top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 27 Junie 2024

Koos Espach


Weens probleme met die Internet kon ons nie gister dagstukke uitstuur nie. Jammer vir die ongerief.

Paulus voor Festus (3)

 

Die dood pas nie in God se lewensplan in nie

 

Hand. 25:8-11 – “Paulus het hom toe verdedig: ‘Ek het niks verkeerds teen die Joodse wet of die tempel of die keiser gedoen nie.’ 9 Maar Festus wou die Jode ‘n guns bewys en sê vir Paulus: ‘Sou jy bereid wees dat ek jou oor hierdie saak in Jerusalem gaan verhoor?’ 10 Paulus antwoord hom: ‘Ek staan tereg voor die keiserlike regbank. Hier moet ek verhoor word. Ek het die Jode geen kwaad aangedoen nie. Dit weet u self baie goed. 11 As ek skuldig is en iets gedoen het wat die doodstraf verdien, is ek bereid om te sterwe. Maar as daar niks in hulle beskuldigings teen my steek nie, kan niemand my as guns aan hulle uitlewer nie. Ek beroep my op die keiser.”

 

Die aard van die beskuldigings blyk uit Paulus se verdedigingsrede wat kortliks deur Lukas saamgevat word. Geen getuies het na vore gekom om die beskuldigings te staaf nie, en al wat Paulus kon doen, was om hulle kategories een vir een te weerlê. Hy staan sterk en kan dus met vrymoedigheid verklaar dat hy niks gedoen het om die Jode enige leed aan te doen deur hulle wet te verbreek of die tempel te ontheilig, of teen die keiser iets het nie.

 

Waarom volg Festus dan nie met vryspraak nie? Hy wou die Jode ’n guns bewys en vra vir Paulus of hy bereid sou wees om in Jerusalem verhoor te word? Tussen die Sanhedrin se beskuldigings en Paulus se ontkenning daarvan is Festus in die moeilikheid. Hy weet nie presies wat om van die situasie te maak nie. As die nuwe goewerneur sou hy graag die Joodse leiers se guns wou wen sonder om die Romeinse reg enige skade aan te doen. Dit is egter merkwaardig dat hy nie met die Jode praat nie, maar wel hierdie vraag aan Paulus stel. Daar is by Paulus geen weifeling of aarseling nie. Hy het geweet dat die Sanhedrin niks anders as sy dood in die oog gehad net nie. Daarom beroep hy hom op die keiser.

 

Paulus én Festus weet dat die Jode Paulus wil dood hê. Daarom sê Paulus dat hy nie probeer om die dood te vermy as hy werklik iets gedoen het wat die dood verdien nie. Aangesien hy oortuig is van die opstanding uit die dood, hou die dood nie vir hom ’n verskrikking in nie. Hy bevestig dit ook in sy brief aan die Korintiërs: “Omdat Christus uit die dood opgewek is … sal almal in Christus lewend gemaak word” (1 Kor. 15:20, 22) en in 1 Kor. 15:54 sê hy: “Die dood is vernietig en die oorwinning is behaal.” Vir Paulus gaan dit nie om sy lewe nie maar om die wet en die reg. Aangesien Festus nou besig is om die reg en die wet te verdraai sê Paulus hy appelleer. Hy beroep hom as Romeinse burger om sy wetlike reg uit te oefen en sy saak deur ’n hoër gesag te laat besleg, nl. die keiser!

 

Vir Paulus het die dood nie ‘n verskrikking ingehou nie, trouens, hy het daarna “verlang om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste” (Fil. 1:23). Ons hoef ook nie vir die dood bang te wees. Die dood se angel is uitgetrek. Daarvoor het Jesus Christus gesorg. Hy berei vir ons ‘n nuwe lewe anderkant die graf voor, ‘n beter lewe saam met Hom. Is dit nie 'n verrassende, bevrydende manier van kyk na aaklige goed soos siekte en dood nie? Wanneer óns daarna kyk, is alles somber en katastrofies, maar die Here Jesus keer dit om.

 

Dood is die mens se grootste vrees, juis omdat dit so finaal is. Wanneer die gemiddelde mens siek word en die dood in die gesig staar, sal hy al sy besittings gee om sy lewe met ‘n dag of twee te kan verleng. Dood spreek altyd die laaste woord en op die ou end sterf almal en word hulle stem nooit weer gehoor nie. Dit is die normale verloop van die lewe. Van twee dinge kan ons absoluut seker wees: dat ons eendag sal doodgaan en dat ons, indien ons in Jesus Christus glo, vir altyd sal lewe!

 

Die dood pas nie in God se lewensplan in nie. Ja, die dood is deel van ons aardse onvolmaakte, gebroke sondaarslewe. Maar tog is dit vir ons wat glo anders, want die dood is 'n oorwonne realiteit. Ons sal nog huilend en met stukkende harte protesteer oor geliefdes wat van ons af weggeneem word, of dikwels nog met 'n opregte traan in die oog, ander se hartseer en leed deel. Maar, ons huil anders, of behoort anders te huil as die wêreld. Ons mag treur, maar nie treur soos 'n wêreld sonder hoop nie. Want nie alleen huil en treur God saam met ons nie, maar weet ons dat Hy die dood oorwin het. Jesus het opgestaan uit die dood, en daarom sal ons ook opstaan, al bring die aardse dood soveel hartseer.

 

Terwyl ons dan almal in die groot vertreksaal sit en wag vir die Aankondiger sodat ons eendag aan boord moet gaan, is dit geen rede tot paniek nie. Ons vertrek beteken immers die aankoms by ons Vader en ‘n blye weersiens van hulle wat reeds tuis is. Intussen moet ons leef, in al ons somtydse treurige omstandighede, soos mense met hoop. Want ons het vir Jesus Christus: “Hy sal al die trane van ons oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verby gegaan” (Op. 21:4).

 

“Die dood is net ‘n pad wat jy móét loop as jy by die Almagtige God wil uitkom” (Parnell). 

 

Gebed: Here Jesus, die dood is só ontwrigtend en vol hartseer. Maar dankie Jesus Christus dat ek die dood nie hoef te vrees nie want U het in my plek reeds deur die dood gegaan. U het die dood oorwin en sy angel uitgetrek. Daarom wéét ek dat U by my en my geliefdes sal wees wanneer ons deur die doodsvallei moet gaan. Dankie Jesus dat U selfs dié wat agterbly, se trane afdroog. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page