top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 13 Mei 2024

Koos Espach


Paulus word na Feliks toe gestuur (6)

 

Toevallig net te veel toevallighede

 

Hand. 23:31 – “Die soldate het hulle opdrag uitgevoer en Paulus dwarsdeur die nag begelei tot in Antipatris.” (2)

 

Vergun ons om vandag weer na hierdie gedeelte te kyk, asook die vers wat daarmee gepaardgaan, of wat dit dalk voorafgaan – 37 “Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie! 38 Kyk, nou word julle stad as puinhoop aan julle oorgelaat” (Matt. 23:37-38).

 

Die beeld wat Jesus hier gebruik van ‘n hen en haar kuikens is bekend van Sy versorgende beeld. Hy het met sy ‘hen-hart’, sy eie lewe in gevaar gestel om sy ‘kuikens’ te red, sy kinders gedra. Jesus het sy natuurlike ouerinstink gevolg, en uit liefde ‘n uitkoms kom gee vir elkeen wat onder sy ‘vlerke’ wil skuil, soos die hen wat met een oog op die kuikens en die ander oog op die valk waak oor haar kuikens. Sy kloek haar kuikens nader en sprei haar vlerke oop sodat hulle onder haar kan skuil tot die gevaar verby is. Sy rek haar nek al in die rondte totdat sy reken alles is veilig, dan strek sy haar regop en vou haar vlerke toe sodat die kuikens weer hulle gang kan gaan.

 

Ons het dit al gesê, maar wil dit graag herhaal – Ds. Johan Brink van ons gemeente het dit pragtig verduidelik dat in ‘n Christen se woordeskat nie ‘n woord soos toevallig is nie, maar wel toe-val-Sy-lig, Jesus se lig. Tydens gister se aanddiens beskryf Ester van Zyl hoe sekere toevallighede, daartoe gelei het dat haar man Tinus toevallig tydens hulle familie-uitstappie, hulp kon kry wat sy lewe gered het.

 

Ons het vanoggend daaraan gedink hoe toevallig dit is dat ons dagstuk van Vrydag oor Jesus se beeld van die hen en haar kuikens, ooreenstem met ‘n dagstuk wat ons Vrydag van Gerjo Ben ontvang het. Ons deel dit graag onveranderd met al ons lesers wat wêreldwyd gister Moedersdag gevier het. (Terloops, volgens die Bybel Konkordansie 1957/1983, kom die woord toevallig net een keer in die Bybel voor en wel in 1 Samuel 6:9).

 

“My Ma sê vandag steeds vir my en my broer en suster hoe lekker dit vir haar is wanneer al haar kuikens onder haar vlerk is. Wanneer die lewe met sy uitdagings ons in trane gehad het, was sy op haar gelukkigste as ons by haar kom inloer. Dan het sy enige iets gedoen om ons las ligter te maak. ‘n Ma wil, soos ‘n moederhen, haar kuikens teen die aanslae van die lewe beskerm en hulle veilig hou. ‘n Ma wil haar kuikens toevou en naby haar lyf hê sodat sy kan weet hulle is ok. Ongelukkig is daar baie moederhenne wat vandag ‘n hartseer verhaal het oor haar kuikens wat gekies het om nie by haar te leer hoe om weg te bly van gevaar nie en ook nie by haar skuiling soek nie. Om dan die gevolge van daardie kuikens se verkeerde keuses te aanskou, is hartverskeurend.

 

Jesus het soveel begrip. Hy het Sy eie begeertes en gevoelens teenoor die hardkoppige mense in Jerusalem met dié van ‘n hoenderhen vergelyk. In Matteus 23:37 lees ons: “Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie!”

 

Wanneer die hen 'n roofdier sien aankom, maak sy 'n harde geluid om haar kuikens bymekaar te maak, sodat sy haar vlerke om hulle kan vou en só teen die gevaar kan beskerm. Net soos 'n moederhen haar kroos onder haar vlerke wil wegsteek wanneer daar moeilikheid kom, net so wil God Sy volk teen die gevare van die lewe beskerm deur hulle te nooi om naby Hom te bly. Jesus se woorde aan die einde van vers 37 is egter hartverskeurend: “… maar julle wou nie!”

 

Die geskenk van God om self te kies, is dikwels die oorsaak van ons eie dood. God dwing ons nie om Hom lief te hê en te gehoorsaam nie. Dit bly ons keuse. Net so kan ‘n hoenderhen ook nie haar kuikens dwing om onder haar vlerke in te beweeg wanneer die gevaar dreig nie. Op Moedersdag wil ek jou herinner dat God aan jou spesiale kwaliteite as moeder gegee het om te beskerm en te lei, maar al kies jou kuikens dalk verkeerd, glo ek jy sal, soos Jesus, altyd daar wees as hulle besluit om die veiligheid van jou nabyheid op te soek. 


God, ons Vader, was die Skepper van elke moeder. Elke moeder is dus na God se beeld geskep. Daarom sê ons vandag dankie dat Hy aan ons die kapasiteit gegee het om te beskerm en te lei, maar ook om die verwerping te kan hanteer, soos wat Hy die verwerping van Sy Skepsels steeds elke dag hanteer. 

Om oor na te dink: Is jy ‘n moederhen wat teleurstelling moet hanteer? Hoe word jy vandag deur God vertroos? Is jy ‘n kuiken wat gekies het om nie Sy beskerming te geniet nie? Watter troos en hoop het jy vandag gevind?”

 

“Mammas is so belangrik dat die Vader selfs vir Jesus een hier op aarde gegee het”

(Ontvang van San Kleynsmith).

 

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die kwaliteite van ‘n moederhen wat U in moeders gedeponeer het. Jesus, dankie dat U die hartseer van verwerping ken en dat daar altyd vir ons ‘n veilige plekkie onder U vleuels is. Heilige Gees, herinner ons almal dat hardkoppigheid hartverskeurende gevolge kan hê, maar dat ons kan kies om terug te beweeg na U vleuels van veiligheid. Ons bid in Jesus se Naam. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page