik vind om te bly glo en te vertrou op God, veral wanneer die lewe teen jou draai, wanneer jy in wanhoop geen doel vir jou omstandighede kan vind nie en jy in die versoeking kom om God se dade te bevraagteken. Dit is een ding om sterk in jou geloof te staan wanneer alles net goed gaan en die son, spreekwoordelik, onafgebroke op jou skyn. Die toets van jou geloof kom egter wanneer die pyn en lyding van die wêreld, “die dood ons dag vir dag bedreig” (Rom. 8:36), of soos Paulus in boeie, onskuldig moet ly.

 

Die essensie dan, is om met ‘n sterk geloof God te bly vertrou. God het ons gelowiges vrygespreek van al ons sondes en Christus, die onskuldige, in ons plek veroordeel. My en jou skuldbrief is aan die kruis vasgespyker, ons het amnestie gekry, die Gees het hierdie vryspraak vir ons ‘n werklikheid gemaak, “niemand kan (ons) van die liefde van God skei nie” (Rom. 8:35). Ja, dit is maklik om soos die soldaat in ons storie, moedeloos te raak veral wanneer teenspoed of versoeking ons in die gesig staar, om dan oortuig te wees dat “geen lyding of benoudheid, honger, gevaar of swaard, geen dood of bose magte,” ons sal oorval nie.

 

Die Heilige Gees getuig nie alleen dat ons kinders van God is nie, Hy getuig ook dat ons erfgename van God, erfgename saam met Christus is. Geen mens kan ons vryspreek nie, net God kan. Ons wat deur Hom vrygespreek is, ons wat seker is dat ons aan Hom behoort, ons wat deur Sy Gees versterk word wanneer ons swak is, ons wat in verbondenheid met Hom lewe, ons wat deel het aan sy lyding, ons sal ook deel hê aan Sy heerlikheid. Wat ’n heerlike vooruitsig!

 

“Welke teenstand ons ook al vandag sien of ervaar, ons moet nie daaraan twyfel dat ons Here weer sal kom en deur al die ondernemings van die mens breek om ‘n pad vir sy Woord oop te maak” (Johannes Calvyn).

 

Gebed: Here, Redder, groot en magtig. Dankie dat U in U groot genade ook my hand kom vat het. Dankie dat ek, feilbare sondaar, deel kan hê in U volheid. Ek wil U dankbaar dien. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page