top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 1 Julie 2024

Koos Espach


Paulus voor Agrippa en Bernice (1)

 

Minder God = minder mens

 

Hand. 25:13-16 – “Na verloop van tyd het koning Agrippa en Bernice na Sesarea toe gekom om Festus te verwelkom. 14 Hulle het ‘n paar dae daar deurgebring, en Festus het Paulus se saak by die koning ter sprake gebring: ‘Hier is iemand wat deur Feliks as gevangene agtergelaat is. 15 By my aankoms in Jerusalem het die priesterhoofde en die familiehoofde van die Jode ‘n aanklag teen hom ingebring en my gevra om hom skuldig te bevind. 16 Ek het hulle geantwoord dat dit nie die Romeinse gebruik is om ‘n beskuldigde as guns uit te lewer nie. Hy moet eers geleentheid kry om hom voor sy aanklaers teen hulle beskuldiging te verdedig.”

 

Sesarea is in feesgewaad, ook die paleis, ter ere van die besoek van koning Agrippa en sy suster-vrou, die beeldskone Bernice. Sy was tien jaar ouer as haar suster Drusilla en volgens geskiedskrywers, albei wulpse vrouens wat, deur hulle hartstogte oormeester is en nie geaarsel het om die heiligste tradisies van hulle Joodse volk te vertrap nie – Drusilla deur met die heidense Feliks saam te leef en Bernice wat met haar eie broer Agrippa getroud was. Bernice was volgens oorlewering, nog nie oud in jare nie, maar oud in liefdesake – nou al ‘n weduwee en geskei van twee vorige huwelike en tans as vrou saamleef met haar broer, koning Agrippa II.

 

Te midde van die feestelikhede waar wyn in oormaat gedrink word en feesmaaltye deur die vooraanstaandes genuttig is, het Festus onthou van Paulus. Paulus, die eensame gevangene in die paleis, was oorgetuie van die uitspattighede, ja waarlik, “hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is” (2 Kor. 4:4). Paulus, oorgetuie van die feesvreugde binne die paleis, musiek en danse van wellustige vroue waarvan Bernice deel is. Mense wat hulle oorgegee het aan skandelike hartstogte.

 

Tussen die feestelikhede moet daar ook sekere sake afgehandel word, sake van Paulus wat Festus aan die koning voorlê. En Festus laat Agrippa die hele toedrag van sake hoor. Die eensame gevangene, te midde van die feesgejubel van Sesarea, dwing die twee magtiges om hulle vir ‘n private gesprek af te sonder. Intussen is daar lyding in Paulus se sel – Jode en nie-Jode, die magtige heersers van die wêreld, is in die mag van die sonde! "In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God, het hulle hulself oorgegee aan onbetaamlike hartstogte. Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor aan sedelike onreinheid, sodat hulle hulle liggame onder mekaar onteer ... vroue verander die natuurlike omgang in teennatuurlike omgang ... en mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit” (Rom. 1:23-27). Hulle het die waarheid van God verruil vir die leuen.

 

So min as wat die antieke mense in Paulus se tyd dit gehad het, so min het sommige van die moderne mense van vandag ’n wanbegrip van die sonde. Nog erger, dit is asof die mens van alle tye geen besef het van die toorn van God oor die sonde nie. God se toorn is sy heilige reaksie op die opstand teen, en verwerping van Sy wil. Dat God oor die sonde toornig is, is nie in stryd met sy liefde nie, inteendeel, dit is die teenkant van sy liefde. Mense wat in ongeregtigheid leef, verontagsaam die waarheid aangaande God en Sy wil vir die mens, en die waarheid speel geen rol in sy lewe nie. Dat die mens goddeloos is, is nie die gevolg van onskuldige onkunde nie, maar van opsetlike oortreding. Dit is die oer-domheid van die mens, van Adam af, dat hy vanuit sy hart, sy lewenskern, hom nie aan die lewende God wil onderwerp nie.

 

Omdat mense nie God as God eer nie, het Hy die mense oorgegee aan die drange van hulle hart. God laat die mens los om te doen wat hy wil, om te doen wat hy begeer. Die mens onteer hulle liggame onder mekaar wat ’n vervanging van die natuurlike liefde deur teen-natuurlike wellus is, wat skandelik van aard is en tog geen bevrediging kan bied nie. In hierdie geval mans en vroue wat hulle natuurlike seksuele oriëntasie vir homoseksuele en lesbiese verhoudings verander en vervang het. Die ironie van die seksuele perversiteit, is dat dit na al die eeue, nog nie verander het nie! Om van God weg te draai, om die waarheid van God te verruil vir die leuen is die wortelsonde waaruit alle vorms van wetteloosheid voortvloei. Dit hou in dat die skepsel in plaas van die Skepper vereer word, dat aan mense of dinge godsdienstige eer bewys word.

 

Ons mag nooit op twee gedagtes hink: wil ons die Here dien of dalk die wêreld? Ons behoort immers aan Hom: “Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal” (1 Kor. 6:19-20). Alles in die hemel en op aarde behoort aan God. Hy het ons formeer uit die stof van die aarde en die lewensasem in ons neus in geblaas (Gen. 2:7). Wanneer ek en jy ons liefde aan die wêreld verkoop, pleeg ons owerspel en verloën ons God se liefde. Satan het dan hierdie rondte gewen! Die keuse is onafwendbaar: “’n vriend van die wêreld, is ‘n vyand van God.” (Jak. 4:4). Onthou, God en die boosheid van die wêreld is in konflik met mekaar en sluit mekaar uit! Watter kant van die lyn is ek en jy?

 

 “Kies slegs vriende wat jou op die pad na die hemel toe kan help” (John Wesley).

 

Gebed: Here, wanneer ek saam met “vriende” beweeg wat die dinge van die wêreld liefhet, is ek geneig om ook so te word, te praat en te handel. Dankie dat U genade só oneindig groot is, dat U soos ‘n wagtende Vader U arms uitstrek om my terug by U te verwelkom, sonder enige verwyte. Vergewe my sondes, Here. Amen.

 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page