top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 18 Junie 2024

Koos Espach


Paulus word aangehou (4)

 

Sekerheid in ‘n onseker wêreld

 

Hand. 24:25 – “Paulus het met Feliks gepraat oor ‘n lewe in gehoorsaamheid aan God, oor selfbeheersing en oor die komende oordeel.” (3)


Vergelyk ook Titus 1:1-2 – “Ek (Paulus) het die opdrag ontvang om die uitverkorenes van God te lei tot die geloof en tot kennis van die waarheid, dié waarheid wat lei tot die diens van God 2 en wat hoop gee op die ewige lewe. God wat sy woord hou, het die ewige lewe lank gelede aan ons belowe.”

 

Paulus is besig om sy Damaskus-opdrag van Jesus se Naam onder ‘konings’ uit te dra (Hand. 9:15). Hy skilder ‘n prentjie aan Feliks en sy vrou Drusilla, dat hulle enige dag enigiets te wagte kan wees; dat hulle in hierdie wêreld eintlik niks goeds te wagte moet wees nie. Paulus stel dit aan hulle dat ‘n lewe in gehoorsaamheid aan God, ‘n lewe van moed en hoop in die koninkryk van God waarborg, en nie in die heidense Romeinse Ryk nie.

 

Dit lyk asof die omstandighede in die wêreld en veral hier in Suid-Afrika waarin ons vandag leef, die slegste is wat dit nog ooit was. Alles wat ons sien en hoor, lyk en klink ontstellend. Die oorgrote meerderheid mense kyk na die toekoms met huiwering en onsekerheid, onsekerhede wat mense opkeil, selfs figuurlik opvreet. Onsekerhede laat ’n mens erg wonder oor die dag van môre, veral as ’n mens nog kinders het en wonder oor hulle toekoms. Dit maak ons bang. Wanneer ‘n kindjie gebore word het ouers en grootouers allerlei drome vir daardie kindjie en wil ons nie eens dink aan onsekerhede, en veral doodgaan nie.

 

Ek is seker as ons elkeen nou ’n lysie moet maak van dinge waaroor ons nie presies seker is nie, gaan dit ’n lang lysie wees. Op die meeste van ons se lysie sal die land waarin ons woon en veral die ‘nuwe’ regering, baie na aan bo wees, of heel bo. Dié wat grond het, gaan wonder of hulle nog grond gaan hê. Wel, die kragsituasie bly heeltyd onseker. En dié wat dink hulle werk is veilig, wonder dalk dat hulle nie so seker kan wees nie.

 

Sommige wat hier lees sal moontlik nou sê dat ek swartgallig is, maar luister net na mense om jou se gesprekke. Groot onsekerheid staar hulle in die oë en hulle weet nie herwaarts of derwaarts nie. In baie mense se lewens kom maak onsekerheid sy lêplek en dit maak ’n mens moeg. En boonop klink die helder stemme van die doemprofete in ons ore en hulle verkondig dag en nag die hooploosheid van ons situasie. Al hoe meer mense verval in wanhoop en gee moed op.

 

Die geskiedenis openbaar egter dat hierdie toestand waarin ons vandag leef, geensins nuut is nie. Deur die eeue heen het die wêreld en sy mense reeds rampspoed ervaar, maar in elke geval het God oor Sy mense gewaak en Sy skepping bewaar, soveel so dat die psalmis selfs in sy teëspoed kon sê: “Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie” (Ps. 136:1) en soos ‘n refrein beklemtoon: “aan sy liefde is daar geen einde nie.”


Daarom kan, en moet ons nooit die feit uit die oog verloor dat wat ook al met ons en met mense rondom ons gebeur, Jesus onderneem het om by ons te wees tot aan die voleinding van die wêreld (Matt. 28:20). Paulus kom bevestig ook daardie sekerheid in ons vergelykende teksvers in sy brief aan sy helper Titus.

 

As ons in Jesus glo, dan is die kaartjie na die hemel bespreek. Al kom ons sonder die kaartjie by die hemel se hekke aan, hoef ons steeds nie bekommerd te wees nie, want die Bybel leer ons dat ons wat in Jesus glo, se name in die boek van die lewe geskryf word. Tussen die hoop onsekerhede moet ons vashou aan hierdie groot belofte van God. Op ’n manier raak die klomp onsekerhede nogal minder, want as ons weet dat God vir die lewe tot nou toe gesorg het, sal Hy mos ook sorg vir môre en oormôre en die dae daarna.

 

Kom ons verjaag die onsekerhede. Kom ons glo dat God op ’n manier steeds vir ons sal bystaan. Kom ons hou vas aan Sy beloftes en leef ’n lewe vol vreugde en vrede, al is die prentjie soms so effe donker. Wat ook al in ons lewe gebeur, weet dat die lewende Christus nog steeds in beheer is. Laat sy Gees hierdie boodskap op ons harte en lewe ingraveer en hou daaraan vas soos ‘n drenkeling aan sy reddingsgordel. Dan sal ek en jy gereed wees wanneer Jesus weer “saam met sy engele kom en Hy beklee sal wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en elkeen volgens sy dade sal vergeld” (Matt. 16:27) 

 

“Die punt van ons gelowiges is nie om in die hemel te kom wanneer ons sterf nie, maar om hemel toe te gaan voor ons sterf” (Anoniem).

 

Gebed: Ons Vader in die hemel, ek het vandag se insig deur u Gees só nodig gehad, want die lewe daar buite lyk nie lekker nie. Maar dankie Here, U is vir my ‘n “toevlug van geslag tot geslag” (Ps. 90:1b), en daarom is die grootste bron van troos en bemoediging vir my, dat ek ‘n ewige tuiste het waarna ek heen gaan aan die einde van my vermoeiende aardse reis. Intussen vra ek U, Gees van God, help my om gereed te wees sodat, wanneer Jesus Christus weer kom, ek gereed sal wees om Hom tegemoet te gaan. Maak my vry van vrees en onsekerhede, laat ek in U, rus en vrede vind. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page