top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 2 Julie 2024

Koos Espach


Paulus voor Agrippa en Bernice (2)

 

Wat ‘n vriend het ons in Jesus

 

Hand. 25:17-20 – “Toe die priesterhoofde en die familiehoofde hierheen gekom het, het ek sonder uitstel die volgende dag op die regbank gaan sit en bevel gegee dat die man voor my gebring moet word. 18 Sy aanklaers het om hom gaan staan en hom beskuldig, maar nie van ernstige misdade soos ek verwag het nie. 19 Dit het alles gegaan oor twisvrae in hulle eie godsdiens en oor ‘n sekere Jesus wat dood is, maar van wie Paulus beweer dat hy lewe. 20 Omdat ek nie geweet het hoe om hierdie saak te hanteer nie, het ek gevra of hy gewillig sou wees om Jerusalem toe te gaan en daar oor hierdie dinge verhoor te word.”

 

Festus spog ewe trots met sy flinke aandag aan Paulus se saak. Hy vertel vir Agrippa van die afvaardiging van die Sanhedrin se aankoms hier by hom in Sesarea, en dat hy, sonder uitstel die volgende dag op die regbank op die plein gaan sit en Paulus laat haal het. Anders as Feliks, wat die saak twee jaar lank laat draai het, het hy dadelik opgetree. Agrippa móét darem sy doeltreffendheid as regeerder erken. 

 

Festus vat die Jode se aanklag saam as twisvrae en beskou dit as verskille van opinie oor hulle eie godsdiens, verskille wat nie noodwendig opgelos kan word nie. Hy is daarna nie heeltemal eerlik oor sy voorstel om die hofproses na Jerusalem toe te verskuif nie en hou sy verleentheid voor omdat hy onseker was wat om met die klagtes te maak. Daarom dan die rede waarom hy Agrippa se raad wil vra. Agrippa, van Joodse afkoms, sal beter begryp oor ’n sekere Jesus wat dood is, maar wat volgens Paulus leef.

 

Festus het in dié opsig aan die kant van Paulus se opponente gestaan. Dit is tog dwaasheid om te aanvaar dat ’n Jood met die Naam Jesus, ongeveer dertig jaar gelede deur Pilatus tot die dood veroordeel, gekruisig en begrawe is en nou nog kon leef. Die ironie is dat die Jode daardie tyd daarin geslaag het om hulle godsdienstige klagte net so teen Jesus te verander in politieke beskuldigings toe hulle Hom voor Pilatus gebring het (Luk. 23:4, 14, 22), maar in Paulus se geval het hulle minder sukses gehad. En Paulus se godsdienstige oortuiging is die waarheid: Hierdie Jesus leef!

 

In ons geestesoog sien ons Jesus daar voor Pilatus staan: Die Man van hemelse afkoms teenoor Romeinse adel; die Man van vryheid, die weg, die waarheid en lewe teenoor die slaaf van sonde; die Man wat alles doen volgens die wil van God teenoor die man van die Romeinse wet; die Man wat lewe gee teenoor die man wat mense kon laat doodmaak; die Regter oor die heelal teenoor die regter oor Jesus.

 

Die Koning van die hemel en die Romeinse goewerneur kyk mekaar in die oë. Dit is eintlik tragies dat Pilatus nie Jesus se ware identiteit kon sien nie. Indien hy kon, sou hy Jesus se Koningskap ervaar het as Koning oor ‘n vredesryk, ‘n ryk wat mense van binne af verander, ‘n ryk van die hart! As Pilatus by Jesus gaan staan het, het hy onder hemelse bestuur gekom! As hy maar geweet het die Gestuurde van die lewende God van hemel en aarde, staan voor hom, sou hy in eerbied op sy knieë neergeval het. Om voor Hom te kniel, is tog die beste keuse van enige mens se lewe. Die resultaat daarvan is oneindig!

 

Wat ‘n prys is daar nie vir ons sondes betaal nie! Sien ons Jesus se gesig nadat die soldate daardie bebloede doek afgehaal het waarmee hulle hom geblinddoek het? – “Hy het nie die skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie” (Jes. 53:2b). Kan ons vir Jesus sien oor die pilaar uitgestrek lê, terwyl die sweep Sy ontblote rug al hoe dieper oopkloof? Sien ons hoe Hy Sy oë styf toemaak elke keer wanneer die stukkies metaal en been, pynlik op Sy verwonde rug insny, stukke vleis uit Sy liggaam ruk? – “Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie” (Jes. 53:3).

 

Kan ons ooit besef wat Jesus vir ons deurgemaak het? Kan die God van hemel en aarde mense só liefhê? Is sonde regtig só vreeslik? Waarom het Jesus dit toegelaat? – “Die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jes. 53:5b). Wat ‘n geweldige gedagte! Mag ons nooit vergeet wat ‘n groot prys Jesus moes betaal om ons van die siekte van sonde te kom genees nie. Mag ons die vreeslikheid van sonde in die wrede mishandeling van Jesus onthou.

 

My en jou redding was vir Hom belangriker as Sy lyding. Sy lyding op aarde was die prys wat Jesus moes betaal vir jou en my. Vir die redding van net één sondaar, moes Jesus die vólle prys betaal. Waar staan ek en jy teenoor die Man van Nasaret? Wat het Hy in jou en my lewe bereik? As Hy nie geslaag het om ons te verander nie, is dit nie omdat Hy nie kan nie, dit is omdat ons Hom nie wil toelaat nie!

 

“Sonde is die duurste ding in die heelal. As dit onvergeef bly, kos dit jou die ewigheid. Word dit vergewe, het dit Christus se lewe gekos om dit te bewerkstellig” (Charles G. Finney).

 

Gebed: Dankie Jesus dat U die pad van marteling en skande ter wille van my geloop het. U weet hoeveel oordeelsfoute ek gemaak het, hoeveel flaters ek op my kerfstok het, hoeveel onoordeelkundige dinge ek al kwyt geraak het en mense daardeur ontsettend seer gemaak het. Dankie dat U ten volle daarvoor betaal het! Dankie dat ek kan saamsing en dit bedoel: Wat ‘n vriend het ek in Jesus! Dankie dat U die vloek van die lewe gebreek het om vir my die ewige lewe te kan gee. Amen.

 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page