Gedagte vir Vandag
Maandag, 18 Maart 2024
Koos Espach
Paulus vertel van sy bekering (1)
Geloof in die storm
Hand. 22:1-5 – “Broers en vaders, luister na wat ek nou tot my verdediging vir julle wil sê.' 2 Toe hulle hoor dat hy Hebreeus praat, het hulle nog stiller geword. 3 Hy gaan toe voort: ‘Ek is ‘n Jood wat in Tarsus in Silisië gebore is, maar ek het hier in Jerusalem grootgeword. As leerling van Gamaliël is ek volgens die streng opvatting van die wet van die voorvaders opgevoed, en ek was net so ‘n kampvegter vir God soos julle almal vandag is. 4 Ek wou die mense wat die leer van Christus volg, totaal uitroei. Mans sowel as vrouens het ek gevange geneem en in tronke laat stop. 5 Dit kan die hoëpriester en die hele Joodse Raad bevestig. Van hulle het ek selfs bekendstellingsbriewe aan die Joodse broers in Damaskus gekry om ook daar hierdie mense in hegtenis te gaan neem en Jerusalem toe te bring om gestraf te word.”
Paulus is in Jerusalem op die trappe van die Romeinse Fort Antonio aan die woord. Anders as gewoonlik in sulke omstandighede, heers daar ‘n stilte wanneer hy praat. Anders as gewoonlik word Paulus die kans gegun om sy saak te stel. Die Jode luister aandagtig na dieselfde Paulus wat hulle kort tevore seker sou gestenig het indien die Romeinse kommandant nie ingegryp het nie. Hy is pas gruwelik mishandel, seker nog vol bloed en blou kolle en steeds in kettings. Hy gaan staan bo op die trappe – ‘n gevaarlike preekstoel – rondom hom Romeinse soldate met glimmende spiese en onder hom, die Joodse gepeupel wat sy bloed soek.
Paulus stel homself bekend deur sy afkoms, geboorteplek, sy rol en vroeë status in die Joodse godsdiens te vermeld. Hy spreek hulle aan as ‘broeders en vaders!’ Nooit! Is dit die woorde van ‘n martelaar? Hoe kan jy Paulus, sou ons miskien vra? Dis dieselfde mense wat jou pas uit die tempel gesleep het, op jou getrap en geskop het, geslaan het en wou dood maak! Die stilmaker is Jesus Christus: “Hulle sal julle oorlewer vir verhoor ... Dit sal vir julle ‘n geleentheid wees om van My te getuig. Stel julle dus daarop in om julle nie vooraf oor julle verdediging te kwel nie, want Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee wat deur geeneen van julle teenstanders teengespreek of weerlê kan word nie” (Luk. 21:12-15).
Kom ons val met ‘n paar moeilike vrae by die deur in: Hoeveel pyn is ek en jy bereid om te vat vir ons geloof? Tot watter punt is ons bereid om gemartel te word vir ons geloof, of nog erger, is ons bereid om te sterf vir ons geloof? Sal ons bereid wees om ons kinders en geliefdes se marteling en dood te aanskou vir ons geloof?
Sjoe, dis moeilike vrae en ek is huiwerig om ‘n antwoord te waag, want sê nou maar net ek kom een of ander tyd wél voor so ‘n kruispad in my lewe! Luister net na hierdie wonderlike getuienis van Paulus. Soos die Engelse sê: He practiced what he preached: 10 “Daarom gee ek nie om om swaar te kry nie. Ek doen dit ter wille van die mense wat God gekies het. So kan hulle saak met God ook reg wees omdat hulle Jesus s’n is en kan hulle voel hoe wonderlik dit is om ‘n Christen te wees. (Die Boodskap). 11 Dit is ‘n betroubare woord: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe; 12 as ons in geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer” (2 Tim. 2:10-12).
Ek weet nie van julle nie, maar met die lees van só ’n getuienis, voel ek sommer sleg omdat ek nie hierdie tipe swaarkry ken nie. Nêrens in ons lewens is daar sprake van hierdie vlak van swaarkry nie. Ons is deel van ’n wonderlike geloofsgemeenskap waar ons vrylik vir God kan aanbid. Niemand kyk ons skeef aan wanneer ons oop en bloot met ons netjiese klere na ’n gebou ry om kliphard God se lof te besing nie. Die probleem is egter dat wanneer dit goed gaan, ons eintlik nie meer vir God nodig het nie. Of só dink ons. Ons dink ons kom eintlik goed op ons eie reg en dan sluip ons geloof by die agterdeur uit. En satan is heel tevrede.
Die storie word vertel van ‘n seuntjie wat rustig in sy pa se kajuit gespeel het terwyl ‘n storm buite woed en die skip gevaarlik kantel. Iemand vra hom toe hoe hy so rustig kan speel terwyl almal in lewensgevaar verkeer. Sy antwoord was kinderlik-gelowig: “My pa is die kaptein van hierdie skip. Waarom sal ek dan bang wees?” Net so behoort die storms in ons lewe te bedaar wanneer Christus teenwoordig is. Ons hoef nie magteloos in ‘n storm rond te dobber nie. Te midde van storms wat om ons woed, behoort ons só ‘n geloof te behou soos Paulus en hierdie seuntjie. Wanneer die storms van die lewe dreig om ons onder te kry, is daar vrede en vertroosting in die wete dat die Here deur sy Gees by ons is. “Waarom is ons dan bang? Het ons dan nie geloof nie?” (Mark. 4:40). In elke storm wat dreig om ons uitmekaar te skud, gee die Here vir ons ‘n vrede waarvan geen storm op aarde ons kan beroof nie.
“The goodness of the Lord is stronger than evil; His love is stronger than hate; His light is stronger than darkness; His life is stronger than death; His victory is ours through Him who loves us” (Desmond Tutu).
Gebed: Ons dierbare Vader, dankie dat U by my is wanneer ek vrees vir die onbekende storms en seerkry. Help my om passievol aan U vas te klou, positief op my swaarkry te reageer, nie om moedeloos te raak nie en te besef dat U my nooit alleen sal laat nie. Amen.
Comments