Gedagte vir Vandag
Woensdag, 10 Julie 2024
Koos Espach
Paulus voor Agrippa (2)
Vir God is alles moontlik
Hand. 26:4-8 – “Al die Jode ken my geskiedenis van jongs af. Van die begin af het ek tussen my volk en in Jerusalem gewoon. 5 Hulle ken my al lankal en kan getuig, as hulle wil, dat ek my hele lewe lank lid was van die Fariseërs, die strengste party van ons godsdiens. 6 En nou staan ek tereg omdat ek my hoop gevestig het op die belofte wat God aan ons voorvaders gemaak het. 7 Ons twaalf stamme dien God nougeset dag en nag juis omdat hulle die hoop het dat Hy sal doen wat Hy belowe het. Oor hierdie hoop, U Majesteit, word ek deur die Jode beskuldig. 8 Waarom is dit vir u en ander onmoontlik om te glo dat God dooies opwek?”
Dit was seker geen grap om voor die maghebbers van die dag te staan en jou geloof in Christus te verdedig nie. Dit was Paulus se lot toe hy voor koning Agrippa en die hooggeplaastes van Palestina verskyn het. Boonop het ‘n hele skare ook kom luister na hierdie vreemde gevangene. Paulus begin deur te verwys na sy eie lewe wat aan al die Jode van sy jeugjare af goed bekend is. Die apostel praat nie om homself te verhef nie, maar om aan te toon hoe die genade van God in sy lewe ingegryp en hom ’n volgeling van Jesus Christus gemaak het.
Dit was nie maklik vir Paulus om van daardie tyd van sy lewe te praat nie, maar hy deins nie terug nie. Hy verduidelik van waar en hoe ver in die verlede hy kom. Hy begin deur te verwys na die belofte wat God aan hulle voorvaders gemaak het, ‘n belofte aan Abram dat alle volke van die aarde in Abram geseën sal wees (Gen. 12:3). Dieselfde hoop dat God sal doen wat Hy belowe het aan die twaalf stamme van Israel, beleef Paulus elke keer wanneer hy Jesus verkondig, dié Jesus wat die vervulling van God se beloftes is wie vir alle mense omgee. Hoewel hy dieselfde gelowige Jood is, staan hy nou aangekla oor die hoop en vervulling van God se beloftes dat Jesus as die Messias, opgestaan het uit die dood. Dalk het Agrippa sy kop afkeurend geskud toe Paulus so reguit oor die lewe ná die dood praat, daarom Paulus se vraag waarom hy en ander mense twyfel dat God dooies opwek.
Ná die opstanding van Jesus Christus het die Joodse owerstes hulle twyfel uitgespreek oor die waarheid daarvan. Sedertdien, en tot op hede, is daar mense wat steeds twyfel dat God dooies opwek. Selfs prominente kerkleiers het hulle stemme by dié twyfelaars gevoeg. Wat sê die Bybel? So ver terug as 1 Konings 17:22 word vertel van God wat Elia se gebed verhoor het en ‘n kind se lewe laat terugkeer het. Die Evangelies vertel ook van verskeie geleenthede waar Jesus mense in die Naam van God uit die dood opgewek het.
Ons word verseker: “Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alle dinge moontlik” (Mark. 10:27). Dit is ondenkbaar dat enigiemand kan twyfel dat die God wat die mensdom en die heelal geskep het, beheer het oor alle mense en dinge, insluitend lewe en dood! Buitendien is daar verskeie getuienis van Christus se opstanding in die Evangelies. Sy dissipels het gesien hoe Hy gekruisig word. Hy het teruggekeer en hulle in die bovertrek ontmoet; verskyn het aan die vroue by die leë graf; saam met die dissipels geëet het by die See van Galilea; op pad na Emmaus toe. As al hierdie verskynings en gesprekke van Christus nog nie kritici tevrede stel nie, wat sal dan?
Die oorweldige feit van die Christelike geloof is nie slegs dat Christus byna tweeduisend jaar gelede die dood oorwin het nie, maar dat Hy, getrou aan sy belofte en die “hoop het dat God sal doen wat Hy belowe het”, Jesus Christus vandag leef. Die opstanding van Jesus Christus uit die dood het ons geloof omskep in ‘n dinamiese ervaring. Dit is nie ydele spekulasie nie maar die aanvaarding van die belofte van ons lewende Christus dat Hy altyd by sy volgelinge sal wees in elke eeu van die geskiedenis (Matt. 28:20).
Indien ek en jy dieselfde ervaring en getuienis van Paulus en Christus se eerste volgelinge aanvaar, kan Jesus vandag ook vir ons lewend word. Hy het belowe om ons denke en ons gees in besit te neem en in ons te lewe as ek en jy onsself aan Hom oorgee (Rom. 12:2) en glo in sy lewendige teenwoordigheid. Ek en jy kan vashou aan ons geloof in die teenwoordigheid van ons lewende Christus. Hy hou immers die sleutels van die doderyk. Ons kan by Hom skuil, dan is die dood magteloos teen ons.
“Die opstanding word nooit vir ‘n mens ‘n werklikheid totdat die opgestane Here in jou hart lewe nie”
(Peter Marshall).
Gebed: Opgestane Here Jesus, aan U behoort die eer en die heerlikheid en die majestei, tot in alle ewigheid. Ek put my hoop en krag uit die wete dat U die dood oorwin het en daarmee vir my die ewige lewe verwerf het. Amen.
Comments