top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 21 Junie 2024

Koos Espach


Paulus word aangehou (7)

 

Wees tevrede met wat ons het

 

Hand. 24:26 – “Feliks het die hele tyd ook gehoop Paulus sou hom omkoopgeld aanbied om los te kom. Daarom het hy hom so dikwels moontlik laat haal om met hom te praat.”

 

Feliks maak die fout van sy lewe. Hy het bang geword want Paulus het in sy gesprek hom gedaag voor sy regverdige God, die Regter van hemel en aarde. Iemand het gesê Paulus se getuienis van God was só magtig, dat die grootheid van Feliks se heidense siel deur God se Gees oorgeneem is. Hy wou loskom van sy inwendige stryd, daarom stuur hy Paulus eers weg, om later weer met hom te praat (v. 25). Sy harde hart het begin smelt maar die dors na geld, het die hart van ys wat begin ontdooi het weer verhard. Sy mentaliteit van ‘n slaaf het die oorhand gekry teenoor sy pos as Romeinse goewerneur in Sesarea. Hy wou twee base gelyk dien – sy Romeinse ‘baas’, keiser Nero, en sy aardse ‘baas’, geldgod Mammon.

 

Wat sê die Bybel, of liewer, wat sê Jesus? “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God en Mammon dien nie.” (Matt. 6:24). Paulus voeg by in sy brief aan die Fillipense: “Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind.” (Fil. 3:19). Satan het Jesus probeer versoek in die woestyn (Luk. 4:1-13), en Jesus het hom weggestuur deur aan te haal uit die Skrif: “Daar staan geskrywe: ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Deut. 6:13). Ai, ongelukkig word menigte mense vandag nog gevang deur die oudste trick in die boek van satan, en buig die knie eerder voor Mammon.

 

Wie is Mammon? Mammon is die rykdom waarop die mens al sy vertroue plaas. Dit is die selfsugtige hebsug wat ‘n mens se hart verower en jou van God vervreem. Die Bybel verwys nie na geld wat die wortel van allerlei kwaad is nie, maar na die liefde daarvoor: “Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal” (1 Tim. 6:10).  

 

Geldgierigheid het ‘n mededingende saligheid geword. Ek meen, wanneer daar oor geld gepraat word, spits ons die ore. Iemand het gesê wanneer ‘n leraar van die preekstoel verklaar dat die volgende Saterdag ‘n seminaar van een uur oor finansies by die kerksaal aangebied word, en elkeen wat dit bywoon sal ‘n R1 000 ontvang, sal die saal betreklik vol wees. As hy egter ‘n biduur afkondig vir die volgende Saterdag, sal die konsistorie groot genoeg wees vir die paar wat opdaag.

 

Ons kan nie God én geld liefhê nie. Hulle sluit mekaar uit, want beide lê beslag op ons hele lewe. Ons kan nie onnadenkend leef sonder om ‘n keuse te maak nie. Jesus het die regte keuse gemaak tót die dood toe, sodat ek en jy vandag kan leef, om die regte keuse te kan maak! Die keuse dat God ons Christen-gelowiges se onbetwisbare Eienaar is. Alles behoort aan God: “Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here” (Ps. 24:1). Dit bring ons by die vraag: Wat verwag God van my en jou om te doen? Opgesom: Om Christen te wees, is nie ‘n “part-time job” nie, dit is voltyds. Ons bly Christen! Christen vir God en sy Koninkryk.

 

Jesus verklaar dat “ons nie God en Mammon kan dien nie.” Die Bybel het talle waarskuwings oor die gevare om rykdom na te jaag. Hier is enkele verse: “Wie op sy rykdom staatmaak, kom tot ‘n val ...” (Spr. 11:28); “Rykdom hou nie vir altyd nie ...” (Spr. 27:24); “Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie ...” (Pred. 5:9). Niks op aarde behoort aan ons nie, God het ons die gebruikreg daarop en daarvan gegee. Hy het dit tot ons beskikking gestel en ons mag dit daarom geniet solank dit net nie ons baas word nie, of nog slegter, ons god – ons Mammon. Want dan besit ons niks, maar Mammon besit ons. Dit is nie die wêreld wat sodanig boos is nie maar die verskeidenheid bose begeertes wat die wêreld onder sy beheer hou met Mammon as “CEO.”

 

Jesus verbied nie materialisme nie. Hy waarsku egter teen die siekte van materialisme. Om baie te besit is nie ‘n sonde nie, maar wanneer dit ‘n selfsugtige begeerte word is dit wel. Jesus is ook nie teen rykdom nie – daar is ryk mense wat God met oorgawe dien en ook armes wat materialisties is. Dit gaan oor waarop ons fokus. Valse roem en trots op ‘n mens se besittings lei tot versaking van jou afhanklikheid van God. Gevolglik lei dit tot ‘n groot mate van selfverheerliking en word mens “godjie-van-sy-eie-koninkrykie – die geld-koninkrykie.”

 

Tyd vir introspeksie. Die groei van ons bankbalans ten koste van ons siel, kan ons laat ly. Beskou ek en jy geld as dit waarvoor ons ons afgesloof het, of sien ons dit as ‘n gawe van God om in sy Koninkryk aan te wend en sy doeleindes daarmee te dien? Hou Mammon dus weg wat ons maklik in sonde kan begewe! My persoonlike opinie is dat die hel vol sal wees van mense wat op hulle rykdom vertrou het. Wanneer ek en jy die dag ja sê vir Jesus, verander ons gesindheid ten opsigte van ons besittings onherroeplik. Dit bly egter ons keuse wie ons wil dien: Ons goed of ons God!

 

“Gewoonlik word die absolute lojaliteit aan God en gemeenskap met Hom verruil vir selfgerigte eiebelang wat vernietigend is vir jou Christelike identiteit” (Prof. Jan du Rand).

 

Gebed: Dankie Here dat U my waarsku teen materialisme. Dankie dat ek die gawes wat U tot my beskikking stel, kan geniet. Dankie dat U my toelaat sodat ek self kan besluit hoe om dit te bestuur. Bevry my asseblief van die vervlietende vermaak wat mammon gee. Plaas my eerder in ‘n verhouding met U onbreekbare liefdesbande want dit is net U wat blywend kan versadig. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page