Gedagte vir Vandag
Maandag, 24 Junie 2024
Koos Espach
Paulus voor Festus (1)
Ons hemelse Gids
Hand. 25:1-3 – “Drie dae na sy aankoms in die provinsie het Festus van Sesarea af na Jerusalem toe gegaan. 2 Die priesterhoofde en die leiers van die Jode het voor hom verskyn en ‘n aanklag teen Paulus ingebring. Hulle het hom ernstig versoek 3 om hulle ‘n guns te bewys en Paulus na Jerusalem toe te laat haal. Hulle het dit gevra omdat hulle hom op pad daarheen in ‘n hinderlaag wou doodmaak.”
Keiser Nero stuur Porcius Festus in 59-61 nC, as sy goewerneur na Judea en Samaria om Feliks op te volg en die baie opstande daar te gaan onderdruk. Anders as Feliks is hy nie ’n vrygelate slaaf nie, maar ‘n man wat gewoond was om as heerser op te tree. Ook anders as Feliks, stel Festus nie Paulus se saak uit nie, maar gaan feitlik onmiddellik na Jerusalem, die kookpot van Palestina. Sy besoek was gegrond om kennis van toestande daar te verneem en so gou moontlik met die Joodse leiers te ontmoet.
By sy kennismaking met die Joodse leiers rig hulle ‘n dringende versoek aan die nuwe goewerneur. Hulle het nou al vir meer as twee jaar Paulus “die pes” op hulle brein. Hy word in Sesarea deur sy mense besoek en sy plek van aanhouding word deur daardie “pes” verder besmet. As verteenwoordigers van die Sanhedrin versoek hulle Festus baie ordentlik om, as sy intreeguns aan hulle, vir Paulus na Jerusalem toe te laat haal – dit terwyl hulle al die tyd ’n hinderlaag beplan om Paulus langs die pad te vermoor.
Die weë van die Here is dikwels onverklaarbaar, verseker ook vir Paulus. Sy begeerte was om Rome toe te gaan, maar in teenstelling daarmee sit hy geboeid as ‘n gevangene in Sesarea. Die Here het immers beloof hy sal nog in Rome oor Hom gaan getuig (Hand. 23:11). Maar wanneer Here? Die Here se tyd is nie ons tyd nie! Hy het egter ’n groter plan gehad met Paulus se twee jaar in aanhouding in Sesarea se gevangenis. Later meer daaroor. In Jesaja 55:9 sê die Here: “soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.” Daarom kon Paulus ook dikwels die woorde van die Psalmdigter in sy lewe toepas: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg” (Ps. 37:5).
Een en twintig eeue later ná Paulus se aanhouding, kan ons vandag ook erken dat byna elke mens vroeër of later ondervind dat God se weë en gedagtes anders is as dié van ons. Ons beplan, soek leiding en rigting vir ons lewens in al wat ‘n bron is op die internet, tydskrif en boeke van sogenaamde kenners – ons maak toekomsplanne wat mooi netjies inmekaar pas. Net om hewig frustreerd te raak wanneer ons ‘goed uitgewerkte planne’ skielik verkeerd loop. Die ironie is dat ons nie alleen ontnugter hoef te wees nie, baie min mense se lewe loop presies soos hulle dit voorgestel of gehoop het. Die oplossing van ons probleem lê dan nie in die aanvaarding van mislukking nie, maar eerder te probeer om die oorsaak van ons gebrek op sukses, na te speur.
Is dit nie miskien dan die tyd om te vra waar God in ons planne inpas nie? Dit is ons gelowiges se gewoonte om God eerste te stel in geestelike sake, maar wanneer dit by die praktiese of alledaagse sake kom, is ons geneig om te dink dat dit ongewens is om vir hulp aan te klop by die Here. Nog erger, ons dink nie eers daaraan om die Here by ons beplanning te betrek nie, of dalk dink ons dat ons weg beter is as God se weg. Ai, ons mense is soms só kortsigtig. Die Here weet wat waarlik goed is vir ons – “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.” Maar Here, daar is nie nou tyd om eers ons geestelike baadjie aan te trek en ons geestelike gesiggie op te sit nie ...! Dan antwoord Hy: “Julle kan kom soos julle is!”
Die Here wil ons lewe in die juiste rigting stuur - die rigting na Hom, na die hemel. Hy het in sy louter genade en ondeurgrondelike sondaarsliefde vir ons 'n weg gebaan waar geen weg was nie. Al is God se weë menigmaal so duister en ondeurgrondelik, mag ons nooit in twyfel verval nie. Wanneer dit vir ons lyk asof Hy ons vergeet of verlaat het, kan ek en jy in geloofsvertroue vaster en vaster klem aan die Rots van die eeue wat nimmer sal wankel of sal wyk nie - Hy sal ons nie begewe en ons nie verlaat nie: “Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie!” (Jes. 49:15).
Vir ons as kinders van God is dit so onuitspreeklik heerlik om te weet dat God se weg anders en hoër is as dié van ons. God se weë loop nooit dood nie, maar altyd na die hemelse bestemming. Hoe sien my en jou lewensweg vandag daarna uit? Bewandel ons ‘n lewensweg waarlangs ons Christus Jesus se nabyheid en leiding kan ervaar? Oordink ons ook gereeld ons lewensweg om ons weer na die weg van die Here te rig? “Ek het goed gaan kyk na my eie lewe, dis een groot deurmekaarspul; toe het ek besluit om dadelik terug te keer na U” (Ps. 119:59 – Die Boodskap). Of het ons ook al so gewoond aan die weë van hierdie wêreld geraak dat ons nie meer aan die Here dink en na Hom vra op ons lewensweg nie? Kom ons kweek die gewoonte om God eerste te stel wanneer ons plannetjies maak, Hom te ken in al ons weë.
“Wanneer jy ‘n keuse moet doen en jy doen dit nie, is dit op sigself ‘n keuse” (William Jones).
Gebed: Here, ek wou eers self my lewensweg beheer, maar dankie tog, ek het nou die beste Gids tot my beskikking. Nou is ek immers op die pad van die lewe met u Gees as metgesel. Amen.
Comments