Gedagte vir Vandag
Maandag, 6 Mei 2024
Koos Espach
Paulus word na Feliks toe gestuur (2)
Wie is hierdie Man?
Hand 23:24 – “Die kommandant het die twee kapteins beveel: 24 Sorg dat daar rydiere is, sodat Paulus veilig na Feliks, die goewerneur, oorgebring kan word.”
Dit is tragies dat Paulus se volksgenote hom wil doodmaak, en teenstrydig daarmee, juis die gehate Romeinse onderdrukkers is wat vir reg en geregtigheid staan. Paulus se susterskind het genoeg omgegee om Paulus te waarsku teen die dreigende gevaar en die kommandant neem die seun se berig ernstig op, sonder onmiddellik 470 sodate af onder leiding van twee kapteins, (kaptein = hoofman oor 100), om Paulus na veiligheid in Sesarea te begelei.
Hiermee word die belangrikheid onderstreep van Paulus as Romeinse burger, van die grootheid van die dreigende gevaar van moord en oproer, en van die kwaliteit van die Romeinse maatreëls. Die kapteins moes ook sorg vir rydiere – Paulus se vervoermiddels moes hom veilig na goewerneur Feliks in Sesarea toe neem. Jesus se getuie word vinnig en veilig op Romeinse perde vervoer, terwyl Jesus op ’n nederige donkie, Jerusalem binnegery het (Luk. 19:28-44).
Ons het Sondag 24 Maart, Palmsondag gevier. Jesus se intog in Jerusalem, 2 000 jaar gelede, was ‘n aangrypende gebeurtenis. Lukas skryf vir ons dat Jesus voor Sy dissipels en skare uit geloop het nadat hulle Jerigo verlaat het (Luk. 19:18). Dit was Sy laaste skof van Sy reis as mens op aarde. Jesus kon seker daardie laaste gedeelte van Sy reis ook te voet afgelê het, maar Matteus voeg die Messiaanse profesie van Sagaria 9:9 en Jesaja 62:11 saam om aan die Jode te bewys dat Jesus as die Messias tydens Sy intog in Jerusalem, die waarheid vervul: “Sê vir Sion: Kyk, jou koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op ‘n donkie, op die vul van ‘n pakdier.”
Markus voeg by: Markus voeg by: “’n Jong donkie waarop nog niemand gery het nie” (Mark. 11:2b), sou die gewillige rydier wees van die Seun van God. Al wou Jesus net die vul gehad het, is dit natuurlik dat altwee moes kom want 'n vulletjie laat hom nie sommer sonder die merrie weglei nie. Die vul kan makliker hanteer word as die merrie by is. Ons moet ook onthou, ‘n “donkie waarop nog niemand gery het nie”, is nog nie ingebreek nie en wíld. ‘n Wilde donkie laat niemand op sy rug klim sonder om hom af te gooi nie! Dit is egter ironies dat die Vredevors wat in nederigheid op ‘n vredesending op aarde was, selfs ‘n wilde donkie tot vredevolle nederigheid kon stem.
Perde was oorlogsdiere, simbole van mag. Jesus is wel die Koning wat sou kom, maar anders as die heersers van sy dag, ry Hy nie op ’n oorlogsperd nie, maar ’n donkie, die dier waarop ’n gesant van vrede ry. Hy kom dus as die Bringer van vrede, die vrede van God vir die wêreld van sonde, en Hy doen dit in nederigheid en tog in koninklike heerlikheid.
In ‘n wêreld wat wankel op die rand van ‘n afgrond, lyk dit eintlik naïef om te praat van vrede. Volgens die doemprofete is ons in Suid-Afrika reeds óór die afgrond, binne in die modder! Ons lewe in ‘n wêreld vol angs, vol haat, vol misdaad; probleme o.a. soos moord, korrupsie, werkloosheid, onbekwame regering en onrus is aan die orde van elke dag. Dit blyk ‘n wêreld te wees waar vrede ons bly ontwyk en waar onregverdigheid die normaal geword het.
Het ons nog die reg om vrede te verwag, het dit nie maar net ‘n onbereikbare ideaal, ‘n onbereikbare droom geword nie? Nee, al sou verskeie faktore dit wou bevestig, is die vrede wat Christus skenk ‘n onbetwisbare werklikheid vir elkeen wat God liefhet – “Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal, om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede” (Luk. 1:78-79).
Wanneer Jesus Jerusalem binnekom, val ‘n koninklike ontvangs Hom te beurt. Mense gooi klere in die pad en strooi takkies voor Hom, ander waai palmtakke heen en weer. Jesus se helde-ontvangs lei tot ‘n beroering onder die inwoners van Jerusalem en hulle wou weet “wie hierdie man is?” ‘n Groot deel van die skare wat Jesus al van Galilea af gevolg het, antwoord: “Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!” (Matt. 21:10-11). Hoe sien ek en jy vir Jesus? “Wie is hierdie man?”
Eendag gaan ons saam met ‘n groot skare mense “van elke nasie, stam, volk en taal voor die troon en voor die Lam staan” (Op. 7:9), en aan Hom lof bring en aanbid. Elkeen gaan dan ook verslag moet lewer wat ons met ons lewe op aarde aangevang het. Sal dit nie ‘n voorreg en genade wees om te kan antwoord: “Ons het ons ten doel gestel om agter te kom waar ander mense in hulle geestelike reis staan, en toe die nodige gedoen om hulle ‘n stappie nader te bring sodat hulle ook kon weet “wie hierdie man” is. “Ons het nie ons eie belang gesoek nie, maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word” (1 Kor. 10:33). “Wie is hierdie man?” Ek en jy sê ons ken vir Jesus. Weet ek en jy werklik nog “wie hierdie man is” in vandag se post-moderne eeu? Regtig?
“My Here het my voor mense bely; ek sal nie daarvan terugdeins om Hom voor konings te bely nie”
(Martin Luther).
Gebed: Here, skenk my die genadegawe van nederigheid sodat ek U liefde met ander kan deel en U aan hulle kan bekendstel. Gebruik my as ambassadeur om die blye boodskap uit te dra sodat almal wat ek teëkom, sal weet “wie hierdie Man” is, wie U is, tot U eer alleen. Ek vra dit met danksegging. Amen.
コメント