Gedagte vir Vandag
Donderdag, 11 April 2024
Koos Espach
Paulus vertel van sy bekering (9)
Wees dapper vir die waarheid
Hand. 22:21 – “Toe het die Here vir my gesê: Jy moet hiervandaan weggaan, want Ek wil jou ver weg stuur, na die heidene toe.”
Paulus het met sy eerste besoek aan Jerusalem, net na sy bekering in Damaskus, gehoop die Jode sou wou weet wat hom destyds van siening en geloof laat verander het en na hom sou luister. Hy vertel dit nou ter verdediging van homself, aan die oproerige Jode om te kyk of húlle nie sy nuwe pad wil aanvaar nie; veral in die lig van sy twee visioene van die opgestane Christus wat sy lewe verander het en sy sonde vergewe het. En ..., toe moes hyself luister, én sy hoorders ... dis toe die Here wat spreek. Die Here se antwoord destyds op sy argumente was: “Jy moet hiervandaan weggaan, want Ek wil jou ver weg stuur, na die heidene toe.”
Ironies het Paulus daar op die trappe van die Romeinse kaserne, juis tussen Jodedom en heidendom gestaan toe hy sy ‘sendingbevel’ van Jesus ontvang het – by die Joodse heiligdom die tempel, op die trappe van die heidense kaserne. Terwyl die apostels wat Jesus se dissipels was, in Jerusalem gebly het en met werk onder die Jode voortgaan, is dit Paulus wat uitbeweeg “na die heidene” toe. Paulus het net een rigting, dit is om Christus te verkondig “tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand. 1:8).
Tydens sy drie sendingreise was sy uitgangspunt: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood” (Rom. 1:16). Hy begin altyd by die sinagoge en redeneer eers met die Jode om hulle te oortuig dat Jesus die Messias is – “Paulus het hom voorgeneem om met hulle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde” (1 Kor. 2:2). Daarna het hy op die heidene gekonsentreer.
Vir talle mense was die kruisiging van Jesus ‘n skande, ‘n aanstoot en vernedering, want die kruis was die teken van God se vloek oor iemand (Deut. 21:23b). Vir die Jode was dit onmoontlik dat verlossing bewerkstellig kon word deur iemand wie die vloek van God gedra het – (As hulle maar net kon verstaan dat Christus juis vir húlle die vloek só moes dra sodat hulle vrygespreek kon word.)
Vir die Grieke was dit onsin (Hand. 17:32); Jesus se eie broers het aanstoot in Hom geneem en met Hom gespot (Joh. 7:3-5); Jesus se eie mense in Nasaret het aanstoot geneem en wou Hom stenig (Mark. 6:1-6); die godsdienstige leiers (Fariseërs en skrifgeleerdes) het aanstoot geneem omdat Hy hulle die waarheid vertel het (Matt. 15:8-12); baie van Jesus se volgelinge was afgeskrik oor die dieper dinge van die evangelie wat Hy gepreek het, en het Hom verlaat (Joh. 6:57-66). Daarteenoor kom Paulus en bely dat hy nie “skaam is oor die evangelie nie ...”
Christene is nie verlos om geheime Christene te wees nie. Ek en jy kan ons nie skaam oor die evangelie nie. Ons geloof is nie iets wat privaat is nie, want Jesus het nie vir ons in die geheim of privaat aan die kruis gesterf nie, maar daar waar almal Hom kon sien, en vir álmal! As gelowige dissipels moet ons “lig voor die mense skyn” (Matt. 5:36), in ons woorde en werke buite die kerkgebou se mure, oral waar ons ons bevind. Ons taalgebruik moet ‘n lig wees wat donkerte verplaas en nie inpas by die donkerte wat ons omhul nie.
Ons moet aan die wêreld wys dat God se Woord ‘n verskil in ons maak. Die wêreld van ongeredde mense het lig nodig en ons as “ligdraers” van Christus, moet daardie lig wees. Jesus het ons verlos om die wêreld te belig met die evangelie. Die moeilikste is om dit woordeliks oor te dra, veral aan diegene wat dit onwelkom vind. Ons moet egter getrou bly aan ons opdrag en Jesus het belowe dat “ons krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom en ons Sy getuies in die wêreld is” (Hand. 1:8).
Ons goeie werke moet gesien kan word, sê Jesus. Dit moet nie net goed wees nie, maar iets wat ander bekoor. Dit moet “ons Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Matt. 5:16b). Rondom ons is daar oral mense wat ook die lig van Christus nodig het: die buurman, die petroljoggie, die sekuriteitswag, die karwag, die skoolvriend, daardie familielid wat nooit kom kuier nie, enigeen wat ons pad kruis. As hierdie mense Christus nie ken nie, gaan hulle in die donker bly. Ek en jy wat die Ligbron ken, moet dit nie weerhou van hulle nie – dis ‘n kwessie van lewe en dood!
“As Christus in ons is en ons persoonlikheid beheer, sal ons suiwer afdrukke laat op die lewens wat ons aanraak; nie vanweë ons besondere karakters nie, maar vanweë Syne” (Eugenia Price).
Gebed: Gees van God, gee my die moed om altyd ‘n kragtige getuie van die boodskap van verlossing deur Jesus Christus te wees. Amen.
Comments