top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 3 Julie 2024

Koos Espach


Paulus voor Agrippa en Bernice (3)

 

Die kern van ons geloof

 

Hand. 25:19 – “Dit het alles gegaan oor twisvrae in hulle eie godsdiens en oor ‘n sekere Jesus wat dood is, maar van wie Paulus beweer dat hy lewe.”

 

Goewerneur Porcius Festus het besef dat die stryd van die Jode nie eintlik oor Paulus gegaan het nie, maar oor “’n sekere Jesus wat dood is,” en volgens Paulus opgestaan het uit die dood. Wel. Die Jode moes dit ontken, want anders was hulle mos verkeerd. Hulle het dan selfs vir die Romeinse wagte geld gegee (Matt. 28:12), om leuens daaroor te gaan vertel. Festus was in die kol. Die eintlike saak waaroor Paulus so ontsettend gehaat is deur sy volksgenote, was oor sy verkondiging van Jesus se opstanding. Oral waar hy die evangelie van Jesus se opstanding verkondig het, was dit ‘n struikelblok en het dit groot konsternasie veroorsaak.

 

Iemand het gesê die opstanding van Jesus is die “gom” van Christenskap want sonder die opstanding, is Christenskap betekenisloos. Kortom, as Jesus nie opgestaan het nie, leef Hy nie vandag nie. Dan help dit nie om te bid nie, dan het ons geen hoop op die ewigheid nie, dan is die boodskap van die Nuwe Testament ‘n groot bedrogspul. Selfs Paulus sê daarom in 1 Korintiërs 15:14: “En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en (ons) geloof ook sonder inhoud.”

 

Die spreekwoordelike eerste twyfelaar oor Jesus se opstanding, was natuurlik Tomas, een van Jesus se twaalf dissipels wat ruiterlik erken het “as hy nie die merke van die spykers in Jesus se hande sien en sy vinger in die merke van die spykers steek en sy hand in sy sy nie, sal hy nooit glo nie” (Joh. 20:25). ‘n Week na Opstandingsondag, verskyn Jesus weer aan sy dissipels. Heeltemal bewus van Tomas se twyfel, is dit amper asof Jesus spesiaal teruggekom het om Tomas se onthalwe en om hom tevrede te stel. Jesus het sy hand na Tomas toe uitgesteek en nooi hom uit om sy geloof te bevestig. Ons kan aanvaar dat Tomas Jesus ook nie dadelik erken het nie maar ten spyte daarvan, Jesus dadelik aangespreek het as "my Here en my God! En Jesus sê vir hom: ‘Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo” (Joh. 20:28-29).

 

Almal is egter nie só bevoorreg om soos Tomas, fisiek voor die Opgestane Jesus te kon staan en uitgenooi is om ons vingers in die wonde te kon steek nie. Daarom sal ons moet glo deur die getuienis van Jesus se volgelinge, soos byvoorbeeld die getuienis van Johannes. Die Evangelies is ook nie geskryf om ‘n biografie van Jesus op te stel nie, maar om te bewys dat Hy wel elkeen wat in Christus glo, soos Tomas kan bely: “My Here en my God!” Dit sal aan ons ‘n hoër eis stel, maar nie ‘n onmoontlike eis nie. Deur die prediking sal die boodskap voortgedra word, en mense sal moet glo op grond van die ware Woord wat hulle hoor. Juis deur die hoor van die woord sal die geloof gewek word: “Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus” (Rom. 10:17).

 

Die inhoud van die Evangelie is dus daarop gerig om aan die mense die weldade van God, soos in Christus gegee en geopenbaar, bekend te maak en tot geloof op te roep. Die vrug van die geloof is die lewe, die ewige lewe. Die dinge wat Johannes onder andere opgeteken het, is dus nie dinge waarvan niemand iets weet, of ’n soort geheime leer nie, maar dit kan bevestig word deur betroubare getuies, (Sy dissipels), en is daarom geloofwaardig. Wie hierdie waarheid in die geloof aanvaar, verkry die ewige lewe.

 

Soos Tomas, ervaar ons ook miskien tye waar dit vir ons moeilik is om te glo, of dalk moeilik om iets te aanvaar bloot omdat ander mense so sê. Ons kom tot geloof nie bloot deur redelike denke, of deur bloot die getuienis van ander te aanvaar nie. Ons moet self die Opgestane Christus in ons lewens ervaar, want dit is in die ontmoeting met Hom dat ook ons deur die werklikheid van sy teenwoordigheid oorweldig sal word.


God openbaar die waarhede aangaande Homself en Sy Koninkryk aan ons deur Sy Woord en Sy Gees en ons moet leer om meer na hierdie twee Getuies te luister en op Hulle te vertrou as om dit te probeer uitredeneer. Ek en jy moet dus vasbyt deur tye van twyfel en onsself in geloof oopstel vir die wonder van Christus se teenwoordigheid sodat Hy daagliks ‘n groter werklikheid word. Moenie uitstel nie.

 

“As Jesus uit die dood opgestaan het, moet jy alles aanvaar wat Hy gesê het; as Hy nie opgestaan het nie, hoekom dan bekommerd wees oor enigiets wat Hy gesê het? Die kwessie waaroor alles gaan is nie of jy van sy lering hou of nie, maar of Hy uit die dood opgestaan het of nie” (Tim Keller).

 

Gebed: Here, die feit dat U ook “my Here en my God” is, het my hele lewe verander. My dwarrelende gedagtes is tot rus gebring; ek kan met vrymoedigheid na U toe kom sonder om eers met U te redeneer. Ek kan maar net glo dat U deurboorde hande en voete, U wond aan die sy, die leë graf, ook vir my was! Here help my asseblief om elke keer wanneer ongeloof dreig om my te oorrompel, te onthou dat U leef en dat U vandag nog mense verander omdat U boodskap volledig waar is. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page