top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 2 Mei 2024

Koos Espach


Die komplot teen Paulus (3)

 

Gebed fnuik komplotte

 

Hand 23:19-22 – “Die kommandant vat hom toe aan die hand, gaan met hom eenkant en vra vir hom: ‘Wat is dit wat jy my wil vertel?’ 20 Hy het geantwoord: ‘Die Jode het saamgesweer om u te vra om Paulus môre weer voor die Raad te bring, sogenaamd om sy saak noukeuriger te ondersoek. 21 U moet hulle tog nie glo nie, want meer as veertig van hulle wil hom voorlê. Hulle het gesweer dat hulle nie sal eet of drink voordat hulle hom doodgemaak het nie. Hulle sit klaar en hulle wag nou net dat u hulle versoek moet toestaan.’ 22 Die kommandant sê toe vir hom: ‘Moet vir niemand sê dat jy dit vir my vertel het nie.’ En hy het hom toe laat gaan.”

 

Lukas vertel ons nie veel van Paulus se suster en haar seun nie, maar wat wel hier duidelik is, die kommandant gee meer om vir Paulus, as wat sy volksgenote gedoen het. Vir die Jode was Paulus só groot probleem, dat hy deur ‘n moordbende van meer as veertig man om die lewe gebring moes word. Om hulle te help, word die priesterhoofde en die familiehoofde ook by die sameswering betrek (v. 14). In teenstelling daarmee, bevind ‘n Joodse seun hom by ‘n Romeinse hoofoffisier in ‘n vertroulike gesprek. Die kommandant se welwillendheid is van so aard, dat hy die tiener selfs aan die hand neem, soos ‘n pa doen met sy seun. En die Jode se plan om die kommandant te gebruik om Paulus uit die kaserne uit te lok, word gefnuik. (Ek wonder of die moordbende weer begin eet en drink het?)

 

In Paulus se siel het die heerlike boodskap van bemoediging dat hy nog in Rome moet gaan getuig (v. 11), sterker opgeweeg as die boodskap van sameswering om hom uit die weg te ruim. Die Here se verskyning aan hom die vorige nag, was mos nie ‘n skynglans nie, dit was waar, en die Here se woorde was waar. God het nog planne vir Paulus gehad. Sy werk was nog nie afgehandel nie, hy moet nog Rome toe!

 

As God in sy genade bereid was om Paulus uit die hande van ‘n bloeddorstige bende te red, dan kan Hy dit ook vir ons doen. So baie van ons land se mense word elke dag vermoor, kinders verdwyn, mense leef in vrees agter hoë mure. Dié wat dit kan bekostig, installeer die beste veiligheidsisteme denkbaar. Ander emigreer om weg te kom van al die geweld, korrupsie en, noem maar op.

 

Die storie word vertel van ‘n koning se dienskneg wat in die paleistuin gewandel en die ‘dood’ daar ontmoet het. Hy het geweldig geskrik en dadelik die koning gaan vra om vir hom die vinnigste perd en genoeg geld te gee sodat hy Teheran toe kan vlug om weg te kom van ‘dood’ af. Nadat die goeie koning aan sy versoek voldoen het, gaan wandel hy self in die tuin en ontmoet ook vir ‘dood’ daar. Die koning vra toe vir ‘dood’ hoekom hy sy dienskneg so laat skrik het, vertel ‘dood’ hom dat hy eintlik vir die dienskneg wou sê dat hy daardie dag in Teheran met hom ‘n afspraak het, maar die vlugtende dienskneg is te haastig daar weg sonder dat hy van die afspraak kon verneem. Om weg te hardloop is geen oplossing vir ons probleme nie!

 

As Christene moet ons in hierdie tyd van al die ‘oneindige’ probleme in ons land, bid dat God ons land en ons geliefdes sal bewaar. Stephan Joubert stel dit mooi: Ons moet die geweld en korrupsie as’t ware in trurat bid! Alhoewel ons geloof nie ‘n versekeringspolis teen gevare en lyding is nie, soos Paulus ook kon getuig, kan ons beslis tog ook God vertrou dat Hy sy beskermende hand oor ons sal hou. Ons het nog altyd in ’n land gebly waar Christelike beginsels toegepas word. Baie besighede het hulle werknemers toegelaat om die dag met Skriflesing en gebed te begin. In die gange van die parlement is daar vrylik gepraat oor ons Christelike beginsels. By skole was daar selfs een keer per week ’n periode afgestaan vir Christelike byeenkomste en Bybelstudie.

 

Ongelukkig het dit alles verander. Christene het nie meer die binnebaan nie. Inteendeel, ons moet al hoe meer begin ‘baklei’ vir dit waarin ons glo. Dis nie meer ’n gegewe dat almal orals vir ons geloof ruimte gaan hê nie. Hoe sal ons reageer indien ons lewe in gevaar is as gevolg van ons geloof? Al wat ek hierop kan sê, is: “So help my, God!” Ja, bid vandag en elke dag dat die Here saam met ons sal stap. Bid vir ons geliefdes, vir alle ander mense, selfs dié wat anders is. Bid dat die Here se liefde al hoe meer veld sal wen en dat haat en geweld die aftog blaas. Bid dat godsdienstige fanatici en moordbendes se planne gefnuik sal word. Boweal, bid dat God se koninkryk ook hier in ons eie land, en al ons lesers in ander lande, God se koninkryk ook daar, sal kom. God is groter en almagtiger as ál die geweldenaars!

 

“Daar is net een manier om vrees te bowe te kom, en dit is om die dinge wat jou bangmaak in gebed na die Here te neem” (Polycarpus).

 

Gebed: Here, strek asseblief U hand oor my en my gesin uit. Hou ons styf teen U vas. Verander die harde harte van godsdienstige fanatici en bring weer vrede in ons land. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page