Gedagte vir Vandag
Maandag, 22 April 2024
Koos Espach
Paulus voor die Joodse Raad (4)
Ooreenkoms bring begrip en aanvaarding
Hand. 23:9-10 – “’n Hewige woordewisseling het toe ontstaan. ‘n Paar skrifgeleerders van die party van die Fariseërs het opgespring, heftig beswaar gemaak en gesê: ‘Ons het niks teen hierdie man nie. Miskien het daar ‘n gees of ‘n engel met hom gepraat.’ 10 Die rusie het so hewig geword dat die kommandant bang was dat hulle Paulus uitmekaar sou skeur. Daarom het die kommandant sy soldate beveel om hom tussen hulle te gaan uithaal en terug te bring na die kaserne toe.”
Paulus se briljante taktiek het gewerk. Hy het ‘n klip in die bos gegooi oor die opstanding en dit veroorsaak ‘n groot konsternasie in die Joodse Raad. ‘n Hewige woordewisseling het ontstaan en glad nie op ‘n beskaafde manier nie. Dit word ‘n chaotiese bekgeveg tussen die volksvaders van Jerusalem. Elkeen skree sy sê en elkeen wil ‘n hou inkry. Paulus se ‘aanklaers’ word nou sy verdedigers. Die Raad staan nie meer saam teen Paulus nie. Hulle draai nou teen mekaar. As hy kon, sou die hoëpriester ook nou klappe onder die Raadslede uitgedeel het, want dit was vermetel om in die saak teen die ketter Paulus, teenoor mekaar se verskille te fokus.
Vanuit die Fariseërs se geloof in geeste en engele vind hulle ’n halwe ‘ja’ vir Paulus. Hulle gee toe dat ’n engel of ’n gees met hom kon gepraat het op die pad na Damaskus. Hulle is nog nie bereid om te verklaar dat Jesus uit die dood opgestaan het en vanuit sy posisie aan die regterhand van die Vader, met Paulus kon gepraat het nie. Daarom verklaar hulle net dat hulle geen kwaad in hom kon vind nie. Van Joodse kant was dit die beste beoordeling van Paulus.
Ek dink die kommandant het met ‘n grynslag die humoristiese tonele wat voor hom afspeel dopgehou, en seker gewonder wat die klomp Joodjies in Hebreeus of Aramees aan mekaar toesnou. Natuurlik wou hy ook elke teken van oproer onderdruk want die rusie het so hewig geword dat hy bang was hulle sou Paulus uitmekaar skeur. Vir ‘n derde keer gaan haal hy Paulus uit die moeilikheid. Jerusalem se mense het nie geluister nie en eerder die pad van konfrontasie gekies. Dit is wat met Jesus ook gebeur het. Paulus loop dieselfde pad as Jesus. Die Jode wou Jesus dood hê. Hy vergewe hulle egter want hulle het nie geweet wat hulle doen nie (vgl. Luk. 23:34).
Teen negeuur die oggend daardie Vrydag, is Hy wreedaardig vasgekap aan ‘n kruis op Golgota. Jesus se moeë en gebroke liggaam en gestorte bloed, was die regte woorde, ‘n taal wat oorgenoeg was vir alle gelowiges tot in die verste ewigheid. Vir ongeveer ses ure het Hy aan die kruis gehang en kon Hy met ‘n sterwensasem, tóg sewe keer praat.
Asof Sy verskriklike pyn nie genoeg bygedra het dat die lewe stadig uit Hom begin vloei het nie, het die godsdienstige leiers vir oulaas ‘n draai kom maak om hulle “oorwinning” te vier en Jesus ook te spot. Hoe hartseer dat hulle só sonder begrip was. As hulle maar net geweet het dat Jesus op daardie oomblikke besig was om die sondes van die ganse wêreld op Sy skouers te laai. Te midde van die ergste lyding denkbaar, kon Hy steeds nie ophou doen waarvoor Hy aarde toe gekom het nie, naamlik om God se verlore eiendom te soek, te vind en te red.
Jesus se reaksie op “die priesterhoofde, skrifgeleerdes en die familiehoofde se spottery” (Matt. 27:41-43), was nie woede en verbittering nie! In daardie oomblikke van diepe smart, was Sy hart steeds vol vergifnis en demonstreer Hy sy opdrag aan die mensdom wat Hy tydens Sy Bergpreek gegee het: “Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg” (Matt. 5:44). Jesus bid in Sy bittere lyding eers vir ander, nie vir Homself nie. Hy het vergifnis gepreek en met sy kruisiging, vergifnis uitgeleef aan die vloekhout.
Wie is Jesus se vyande? Die maklike antwoord is “hulle” wat saam geskreeu het “kruisig Hom!” Of dalk die Romeinse soldate wat Hom met ‘n doringkroon verneder het en vasgespyker het aan die kruis; of Pilatus, Herodus, Kajafas en die Joodse Raad wat Hom tot die dood veroordeel het; dalk Judas en Petrus; almal wat Hom verneder het, geslaan en gespot het. Gerieflikheidshalwe word die vinger na hulle gewys, hulle is die hulle wat Jesus vra Sy Vader moet vergewe want hulle weet nie wat hulle doen nie.
So pleit Jesus steeds vandag nog vir ons ook by Sý Vader in die hemel, en deur Sy offer het dit ook óns Vader geword (Rom. 8:34). Ons is dus deel van die “hulle”. Die kruis op Golgota is ‘n simbool van vergifnis, dit is waaroor die kruis gaan. Ons het vergifnis nodig, want ons het almal gesondig en daar is ’n kloof tussen God en ons as gevolg van ons sonde wat ons nie op ons eie kan oorsteek nie. Jesus het die prys kom betaal met Sy lewe, met Sy liggaam en Sy bloed, sodat ons vry kan wees, sodat ons verhouding met God herstel kan wees: “Want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes” (Matt. 26:28). Dankie tog Jesus!
“Jesus se bloed by Golgota het vir altyd ‘n streep deur menslike bloedvergieting geplaas” (Stephan Joubert).
Gebed: Heilige Jesus, dankie dat U vir my gebid het lank voor my verlossing en nog steeds vir my intree by ons Vader. Dankie dat U juis intree wanneer ek so maklik deur my sonde U weer en weer aan die kruis vasspyker. U het om my ontwil uit liefde uit, U lewe as ‘n offergawe gegee by Golgota. Dankie dat U my met hierdie kruiswoord geleer het om nie net vergifnis te ontvang nie, maar om vergifnis ook te gee. Laat ek mense liefhê ten spyte van hulle houding teenoor my. Amen.
Comments