Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 28 Mei 2024
Gebede vir die Verkiesing 2024
Ons wyk sedert gister af van ons normale Dagstukkies en jou vriendelik te versoek, waar jy jou ook al bevind in die wêreld, om saam met ons te bid vir Suid-Afrika.
Dankie vir elkeen van ons 905 E-Kerk lesers in Afrika, Verenigde Koninkryk, Europa, Australië, Nieu-Seeland, Amerika, Kanada en natuurlik in Suid-Afrika, wat sedert gister saam met ons tot Woensdag, 29 Mei 2024 bid vir die Verkiesing.
God is ‘n groot en aanbiddelike God. Hy is die Almagtige wat kan doen wat Hy wil. God is groot en heilig, Hy vul die ganse heelal met Sy teenwoordigheid, Hy slaap nooit nie. Daarom kan ons te eniger tyd, voor Hom buig in aanbidding.
Kom buig dan saam met ons en betuig jou lof en dank aan Hom, “gee jouself aan God as lewende en heilige offer. Moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God jou verander deur jou denke te vernuwe” (Rom. 12:1-2).
· Bid vir ‘n Regering met egte Geloofswaardes wat omgee vir Suid-Afrika se mense, en nie hulself of hulle party wil verryk nie. Bid vir ‘n Regering wat geregtigheid en eenheid handhaaf, wat korrupsie sal uitroei!
Matteus 24:10 – “In daardie tyd sal baie mense van die geloof afvallig word, en hulle sal mekaar verraai en mekaar haat. Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei.”
Ons Hoeksteen van geloof, ons leef in 'n tyd waar baie mense afwyk van die geloof in Jesus Christus en die waarheid van die Bybel. Mense bedrieg en haat mekaar en baie van hulle glo in onwaar openbarings wat hulle sou ontvang het. Wees ons genadig, Here! Leer ons om te onderskei tussen reg en verkeerd, en hou ons op U pad sodat ons geregtigheid en genade kan betoon en die bose kan haat.
· Bid vir ‘n terugkeer na God toe. Ons kerke loop leeg. Na COVID het baie gelowiges blykbaar besluit hulle het nie meer God se Woord nodig nie.
Joël 2:12-14 – “Maar nou sê die Here: Kom met julle hele hart terug na my toe, vas, huil, en treur! Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep. Wie weet of Hy nie die straf sal herroep nie; of Hy nie weer voorspoed sal gee nie sodat daar weer graan- en drankoffers sal wees vir die Here julle God!”
Vandag wil ons ons harte skeur en na U terugkeer, Here ons God. Laat U genade en liefde op ons reën. Skenk U oorvloedige liefde aan ons land en ál sy mense. Ons bid dat U ons sal seën.
· Bid vir voorbereiding van ons harte vir herlewing.
Jes. 45:22 – “Kom na My toe dat julle gered kan word, almal op die aarde, want Ek is God, daar is geen ander nie.”
Enigste lewende God, ons verklaar dat daar geen ander god as U is nie. Ons vra dat die mense van elke volk en stam en nasie, tot aan die einde van die aarde, na U toe sal kom om gered te word. Laat elke knie buig en elke tong bely dat U die enigste God is.
Deur die genade van ons Here het ons die vrymoedigheid om julle vriendelik te versoek om vir julle vriende, kennisse, familie en enigiemand wat kan en wil saambid, ook te stuur.
“Oorgee – Omgee – Uitgee”
KOOS EN RENETTE ESPACH NAMENS NG KERK FOCHVILLE-NOORD
Comments