Gedagte vir Vandag
Vrydag, 31 Mei 2024
Koos Espach
Paulus verdedig hom voor Feliks (7)
God se boekhousisteem
Hand. 24:17-20 – “Na baie jare het ek teruggekom om my mense met ‘n geldelike bydrae te help en om aan God te offer. 18 Toe ek met die offers besig was, het hulle my in die tempel gekry. Ek was klaar met die reinigingshandeling, en daar was nie ‘n skare of gedrang om my nie. 19 Daar was net ‘n paar Jode van die provinsie Asië. Dit is eintlik hulle wat hier voor u moes gewees het om my aan te kla, as hulle iets teen my kan inbring. 20 Of laat hierdie mense dan nou sê aan watter misdaad ek in my verhoor voor die Joodse Raad skuldig bevind is.”
Paulus gaan moedig voort en antwoord nou op die derde beskuldiging dat hy sou probeer het om die tempel te ontheilig (v. 6). Hy meld dat hy laas in Jerusalem was na sy eerste sendingreis tydens die vergadering met die apostels en ouderlinge in 48 nC. Die vergadering het gehandel oor die besnydenis van nie-Joodse Christene (Hand. 15). Dit was ongeveer agt jaar tevore. Dit was dus nie sy doel om nou die tempel te ontheilig nie. Inteendeel, die doel van sy terugkoms, was “om sy volk met ’n geldelike bydrae te help en aan God te offer.”
‘n Oproermaker het sy volk nie lief nie. Hy sal hulle beslis nie finansieel bystaan nie. Dan gebruik Paulus voorts ‘n regsargument wat in vandag se howe deurslaggewend sou wees – hy wys dat die eintlike moeilikheidmakers sommige Jode uit Asië was. As hy dan beskuldig word dat hy onluste onder al die Jode in die wêreld veroorsaak (24:5), moes hulle hom hier in Sesarea kom aankla het as hulle iets teen hom sou hê. Die hoëpriester en advokaat het hom op hoorsê aangekla!
Met die bring van dié gawes aan die behoeftige Joodse gemeentelede in Jerusalem, word Paulus se verbintenis met sy Joodse volk nogmaals onderstreep. In sy briewe meld hy meer oor hierdie liefdesdiens. Vergelyk Gal. 2:10: “Al wat hulle gevra het (Johannes, Petrus en Jakobus), is dat ons (Paulus en Barnabas) nie die armes onder hulle moet vergeet nie. Ek het my dan ook steeds vir hierdie liefdesdiens beywer.” Vergelyk ook Rom. 15:26-27: “Die gemeentes in Masedonië en Agaje het dit naamlik goedgedink om iets by te dra vir die armes onder die gelowiges in Jerusalem. 27 Hulle het self so besluit, en hulle is dit buitendien ook verskuldig, want as die gelowiges uit die Jode hulle geestelike rykdom met die heidennasies gedeel het, is die gelowiges uit die heidene dit aan die gelowiges uit die Jode verskuldig om hulle met stoflike hulp by te staan.”
Paulus se insameling van gawes vir die armes in Jerusalem is ’n uitvloeisel van ’n versoek (en moontlik ’n belofte) wat terugdateer tot sy besoek aan Jerusalem waartydens hy vir die diens onder die heidene afgesonder is (Gal. 2:9-10). Die spesifieke redes vir die armoede tussen Christene in Jerusalem is nie nou ter sprake nie, wat wel saak maak is die Christelike verbondenheid, die omgee vir mekaar.
Die Kerk is nie ‘n gebou nie. Dit is ook nie ‘n spesifieke plek nie. Die Kerk is waar God se kinders in die wêreld leef. Ons het dit reeds gesê dat die Kerk ek en jy is, en of ons Sondag in die Kerkgebou byeen is en of ons by ons eie huise is, die Kerk van God is by ons. By ons werk en by ons huis is ons elkeen die verteenwoordiger van God se huishouding in die wêreld. Dit beteken dat Christus óók in die ‘geldhoekie’ van ons lewe Koning sal wees, maar dit is een van die plekke wat ons die swaarste aan Hom oorgee, wanneer geleefde Christenskap só konkreet moet word soos die geldnote in die kollektesak.
Die Bybel is baie spesifiek in sy opdrag dat ons God se voorbeeld moet navolg deur bekommerd te wees oor die armes. Toe Paulus offergawes ingesamel het vir die armes in Jerusalem, het hy die Korintiërs gewys op die feit dat Jesus arm geword het sodat hulle ryk kon word: “Hy het ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word” (2 Kor. 8:9). Nooit! Hoe word ‘n mens ryk deur iemand anders se armoede? Christus het uit liefde die hemelse rykdom en heerlikheid verlaat om deel te word van ons wêreld van armoede. Hy het sy Koningsklere in die hemel agtergelaat en die vodde van ‘n slaaf aangeneem. As refleksie van die liefdeswerk van Jesus, moet ons Sy verstommende selfopoffering navolg in ons verhouding met armes.
Dit was vir Paulus belangrik dat gelowiges vir mekaar omgee en mekaar bystaan. "Elkeen moes na sy vermoë tuis iets opsy sit en dit opspaar” (1 Kor. 16:2), sodat hy dit later kon versamel of afgevaardigdes stuur om dit te gaan haal. Ons leef in ‘n tyd waar baie mense hulle werk verloor, baie wat sukkel om werk te kry en baie wat eenvoudig net nie kán werk nie as gevolg van verskeie redes. Armoede en swaarkry is daagliks rondom ons en alles lyk donker en mismoedig. Om te kan ondersteun, “iets opsy sit”, beteken dat ek en jy oor die nodige middele beskik om te kan help. As ons self niks het nie of miskien net genoeg het om onsself en ons gesin regop te hou, hoe kan ons ánder help om regop te bly? Christus het Sy lewe vir ons gegee. Is dit dan te veel gevra om iets van onsself vir mekaar te gee? Werk op God se boekhousisteem: Stel Hom voorop, Hy sal vir die res sorg!
“Hy wat sy ore en sy hart vir die armes sluit, sal self uitroep en nie gehoor word nie” (Alexander Pope).
Gebed: Voorsiener God, maak my onwillig om my beursie vas te knyp wanneer dit by die Evangelie kom. Maak my getrou in my rentmeesterskap vir dit wat U uit genade aan my skenk. Here, laat U oorvloed my inspireer om vir ander om te gee. Laat U heilige voorbeeld my besiel om mededeelsaam te wees, tot U eer en verheerliking. Amen.
Comments