top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 16 Februarie 2024

Koos Espach


Paulus se reis na Jerusalem (2)

 

Eers bid

 

Hand. 21:4-6 – “Ons het die gelowiges daar opgesoek en sewe dae by hulle gebly. Deur die Gees gelei, het hulle vir Paulus gesê om nie Jerusalem toe te gaan nie. 5 Maar toe die sewe dae verby was, het ons verder gereis, en hulle is almal met hulle vrouens en kinders saam met ons tot buitekant die stad. Ons het op die strand gekniel en gebid 6 en van mekaar afskeid geneem. Daarna het ons aan boord gegaan, en hulle het omgedraai huis toe.”

 

In Tirus waar die skip sy vrag afgelaai het, het Paulus-hulle afgeklim. Hulle het die gelowiges in hierdie groot handelstad opgesoek en sewe dae by hulle gebly. Paulus het die week wat die skip vrag aflaai en oplaai, benut om die gemeente daar se geloof te versterk. Toe die skip gereed was om te vertrek, het die hartroerende afskeidstoneel van Milete hom herhaal (20:37-38). Al die Christene, vrouens en kinders ingesluit, het saam met hulle tot buitekant die stad gegaan, op die strand gekniel, gebid en van mekaar afskeid geneem.

 

Die Christene in Tirus was nie ou vriende van Paulus soos die ouderlinge van Efese nie. Paulus was immers dieselfde man wat veroorsaak het dat hulle uit Jerusalem moes vlug! Maar, liefde is die sterkste band, liefde vergeet en na ’n week was hulle groot vriende, broers en susters in Christus. Sal ons dieselfde kan doen om só maklik te kon vergeet en selfs te vergewe? O wee, ek is bevrees, ons vergeet so moeilik as ander mense lelike dinge aan ons gedoen het. Ek sluit myself hierby in. Ons sê ons vergewe en vergeet, maar wil darem eers net vir ander ook vertel wat die ‘onregverdiges’ aan ons gedoen het. Selfs jare daarna onthou ons nog steeds in die fynste detail, hoe mense ons verontreg het.

 

In 1 Korintiërs 13:5 sê Paulus aan die gelowiges in Korinte, én alle gelowiges van vandag, dat God se soort liefde vergeetagtig is – dit hou nie boek van die kwaad nie. Daardie swart notaboekie wat ons êrens in ons agterkop bêre om al die onreg wat mense aan ons gepleeg het, word opgeskeur. Hoekom? Eerstens vergeet God ons sonde wanneer ons dit bely. As Hy sê Hy verwyder dit so ver soos wat die Ooste van die Weste af is, bedoel Hy elke woord daarvan. Tweedens weet ons dat God met sy Golgotakruis steeds elke dag aan die werk is om die wrokke wat ons teen ander het, uit te vee. Die vermoë om te haat word uit ons sisteem verwyder en met God se liefde vervang.

 

God se liefde verander almal wat daaraan deel kry. Die gemeente in Tirus het daardie dag met Paulus se afskeid, hulle biduur in ‘n kerk verskuif en sommer op die strand gehou. Ek sien in my geestesoë hoe selfs die kindertjies se knieë dieper in die sand inboor as wat nodig is. Eers bid voor afskeid geneem word. Indien daar nog iets in die agterkop van die Jerusalem-vlugtelinge was oor die foute wat Paulus gemaak het, was dit vergete. Hulle het hulle lewe aan die Here gewy, en buitendien, wie sondig nie? 3 “As U ons sondes in aanmerking neem, Here, wie sou dan nog bestaan? 4 Maar by U is daar vergifnis: daarom word U steeds gedien” (Ps. 130:3-4). Hoe nader ons na die Lig kom, hoe makliker sien ons wat verkeerd is!

 

Gebed moet net so ‘n natuurlike deel van ons lewe wees as om asem te haal! Ons het dit al gesê, maar wil dit weer sê: Gebed is lof aan God. Ons wil graag sy Naam groot maak, Hom loof en prys. Nie net in die kerk nie, maar juis buite, selfs op die strand, restourant, in die motor, oral. Maar gebed vra ook voorbidding vir ander, soos hierdie groepie Tirus-Christene vir Paulus gebid het. Dit is ‘n onuitspreeklike genade om vir ander voorbidding te kan doen want dis ‘n groot eer om by God sy seëninge af te bid oor mense – seën waaraan hulle self nie eers aan gedink het nie.

 

Dis ook ‘n voorreg om in gemeenskap met ander gelowiges saam in die gebed te stry totdat oorwinning behaal word oor ons aardse moeilikhede, selfs oor die magte van die duisternis. Eeue gelede het Jesaja die inwoners van Jerusalem aangemoedig om hulle tot God te rig: “Julle wat die Here aan sy beloftes moet herinner, julle moenie stilbly nie” (Jes. 62:6). Hulle moet dag en nag voorbidding vir die stad doen totdat God ingryp en Jerusalem herstel het. Net so kan ons ook voorbidding doen dat God ingryp in Suid-Afrika en ons land weer herstel. Dit is immers nog steeds dieselfde God van Jesaja en Paulus se tyd. Almal wat sonder God leef, kan niks anders as ellende beleef nie. Dis nie wat ek sê nie, God rig hierdie waarskuwing aan die goddelose (Jesaja 66:24).

 

Ons het miskien te lank aan gebed gedink as ‘n middel vir ons eie behoeftes, maar ons kan met vrymoedigheid na God gaan en met Hom ‘gesels’ oor ons land se probleme. Hy ken reeds ál die feite, maar Hy wil dit graag van ons sélf hoor. Hy wil graag my en jou stem hoor. Wanneer ons voor God kniel om sy hulp te soek en leiding af te smeek, kan ons ál ons bekommernisse voor Hom neerlê. En ons moet sorg dat ons in sy teenwoordigheid só stil word ... totdat ons sy stem kan hoor en ons onderwerp aan sy volmaakte wil.

 

“Gebed is nie ‘n nuttelose poging om die wil van God te probeer verander nie, dit is ‘n kinderlike begeerte om God se wil te leer ken en dit te gehoorsaam” (George Buttrick).

 

Gebed: Dankie dat U die Hoorder en Verhoorder van gebed is. U ken elke kind van U op die naam én al ons behoeftes oor ons land wat in ‘n gemors is. Uit die dieptes van wanhoop roep ons na U: Here, help ons! Hoor ons noodkreet, o God! Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page