top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 28 Junie 2024

Koos Espach


Paulus voor Festus (4)

 

God is die Regisseur van die skouspel van ons lewe

 

Hand. 25:12 – “Nadat Festus die saak met sy raadgewers bespreek het, het hy geantwoord: ‘Jy het jou op die keiser beroep; na die keiser toe sal jy gaan.”

 

Paulus maak seker Festus neem hom nie teen sy eie wil na Jerusalem om daar verhoor te word nie. Hy gebruik sy reg as Romeinse burger, die sogenaamde “prouocatio ad Caesarem” wat beteken het dat hy teen die uitspraak van ‘n laer Romeinse regsinstelling kon appelleer en daarop aandring om deur die keiser self verhoor te word. Nadat Festus die saak met sy raadgewers, wat bestaan het uit die hoër beamptes van sy hof  bespreek het, het hy geantwoord dat Paulus hom op die keiser beroep het en dat hy na die keiser sal gaan. Paulus het seker gejuig in sy hart. Daarmee word sy saak vir die tweede keer na iemand anders verwys. Eers deur Lisias na Feliks, en nou Feliks na Festus, totdat Paulus self die derde skuif maak, van Festus na die keiser.

 

In Rome heers keiser Nero wat later deur die Kerk as die Antichris beskou is, ‘n dierlike persoonlikheid wat selfs nie teruggedeins het om sy eie moeder te laat vermoor nie. Ons sou dalk gesê het: “’Dit was nou ‘n dom move Paulus!” Maar hierdie keuse is ‘n vernietigende oordeel teenoor Jerusalem. Paulus besluit, liewer teregstaan voor die Antichris, as voor die hoëpriester met sy Raad. Paulus weet immers hoe die Raad sy Sender behandel het en berus hom by die wil van Christus: “Dit lyk vir my God het aan ons, die apostels, die laaste plek in die ry gegee ..., ons het ‘n skouspel geword vir die wêreld, vir engele sowel as mense” (1 Kor. 4:9), en die skouspel moet ‘n getuienis wees! Paulus se tye is immers in Christus se hande: Hou moed, jy moet ook in Rome getuig” (Hand. 23:11).  

 

Paulus gee aan die gemeente in Korinte ‘n kykie in sy dagboek sodat hulle kon besef dat sy pad maar steil was. Hy het rondgeswerf van plek tot plek waar hy uitgeskel en vervolg is. Boonop was daar maar min geld in sy sak en het hy nie eens ‘n hangkas gehad om sy bietjie klere op te hang nie, hy moes dit saamdra. Maar, hy is die man met wie God ‘n pad van genade gestap het, ‘n man vir wie God gesê het sy genade is vir hom genoeg (2 Kor. 12:9). Terwyl ander mense met wie hy te doen gehad het, voor in die ry gestaan het, was “hy as apostel ‘n skouspel vir die destydse wêreld wat agter in die ry moes inval.”

 

Paulus roep die gemeente van Korinte – en ook vir my en jou – om ons dagboeke oop te maak. Dalk is dit nodig om sommige van die besigheidsafsprake te vervang met sake van die Here. Natuurlik is dit nie maklik nie. Die vraag is egter of ons getrou bly aan God selfs wanneer ons gekritiseer word of dinge ervaar wat net nie sin maak nie, of selfs wanneer ons ‘n skouspel geword het. Onthou, God en die engele kyk. Ons getrouheid onder druk, sal hulle ‘n rede gee om God met blydskap toe te juig!

 

Die maklikste uitweg is om die dagboeke toe te maak en Paulus se oproep te verwerp. Eerder wegdraai en sê: “Dit is nie ‘n inskrywing wat ek wil maak nie. My dagboek is vol. Ek wil ook nie deel wees van die skouspel wat agter in die ry moet inval nie.” Sulke gelowiges kies eerder die gemaklike lewenstyl. En ons weet mos wanneer ons gemaklik lewe, dan het ons nie die Heilige Gees se krag nodig nie. Elkeen van ons was al êrens op ‘n keer op die verhoog waar ons lewe ‘n skouspel was, of steeds is? Daar waar die ‘draaiboek’ ons swakhede wys. Daar waar ons voos gestamp en gestoot is. Wanneer ons soms voel asof ons van die verhoog kan afklim en  sê: “Ek kan dit nie meer verdra nie. Ek voel om op te gee!”  

 

Christus weet dat ons rol in hierdie skouspel nie maklik is nie. Maar Hy het voor ons uitgegaan op die pad en ons moet na sy voorbeeld kyk om bemoedig te word: “Hou Hom gedurig in gedagte. Dink aan alles wat Hy moes deurmaak, ja, aan al die slegte dinge wat die sondige mense aan Hom gedoen het. As (ons) sy voorbeeld volg, sal (ons) nooit moedeloos word en tou opgooi nie” (Heb. 12:3 – Die Boodskap). Elke keer wat ek en jy ons Bybel optel, hou ons eintlik God se ‘draaiboek’ wat Hy vir ons skouspel geskryf het vas. Ja, sommige van die ‘tonele’ gaan moeilik wees, en daar gaan nog meer stampe en stote in die skouspel van die lewe wees. Maar met die Heilige Gees wat ons krag en deursettingsvermoë gee, gaan ons dit maak! Die beste nuus van alles is: ons ken die Regisseur van hierdie skouspel. 

 

“Dit is alleen deur deursettingsvermoë dat die slak betyds die ark gehaal het” (Charles Haddon Spurgeon).

 

Gebed: Dankie Here dat U elke tree saam met my stap, al voel my rigting soms koersloos. Selfs wanneer ek nie altyd weet waarheen U met my op pad is nie. Wat ek wel weet, is dat U my sal help, net soos vir Paulus, om die aanslae van die lewe tot breekpunt toe te kan verduur. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page