top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 5 Julie 2024

Koos Espach


Paulus voor Agrippa en Bernice (5)

 

Gebruik ons swakheid om te groei

 

Hand. 25:23-24 – “Die volgende dag het Agrippa en Bernice met groot vertoon die saal binnegekom in geselskap van die generaals en die vooraanstaande inwoners van die stad. Op Festus se bevel is Paulus ingebring. 24 Toe sê Festus: ‘Koning Agrippa en almal hier teenwoordig, kyk, dit is die man teen wie al die Jode in Jerusalem en hier ‘n aanklag by my ingebring het. Hulle het geskreeu dat hy nie langer behoort te lewe nie.”

 

Die volgende dag het Agrippa II en Bernice met prag en praal gekom en die gehoorsaal binnegetree. Hulle was vergesel van Romeinse generaals in ampsdrag en die vooraanstaande mans van Sesarea. ‘n Ganse stoet wat Agrippa en Bernice volg – soos aasvoëls wat van alle kante op ‘n stuk aas afkom – hoe vuiler die saak, hoe groter die publiek. By almal die sterk drang om getuie te wees van die nood en lyding van ‘n medemens!

 

Festus gee toe opdrag dat Paulus – met kettings geboei – ingebring moes word. Die man teen wie al die Jode in Jerusalem en hier in Sesarea ‘n aanklag by hom ingebring het, moet verhoor word. Festus spreek almal teenwoordig toe en stel die geboeide Paulus aan hulle voor met ‘n kort verduideliking wat die aanklag teen Paulus is. Die mens Paulus, word ‘n skouspel in die skitterende paleissaal van Sesarea. Sy klein gestalte is geboë van jare se lyding en tronklewe. Wat nou gebeur is egter ‘n vervulling wat sy Sender gesê het: “Ek het jou gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel” (Hand. 9:15).  

 

Paulus is op hierdie stadium geen imposante figuur tussen al die vernames en aansienlikes nie. Dit is ook sy eerste verskyning voor ‘n koning. Maar, vir hom is dit ‘bekende’ terrein. Hy beskou homself as die geringste van die apostels en nie werd om ‘n apostel genoem te word nie (1 Kor. 15:9). Die man wat juis oor sy swakhede roem, hom verheug in swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede; wanneer hy swak is, dan is hy sterk, want Christus se krag sal hom beskut (2 Kor. 12:9-10). Twee ‘wêrelde’ skei Agrippa, Bernice en Paulus – weelde en armoede; broer en suster wat in bloedskande leef teenoor die eenvoudige gesant van God.

 

Ek dink die Here wou nie gehad het dat Paulus grootkop moes kry omdat hy sy werktuig was nie. Sy taak was om ambassadeur vir Christus te wees en hierdie taak het gepaard gegaan met moeite, swaarkry en lyding sodat Paulus afhanklik van Hom sou bly en al sy krag by Christus sou soek. Dit was dalk Paulus se “doring in die vlees” waaroor al baie bespiegel is. Sommige Bybelverklaarders sê dit was Paulus se ooggebrek, ander weer dat dit depressie was. Paulus self sê in 2 Kor. 12:10 dat dit sy swaarkry, ontberings en swakhede was en hy nie minder as drie keer God gevra het om dit weg te neem. God het egter elke keer geweier.

 

God se antwoord aan Paulus was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is” (2 Kor. 12:9). Is dit nie verrassend nie? Ons sou dink dat Paulus as die begenadigde van God, eintlik bevoorreg moet wees om nie énige probleme te gehad het nie. Wat die “doring” ook al was, gaan dit nie soseer daaroor wat hy gehad het nie, maar wat hy daarmee gemaak het. Dit gaan nie oor wat God in sy lewe toegelaat het nie, maar hóé hierdie ervaring sy lewe gevorm en verander het. Paulus het uit sy pyn geleer wat nét Christus self vir my en jou kan leer: genade is ‘n gawe van God én die krag om alles te dra wat ook al aan ons opgedra word.

 

Elke mens het ‘n swak punt of twee. Wanneer ons probleme, terugslae en teleurstellings ondervind, voel ons dan dikwels dat die genade wat ons ontvang het, te min is. Ek het al menigmaal gewens dat ek vandag, môre en oormôre se genade ook kan ontvang. Dit is dan dat ons onthou dat vir Paulus was God se genade genoeg, daarom is dit vir my en jou ook genoeg. Al dink ons dit is te min en verwag ons meer, die Here sê dis genoeg. Met ander woorde, dit is alles wat ons nodig het. God het nie aan elkeen van ons net iets gegee nie, Hy het Homself gegee! En dit is meer as genoeg.

 

In hierdie “genoeg” sê God vir Paulus en ons dat ons krag juis in ons persoonlike swakheid geleë is. God se krag kom juis tot volle werking wanneer ons nie vol van onsself en ons eie vermoëns is nie. Ons wens vir onsself krag, dan is dit asof ons swakker word; gesondheid, dan word ons siek, ervaar pyn, leed en lyding. Dit is dan wanneer ons die teenwoordigheid van die Gees van Christus uiteindelik voel in elke afdeling van ons lewe. Dit is nie God se wil dat Paulus en ek en jy, met ons swakhede sal saamleef of daaronder knak nie. Hy stel aan ons sy krag beskikbaar sodat ons oorwinnend kan lewe. Glo dit! Leef dit. Sy genade is vir ons genoeg. Gebruik dit ten goede.

 

“Om jou swakhede te erken, is die eerste stap op die pad om jou verliese te herstel” (Thomas Kempis).

 

Gebed: Ewig liefdevolle Vader, ek kan elke dag net jubel: Genade onbegryplik groot het U aan my bewys! Deur U genade leef ek, is ek en beweeg ek. Ek loof en dank U daarvoor. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page